Lewe deur die Gees
Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur Sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, ons wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.
- Romeine 8:1-4
Ek het die laaste tyd baie geworstel met die konsep van ons is nikswerd omdat ons niks sonder God is nie . Daar is sommige mense wat jou wil laat glo dat jy absoluut niks beteken nie, want God is alles en jy moet vir hom ‘n slaaf wees en niks anders doen nie.
Ek stem nie saam nie! Ek glo jy moet God met jou hart en siel dien. Beslis ja! Hy het ons ook die keuse gegee om Hom Sy verlossing deur Sy Seun te aanvaar of nie. Ek kies natuurlik verlossing en laat my deur die Gees lei.
Dis is juis die rede hoekom ek dink ons goedgenoeg is! God het Sy enigste Seun gestuur om vir ons sondes te kom sterf sodat ons gered kan word! Hoe kan mens dink jy is nie goed genoeg nie!?! Ek besef dat ons nou nie hoogmoedig daaroor moet wees nie, maar in dankbaarheid leef en besef dat jy goed genoeg is om geliefkoos te word!
Ek lees onlangs ook in Dr. Arnold Mol se boek: Dink Nuut Leef Nuut dat die duiwel jou karakter aanval en jou sleg wil laat voel oor jouself en nie die verkeerde keuse wat jy moontlik gemaak het nie. Die Heilige Gees laat jou besef jy het nou ‘n verkeerde besluit gemaak om daardie leuen te vertel en as jy dit regstel is dit verby en jou skuldgevoel verdwyn, terwyl die duiwel jou die hele tyd wil herinner aan dit wat jy gedoen het en die leuen by jou opbring dat jy nie goed genoeg is nie omdat jy ‘n leuen vertel het.
Ons moet oppas vir ons gedagtes en dit in ‘n pad stuur wat positief is omdat die negatiewe negatiewe gevolge sal voortbring.