Dood vir die sonde, maar lewend vir God

Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in Sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook julle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar weer lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade. Romeine 6:1-14 Voel jy ook gereeld skuldig dat jy sondige neigings het? Dankie tog Jesus is ons enigste Verlosser en nie meer ‘n boek met wette wat gehoorsaam moet word om hemel toe te gaan nie! Ek raak soms negatief en dink “wat sal die mense wat my 15 jaar terug geken het nou van my dink?” Ek meen ek verklaar nou dat ek Jesus se volgeling is en is nie skaam of bang om dit nou op die mou te dra nie, maar so 15 jaar terug se gedrag het ‘n heel ander prentjie geskep. Glad nie ‘n rolmodel nie! Ek sou liewer mense in die afgrond in help as hul net na my leefstyl sou kyk. Dis wat die duiwel kom doen: hy kom om jou leuens te vertel; om jou sleg te laat voel en te herinner aan die letsels wat jy oorhou van daardie verlore dae. Gelukkig kon ek my pad terug vind na God en tot die besef kom dat Hy my onvoorwaardelik lief het. Hy kom en gooi my “ou koeie” in die sloot en herinner my dat dit daar gevrot het en deur die kraaie en hyenas opgevreet is! “N Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” – Joh. 10:10 Ek kyk onlangs ‘n preek van Andries Vermeulen – Onthou die Eend – waar hy vertel van die seun wat die kosbare eend met sy kettie doodskiet. Sy sussie en ouma sien die daad. Die sussie kom en herinner hom aan sy “sonde” en boelie hom daardeur om haar take te verrig. Die ouma bly stil en wag geduldig totdat die seun uiteindelik genoeg gehad het en sy “sonde” aan haar verklaar. Haar reaksie was dat sy verbaas was dat hy so lank toegelaat het dat sy sussie hom boelie.  Andries verduidelik verder as iemand vir jou kom sê: “onthou die eend” moet jy onthou dat die Here sê: dit is afgehandel! Ons moet dalk fokus op die hier en nou en die pad wat ons vorentoe kies. Gooi die onnodige bagasie wat jy moontlik nog ronddra weg en kyk op. Jesus is ons enigste Herder wat genadiglik ons sonde op Hom geneem het. Leef vir Hom en weet dat jy verlos is van dit wat jou terughou om die beste weergawe van jouself te wees!

God se Gees woon binne my en jou

Die gelowiges as die gebou van God Julle is ook die gebou van God. Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ‘n goeie bouer die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is. Weet julle dan nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie. – 1 Korintiërs 3:10-16 Paulus skryf in sy brief aan die gemeente in Korinte dat hulle Jesus Christus as hulle fondament moet gebruik om hulle tempel te bou. Hy verwys hier na die figuurlike tempel as ‘n mens se liggaam omdat God se Gees binne elkeen van ons woon. Die fondament vir ons as Christene se leerstellings en leefstyl moet altyd Jesus Christus wees. Ek dink gister oggend hoe lekker ek geslaap het toe my twee seuns die nag saam met my in ons bed geslaap het. Gewoonlik raak die 2 jarige twee of drie keer in die nag wakker en dan staan ek op en sleep my voete so deur die slaap na hul kamer toe om my hand op sy bors te sit en vir hom te sê: “Dis ok. Mamma is hier.” Hy raak dan dadelik rustig en slaap verder. Ek raak of aan die slaap in sy bed en raak later wakker om weer in myne te gaan klim of staan op wanneer hy weer vas slaap net om later weer sy voetstappe te hoor wat by ons kom inklim omdat hy weer wakker geraak het en sy mamma soek omdat hy bang is. Ek dink toe: “Is ons nie maar almal van tyd tot tyd so nie? Bang en deurmekaar totdat ons daardie persoon of persone sien wat ons liefhet en ons omhels en daardie vertroostende woorde – dis ok – spreek nie?” Wat gemaak as ons die dag alleen is en deur so ‘n oomblik gaan? Hier kom Paulus en sê vir ons dat die Gees van God in ons woon met ander woorde ons is eintlik NOOIT alleen nie. God se Gees leef dan in ons. God is altyd by ons want sy Gees is by ons. Hoe kyk ek dit al die jare mis? Hoe voel ek jammer vir myself en gaan sit in “sak en as” as God se Gees binne my woon? Ek het vir baie jare Hom misgekyk. Dis die leuens van die wêreld: Jy is nie goed genoeg nie. Jy verdien nie geluk nie. Twak! Die Here het sy enigste Seun gestuur om vir my sondes te kom sterf – DIS LIEFDE! En dan kom woon Sy Gees ook binne-in my! – DIS GENADE! Nou is dit ek wat my geskenke moet aanvaar deur in Jesus Christus van Naseret te glo en elke dag dankie te sê vir al my seëninge! Ek het so baie! Ek kan nie toelaat dat die wêreld vir my kom lieg nie! As ek bang voel of net voel asof ek “in sak en as” wil gaan sit en myself jammer kry onthou ek om in gesprek te tree met die Gees wat binne my leef. Dis daar wat ek die woorde: “dis ok” hoor en so warm gevoel van liefde beleef. Dis asof Hy dan sy hand op my bors sit.

