Vaste Fondament

Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ineengestort nie, want die fondament was vas op rots.  Matteus 7:24-25 Wanneer jy die besluit maak om jou lewe oor te gee aan die Here en weg te draai van die verslawing van wêreldse dinge beteken dit nie dat alles reg gaan loop nie. Inteendeel maak dit die duiwel so kwaad dat hy enige iets oor jou pad gaan gooi om jou weer weg te draai van die goeie verhouding wat jy besig is om met die Here te bou. Wanneer jy jou verhouding met die Here so versterk het dat jy presies weet wat reg en verkeerd is in elke situasie wat oor jou pad kom raak dit makliker om die regte besluite te neem en basies vir die duiwel voetsek te sê. Jy kan baie meer dinge op jou skouers laai en ook meer mense bystaan omdat jou denke vernuwe is om beter te kan funksioneer onder druk en keuses te maak. Na ‘n jaar of selfs 10 kyk jy terug en sien hoe die Here jou hand die hele tyd vasgehou het. In die situasie is dit nie altyd moontlik om dit te voel of sien nie, maar ek het al terggekyk en besef hoe ek onwetend ‘n hand gehad het wat my gehelp het. Gaan reflekteer bietjie oor die laaste 10 of 20 jaar en kyk na situasies wat jy moontlik ‘n hand gehad het wat jou gehelp het.  Die enigste vaste fondament of goeie rots van ‘n fondasie wat mens nodig het is ‘n sterk verhouding met God. 

Wees op julle hoede

Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie. “Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.” Matteus 24:42-44 Ek lees die afgelope tyd die boek Jesus Freaks wat heelwat verhale bevat oor mense wat nie ingegee het wanneer hulle voor ‘n raad gestaan het om Jesus te verloën nie. Hulle het gekies om vir Jesus ‘n marteldood te sterf.  Dit verstom my dat dit nogsteeds gebeur! Ons is so bevoorreg om in ‘n land te bly waar ons Paasfees en kersfees mag vier; waar ons kerk toe mag gaan en openlik God se naam mag verkondig.  Ek huil soms wanneer ek van die verhale lees. Die een wat my die meeste getref het is waar ‘n gesin Jode weggesteek het tydens Hitler se slagting met die tweede wêreldoorlog. Die vrou en haar gesin het geweier om toe te gee met inligting oor waar hulle die mense weggesteek het. Sy is telkemale deur die gesig geslaan en gemartel maar het nie ingegee nie. Sy was vas oortuig dat dit die regte ding was om te doen omdat die Here van ons verwag dat ons sy mense beskerm teen diè wat iemand anders aanbid en uitbuit of onnodig doodmaak. Sy het uitendelik haar gesin verloor en het in die konsentrasiekamp steeds vrouens bemoedig. Sy is later vrygelaat en die res van die vrouens is doodgemaak. Later besef sy haar vrylating was vanweë ‘n administatiewe fout. Sy het Duitsland verlaat, maar jare later teruggekom om haar storie te vertel en mense te bemoedig om Jesus te volg. Sy het ook een van haar martelaars herken en die man het in trane uitgebars en haar om vergifnis gevra en tot die besef gekom dat Christus die ware geloof is. Sy het hom vergewe en haar roeping verder uitgeleef. Sal ek dit kan doen? Sal jy dit kan doen?  Dis iets wat ek hoop die Here nooit voor my deur kom sit nie. Soos ek nou hier sit val daar weer ‘n traan en ek besef ek is so geseënd met alles wat die Here al vir my gegee het en ook die wondere wat net Hy kan verrig.  Wees bedag vir die duiwel en sy leuens oor jou en ander. Leef God se naam uit ten spyte van die opinies van ander. God is ons lewende water, nie mense en hul dinge nie.

Die Belydenis van Petrus

15“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” 16Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” 17“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. 18En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. 19Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.” Dit is vir my opvallend dat die dinge wat ons op aarde doen so groot invloed het op die hemelse. Ons besef nie aldag hoe gelukkig ons is dat Jesus vir ons sondes kom sterf het nie. Dit voel soms nogsteeds onwerklik.  Ons moet daarna streef om Sy wil uit te leef deur te let op wanneer ons sonde doen en dit dadelik te bely en goedhartig op te tree aan ons naaste. Niemand was nog ooit perfek nie en ek is beslis ook nie. Jesus het geweet Petrus sou sy Naam uitbasuin en alle mense van Hom vertel en dit nog voordat Petrus die haan hoor kraai het.  Wanneer jy na die waarheid soek en ‘n pad stap met die Here beteken dit nie dat die pad net perfek en mooi gaan wees nie. Mens word getoets en uitgeput. Daar kom mense oor die pad wat vreeslik lelik kan wees, maar deur dit als moet ons fokus op die eindstreep wees: God, Jesus, Hemel. Die res en die wereld sal vergaan, maar die Here wat alles gemaak het gaan bly staan. Fokus dus op die goeie en hou aan met die pad saam God.