Ek het rus gevind. – Pelgrimslied van Dawid – Psalm 131 Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy Moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Isreal, nou en vir altyd. Kom ons kyk gou na Dawid se lewe. Hy was geseën deur die Here en het ‘n baie goeie lewe gelei tot dié dag wat sy gehoorsaamheid misluk het en hy aan sy eie drange toegegee het om met sy vriend se vrou te slaap en sy verleentheid hom gedryf het om sy vriend se dood te beplan. Hierdie ongehoorsaamheid verpletter sy hele gesin en die gevolge is hartverskeurend. Sy een seun verkrag sy dogter en die ander seun maak daardie seun dood en boonop probeer dié seun sy eie pa, Dawid, doodmaak! Dawid vlug vir ‘n tyd weg van sy huis en moes heeltyd oor sy skouer kyk. Hy besef wel dat hy gesondig het en vra die Here om vergifnis. Die Here vergewe hom en Dawid leer weer hoe om sy rus in die Here te vind wat die gevolg het dat Dawid weer terugkeer na sy huis en in rus en vrede lewe met die wil om gehoorsaam te bly aan God. As ek so na die wêreld en sy dinge kyk sien ek dieselfde afspeel as wat 2000 en 4000 jaar terug afgespeel het. Mense raak selfgesentreerd en draai weg van God en pleeg soveel sonde dat die wêreld in seer en vrees en rou gedompel word. Die Here sê dit wel oor en oor oor die eeue heen dat ons ons rus in Hom moet vind. Sit af die nuus wat net oor die slegte berig en gaan soek goeie nuus om te lees of kyk. Raak vandag rustig en praat met God oor jou bekommernisse.
Chaos
Psalm 18:1-37 Vir die koorleier. ‘n Lied van Dawid, die dienaar van die Here. Hy het dié woorde tot die Here gerig op die dag toe die Here hom gered het uit sy mag van al sy vyande en uit die mag van Saul. Hy het gesê: “Ek het U baie lief, Here, my Sterkte. Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting. Onder bespotting roep ek na die Here, dan word ek van my vyande verlos. Bande van die dood het my omsluit, strome van onheil het my verskrik. Bande van die doderyk het my vasgetrek, strikke van die dood het my bedreig. In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep. Ek roep na Hom om hulp, en Hy luister na my. Die aarde het geskud en gebewe, die fondamente van die berge het getril en geskud, want Hy was vertoorn. Rook het uit sy neus getrek, vuur uit sy mond het alles verteer, gloeiende kole uit sy binneste. Hy het die hemel afgebuig en afgekom, onder sy voete was duisternis. Hy het op ‘n gerub geklim en gevlieg; op die vleuels van die wind het Hy nadergesweef. Hy het Hom in donkerte gehul, donker waters en wolkemassas was sy bedekking. Uit die gloed voor Hom het wolke getrek, hael en weerligstrale. Die Here het dit uit die hemel laat dreun, die Allerhoogste het sy stem laat hoor in hael en weerligstrale. Hy het sy pyle afgeskiet en die vyand uitmekaar gejaag, hulle met ‘n menigte weerlikgstrale op loop gejaag. Die seebodem het sigbaar geword, die fondamente van die aarde is blootgelê deurdat U, Here, op hulle gebulder het met die orkaan van u toorn. Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. Hy het my gered van my vyand wat sterk was, van my haters toe hulle vir my te magtig was. Die dag toe hulle my aangeval het, was my ondergang naby, maar die Here het my daarvan bewaar. Hy het my in vryheid laat uitgaan. My gered omdat Hy my liefhet. Die Here het aan my reg laat geskied, Hy het my onskuld aanvaar, want ek het die wil van die Here gehoorsaam en my nie teenoor my God skuldig gemaak nie; ek het my deur al sy bepalings laat lei en nie van sy voorskrifte afgewyk nie. Ek was opreg voor Hom, ek was op my hoede teen enige ongeregtigheid. Die Here het aan my reg laat geskied, want ek was onskuldig in sy oë. U betoon U getrou teenoor die opregte, rein teenoor die reine, maar U verwerp die huigelaar. U red die verdrukte volk, U verneder die trotses. U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my. Met u hulp loop ek ‘n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie. Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy. Waarlik, wie anders as die Here is God? Ja, wie anders as ons God is ‘n rots? God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan. Hy leer my hande om oorlog te maak, my arms om selfs die stramste boog te span. Die redding wat U gebring het, was vir my ‘n beskerming, U regterhand het my ondersteun, deur U hulp het ek sterk geword. U het my ruim vastrapplek gegee, my enkels het nie geswik nie. Vers 14: …die Allerhoogste het sy stem laat hoor in hael en weerligstrale… Ek het nog altyd gewonder hoekom ek so rustig is wanneer daar weerligstrale is – nou weet ek dis omdat die Here dan baie naby is om my te kom beskerm teen my vyande. Wat ‘n voorreg! Dawid se psalm se baie meer as wat ek ooit kan sê oor God se getrouheid en magtigheid. Ons leef op die oomblik in chaos en moet bid en God om hulp vra net soos Dawid dit toentertyd gedoen het.
Vadersdag 2020
Psalm 103:13 Soos ‘n Vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. My Vader bly altyd ons Here. My pappa of dadda is my pa. Vandag herdenk ons ons Vader en pa’s. My pa sal sê elke dag is vadersdag en as ek mooi daaraan dink is dit die waarheid aangesien ek elke dag vir my Vader in die Hemel dankie sê vir die voorspoed en ook om hulp vra vir die teenspoed. Om ‘n volwaardige pa te wees beteken dat hy alles sal opgee om sy kinders en familie te beskerm. Ek sal altyd na my pa opkyk en noem hom steeds pappa of dadda soos ek het toe ek drie jaar oud was. Wat ‘n wonderlike mens! Nou my pa, soos ek, is nie perfek nie maar hy is perfek vir my. Wanneer jy self ‘n ouer raak besef jy eers werklik hoe baie jou ouers vir jou gedoen het en wat dit verg om ‘n goeie ouer te wees. Dit is nie altyd maklik nie. My pa: ‘n man wat die Here ken en my tweede held. Die eerste is natuurlik Jesus. My pa: ‘n man wat nie skatte op aarde bymekaar nie; ‘n man wat nie omgee oor mense se opinies nie; ‘n man wat na sy familie omsien al verarm dit hom; ‘n man wat armes sal help waar hy kan; ‘n man wat vreemdes langs die pad sal help; ‘n man wat gewerk het vir alles wat hy besit; ‘n man wat opgekyk het na sy pa en sy waardes onthou. My pa: ‘n man wat in sy voertuig geklim het om oor die 500km elke dag of tweede dag vir amper twee maande af te lê om sy ma in die hospitaal elke dag te besoek net sodat sy nie alleen is nie – dit het beteken dat sy besigheid agteruit gaan en dat hy ook finansieël gaan sukkel maar dit was nie vir hom belangrik nie. Sy ma was die belangrikste fokus vir daardie tydperk en al moes hy lenings aangaan om haar te besoek sou hy dit steeds doen. Dit is my pa! Iemand wat my nooit sal weggooi nie! Iemand wat opdaag wanneer jy hom nodig het. My pa: ‘n man waarvoor ek die grootste respek het; ‘n man wat vir my die kompas is vir opregtheid en liefde vir jou familie en medemens; ‘n man wat God dien en nie mense of opinies nie; ‘n man wat getrou is; ‘n man wat hardkoppig is maar steeds omgee; ‘n man wat ‘n inspirasie is – dit is my pa! – ‘n geskenk van ons Vader in die Hemel.