Die sorge van die lewe

25“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? 28En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie.      29Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie.         30As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?      31“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. 34“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” Matteus 6:25-34 Wanneer jy eweskielik jouself in die situasie bevind dat albei voertuie saam gebreek staan en jy wonder waar jy die fondse gaan kry om vir die regmaak te betaal besef jy gou hoe bevoorreg jy is om ‘n voertuig te kan besit. Daar is miljoene pendelaars wat afhanklik is van ander mense om van een plek na die ander te kom. Hulle moet maar net die drywer se bestuursvermoë vertrou en hoop dat hulle veilig by hul bestemming sal uitkom.  Soos die lastige duiwel my begin aanval begin ek al hoe meer raaksien hoe God my dra deur sy engele hier op aarde in die vorm van ander mense. Ek besef dat wanneer jy op God en opslossings in plaas van die chaos en probleme fokus, kalmte my oorval. Waardeer die mense wat werklik omgee oor jou en aanvaar hulle liefde en hulp. Trots en materialisme gaan jou nog dieper in die chaos indryf. Wees dankbaar vir alles wat jy het, want dit kan in ‘n oogwink verdwyn.

Vaste Fondament

Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ineengestort nie, want die fondament was vas op rots.  Matteus 7:24-25 Wanneer jy die besluit maak om jou lewe oor te gee aan die Here en weg te draai van die verslawing van wêreldse dinge beteken dit nie dat alles reg gaan loop nie. Inteendeel maak dit die duiwel so kwaad dat hy enige iets oor jou pad gaan gooi om jou weer weg te draai van die goeie verhouding wat jy besig is om met die Here te bou. Wanneer jy jou verhouding met die Here so versterk het dat jy presies weet wat reg en verkeerd is in elke situasie wat oor jou pad kom raak dit makliker om die regte besluite te neem en basies vir die duiwel voetsek te sê. Jy kan baie meer dinge op jou skouers laai en ook meer mense bystaan omdat jou denke vernuwe is om beter te kan funksioneer onder druk en keuses te maak. Na ‘n jaar of selfs 10 kyk jy terug en sien hoe die Here jou hand die hele tyd vasgehou het. In die situasie is dit nie altyd moontlik om dit te voel of sien nie, maar ek het al terggekyk en besef hoe ek onwetend ‘n hand gehad het wat my gehelp het. Gaan reflekteer bietjie oor die laaste 10 of 20 jaar en kyk na situasies wat jy moontlik ‘n hand gehad het wat jou gehelp het.  Die enigste vaste fondament of goeie rots van ‘n fondasie wat mens nodig het is ‘n sterk verhouding met God. 

Wees op julle hoede

Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie. “Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.” Matteus 24:42-44 Ek lees die afgelope tyd die boek Jesus Freaks wat heelwat verhale bevat oor mense wat nie ingegee het wanneer hulle voor ‘n raad gestaan het om Jesus te verloën nie. Hulle het gekies om vir Jesus ‘n marteldood te sterf.  Dit verstom my dat dit nogsteeds gebeur! Ons is so bevoorreg om in ‘n land te bly waar ons Paasfees en kersfees mag vier; waar ons kerk toe mag gaan en openlik God se naam mag verkondig.  Ek huil soms wanneer ek van die verhale lees. Die een wat my die meeste getref het is waar ‘n gesin Jode weggesteek het tydens Hitler se slagting met die tweede wêreldoorlog. Die vrou en haar gesin het geweier om toe te gee met inligting oor waar hulle die mense weggesteek het. Sy is telkemale deur die gesig geslaan en gemartel maar het nie ingegee nie. Sy was vas oortuig dat dit die regte ding was om te doen omdat die Here van ons verwag dat ons sy mense beskerm teen diè wat iemand anders aanbid en uitbuit of onnodig doodmaak. Sy het uitendelik haar gesin verloor en het in die konsentrasiekamp steeds vrouens bemoedig. Sy is later vrygelaat en die res van die vrouens is doodgemaak. Later besef sy haar vrylating was vanweë ‘n administatiewe fout. Sy het Duitsland verlaat, maar jare later teruggekom om haar storie te vertel en mense te bemoedig om Jesus te volg. Sy het ook een van haar martelaars herken en die man het in trane uitgebars en haar om vergifnis gevra en tot die besef gekom dat Christus die ware geloof is. Sy het hom vergewe en haar roeping verder uitgeleef. Sal ek dit kan doen? Sal jy dit kan doen?  Dis iets wat ek hoop die Here nooit voor my deur kom sit nie. Soos ek nou hier sit val daar weer ‘n traan en ek besef ek is so geseënd met alles wat die Here al vir my gegee het en ook die wondere wat net Hy kan verrig.  Wees bedag vir die duiwel en sy leuens oor jou en ander. Leef God se naam uit ten spyte van die opinies van ander. God is ons lewende water, nie mense en hul dinge nie.