Vind Rus in die Here
Ek het rus gevind. – Pelgrimslied van Dawid – Psalm 131
Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy Moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Isreal, nou en vir altyd.
Kom ons kyk gou na Dawid se lewe. Hy was geseën deur die Here en het ‘n baie goeie lewe gelei tot dié dag wat sy gehoorsaamheid misluk het en hy aan sy eie drange toegegee het om met sy vriend se vrou te slaap en sy verleentheid hom gedryf het om sy vriend se dood te beplan. Hierdie ongehoorsaamheid verpletter sy hele gesin en die gevolge is hartverskeurend. Sy een seun verkrag sy dogter en die ander seun maak daardie seun dood en boonop probeer dié seun sy eie pa, Dawid, doodmaak!
Dawid vlug vir ‘n tyd weg van sy huis en moes heeltyd oor sy skouer kyk. Hy besef wel dat hy gesondig het en vra die Here om vergifnis. Die Here vergewe hom en Dawid leer weer hoe om sy rus in die Here te vind wat die gevolg het dat Dawid weer terugkeer na sy huis en in rus en vrede lewe met die wil om gehoorsaam te bly aan God.
As ek so na die wêreld en sy dinge kyk sien ek dieselfde afspeel as wat 2000 en 4000 jaar terug afgespeel het. Mense raak selfgesentreerd en draai weg van God en pleeg soveel sonde dat die wêreld in seer en vrees en rou gedompel word. Die Here sê dit wel oor en oor oor die eeue heen dat ons ons rus in Hom moet vind.
Sit af die nuus wat net oor die slegte berig en gaan soek goeie nuus om te lees of kyk.
Raak vandag rustig en praat met God oor jou bekommernisse.