Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur Sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, ons wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. Romeine 8:1-4 Ek het die laaste tyd baie geworstel met die konsep van ons is nikswerd omdat ons niks sonder God is nie . Daar is sommige mense wat jou wil laat glo dat jy absoluut niks beteken nie, want God is alles en jy moet vir hom ‘n slaaf wees en niks anders doen nie. Ek stem nie saam nie! Ek glo jy moet God met jou hart en siel dien. Beslis ja! Hy het ons ook die keuse gegee om Hom Sy verlossing deur Sy Seun te aanvaar of nie. Ek kies natuurlik verlossing en laat my deur die Gees lei. Dis is juis die rede hoekom ek dink ons goedgenoeg is! God het Sy enigste Seun gestuur om vir ons sondes te kom sterf sodat ons gered kan word! Hoe kan mens dink jy is nie goed genoeg nie!?! Ek besef dat ons nou nie hoogmoedig daaroor moet wees nie, maar in dankbaarheid leef en besef dat jy goed genoeg is om geliefkoos te word! Ek lees onlangs ook in Dr. Arnold Mol se boek: Dink Nuut Leef Nuut dat die duiwel jou karakter aanval en jou sleg wil laat voel oor jouself en nie die verkeerde keuse wat jy moontlik gemaak het nie. Die Heilige Gees laat jou besef jy het nou ‘n verkeerde besluit gemaak om daardie leuen te vertel en as jy dit regstel is dit verby en jou skuldgevoel verdwyn, terwyl die duiwel jou die hele tyd wil herinner aan dit wat jy gedoen het en die leuen by jou opbring dat jy nie goed genoeg is nie omdat jy ‘n leuen vertel het. Ons moet oppas vir ons gedagtes en dit in ‘n pad stuur wat positief is omdat die negatiewe negatiewe gevolge sal voortbring.
Riglyne vir die Christelike lewe
Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here. “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. Romeine 12:9-21 Hoe maklik is die bogenoemde nie? As onsself net kan inspan om liedevol op te tree kan ons maklik die boonste riglyne volg, maar en dis ‘n groot maar dit raak moeilik wanneer emosies ons dryf. Ek bedoel hoe kan jy van my verwag om my vyand kos te gee of iemand te vergewe wat my erge leed aangedoen het? Vir my is dit baie moeilik om dit te doen en tog vra die Here ons moet! Ek probeer aan my emosies werk om minder kwaad te word en as ek doen om die kwaad in ‘n goeie rigting te stuur soos byvoorbeel: as ek kwaad word vir die mense aan die stuur van ons land neem ek daardie kwaad en kyk waar ek op grondvlak betrokke kan raak om mense om my te help om dit wat ek voel te bekamp al vat dit baie lank en moet jy deel raak van ‘n groep wat saam oplossings vind en sodoende in ‘n volhoubare goeie manier opstaan teen dit wat ons kwaad maak. Om liefde uit te straal is maklik wanneer dit goed gaan, maar dit word behoorlik getoets wanneer dinge sleg gaan. Ek dink die resep vir sukses lê daarin om eers jou emosies onder beheer te kry en deesdae praat ek met God. Ek sê presies wat ek op daardie oomblik voel en word dan rustiger en kan nugter dink nadat ek eers alles van my hart af gekry het. Gaan probeer dit die week. Elke keer wanneer jy ‘n baie goeie emosie ervaar sê vir God dan en daar dankie en elke keer wanneer jy ‘n slegte emosie ervaar sê vir God. Dit kan so eenvoudig wees soos jy beleef angs en jy sê vir God: “help!”. Probeer ‘n gesprek met God voer gedurende jou dag soos dinge gebeur ek kyk hoe dit jou gemoed en verhouding met Hom verander.
Dood vir die sonde, maar lewend vir God
Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in Sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook julle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar weer lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade. Romeine 6:1-14 Voel jy ook gereeld skuldig dat jy sondige neigings het? Dankie tog Jesus is ons enigste Verlosser en nie meer ‘n boek met wette wat gehoorsaam moet word om hemel toe te gaan nie! Ek raak soms negatief en dink “wat sal die mense wat my 15 jaar terug geken het nou van my dink?” Ek meen ek verklaar nou dat ek Jesus se volgeling is en is nie skaam of bang om dit nou op die mou te dra nie, maar so 15 jaar terug se gedrag het ‘n heel ander prentjie geskep. Glad nie ‘n rolmodel nie! Ek sou liewer mense in die afgrond in help as hul net na my leefstyl sou kyk. Dis wat die duiwel kom doen: hy kom om jou leuens te vertel; om jou sleg te laat voel en te herinner aan die letsels wat jy oorhou van daardie verlore dae. Gelukkig kon ek my pad terug vind na God en tot die besef kom dat Hy my onvoorwaardelik lief het. Hy kom en gooi my “ou koeie” in die sloot en herinner my dat dit daar gevrot het en deur die kraaie en hyenas opgevreet is! “N Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” – Joh. 10:10 Ek kyk onlangs ‘n preek van Andries Vermeulen – Onthou die Eend – waar hy vertel van die seun wat die kosbare eend met sy kettie doodskiet. Sy sussie en ouma sien die daad. Die sussie kom en herinner hom aan sy “sonde” en boelie hom daardeur om haar take te verrig. Die ouma bly stil en wag geduldig totdat die seun uiteindelik genoeg gehad het en sy “sonde” aan haar verklaar. Haar reaksie was dat sy verbaas was dat hy so lank toegelaat het dat sy sussie hom boelie. Andries verduidelik verder as iemand vir jou kom sê: “onthou die eend” moet jy onthou dat die Here sê: dit is afgehandel! Ons moet dalk fokus op die hier en nou en die pad wat ons vorentoe kies. Gooi die onnodige bagasie wat jy moontlik nog ronddra weg en kyk op. Jesus is ons enigste Herder wat genadiglik ons sonde op Hom geneem het. Leef vir Hom en weet dat jy verlos is van dit wat jou terughou om die beste weergawe van jouself te wees!