Ek het rus gevind. – Pelgrimslied van Dawid – Psalm 131 Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy Moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Isreal, nou en vir altyd. Kom ons kyk gou na Dawid se lewe. Hy was geseën deur die Here en het ‘n baie goeie lewe gelei tot dié dag wat sy gehoorsaamheid misluk het en hy aan sy eie drange toegegee het om met sy vriend se vrou te slaap en sy verleentheid hom gedryf het om sy vriend se dood te beplan. Hierdie ongehoorsaamheid verpletter sy hele gesin en die gevolge is hartverskeurend. Sy een seun verkrag sy dogter en die ander seun maak daardie seun dood en boonop probeer dié seun sy eie pa, Dawid, doodmaak! Dawid vlug vir ‘n tyd weg van sy huis en moes heeltyd oor sy skouer kyk. Hy besef wel dat hy gesondig het en vra die Here om vergifnis. Die Here vergewe hom en Dawid leer weer hoe om sy rus in die Here te vind wat die gevolg het dat Dawid weer terugkeer na sy huis en in rus en vrede lewe met die wil om gehoorsaam te bly aan God. As ek so na die wêreld en sy dinge kyk sien ek dieselfde afspeel as wat 2000 en 4000 jaar terug afgespeel het. Mense raak selfgesentreerd en draai weg van God en pleeg soveel sonde dat die wêreld in seer en vrees en rou gedompel word. Die Here sê dit wel oor en oor oor die eeue heen dat ons ons rus in Hom moet vind. Sit af die nuus wat net oor die slegte berig en gaan soek goeie nuus om te lees of kyk. Raak vandag rustig en praat met God oor jou bekommernisse.
Lewe deur die Gees
Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur Sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, ons wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. Romeine 8:1-4 Ek het die laaste tyd baie geworstel met die konsep van ons is nikswerd omdat ons niks sonder God is nie . Daar is sommige mense wat jou wil laat glo dat jy absoluut niks beteken nie, want God is alles en jy moet vir hom ‘n slaaf wees en niks anders doen nie. Ek stem nie saam nie! Ek glo jy moet God met jou hart en siel dien. Beslis ja! Hy het ons ook die keuse gegee om Hom Sy verlossing deur Sy Seun te aanvaar of nie. Ek kies natuurlik verlossing en laat my deur die Gees lei. Dis is juis die rede hoekom ek dink ons goedgenoeg is! God het Sy enigste Seun gestuur om vir ons sondes te kom sterf sodat ons gered kan word! Hoe kan mens dink jy is nie goed genoeg nie!?! Ek besef dat ons nou nie hoogmoedig daaroor moet wees nie, maar in dankbaarheid leef en besef dat jy goed genoeg is om geliefkoos te word! Ek lees onlangs ook in Dr. Arnold Mol se boek: Dink Nuut Leef Nuut dat die duiwel jou karakter aanval en jou sleg wil laat voel oor jouself en nie die verkeerde keuse wat jy moontlik gemaak het nie. Die Heilige Gees laat jou besef jy het nou ‘n verkeerde besluit gemaak om daardie leuen te vertel en as jy dit regstel is dit verby en jou skuldgevoel verdwyn, terwyl die duiwel jou die hele tyd wil herinner aan dit wat jy gedoen het en die leuen by jou opbring dat jy nie goed genoeg is nie omdat jy ‘n leuen vertel het. Ons moet oppas vir ons gedagtes en dit in ‘n pad stuur wat positief is omdat die negatiewe negatiewe gevolge sal voortbring.