Moenie die genade van God verwerp nie

“Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ‘n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. Sorge ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het nie.” Hebreërs 12:14 Hoe maklik is dit nie om ‘n wrok teen iemand te hou wat van jou skinder of seermaak of misbruik of kul of of of…? Dit neem die vrede uit jou hart uit en jy sit soms en wonder waar hierdie ontevredenheid vandaan kom. Jesus kom leer ons dat ons genadig moet wees met ander mense. Ek weet dit is verskriklik moeilik veral as daardie persoon jou baie seergemaak het. Jesus bid in Lukas 23:34: “Vader vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie” en dit terwyl Hy op die kruis hang nadat die mense Hom veroordeel het en dit nadat die keiser gesê het dat Hy onskuldig is, maar die mense het hulle eie opinie gemaak en het hom skuldig verklaar om gekruisig te word. Dit moes baie seer gemaak het en tog verstaan Jesus hoe die mens se hart en brein werk. Hy vra dus vir vergifnis omdat ons nie altyd bewus is van ons denke se gevolge nie. Ons moet ons hart en denke bewaar teen aanslagte van die duiwel. Daardie simpel duiwel is die baas van leuens vertel. As jy in jou binneste voel dat jy nou gaan skinder, STOP! Vra jouself af hoe jy sou voel as dit jy was wat van geskinder sou word. Jy weet jy doen iets verkeerd as jy nie dit openlik kan sê of doen nie. Laat dit vir jou die basis vorm om te besluit wat reg of verkeerd is en jou denke aan te pas om die regte ding te doen soos Jesus ons kom leer het. Ons moet ook introspeksie doen om vas te stel waar ons ook al iemand te na gekom het. Wanneer jy besef dat jy net so skuldig is aan dinge wat ander aan jou doen besef jy hoe jy dit kan verhoed en makliker jy kan vergewe veral omdat God jou dadelik vergewe en daarvan vergeet wanneer jy dit by Hom gaan bely.

Vind Rus in die Here

Ek het rus gevind. – Pelgrimslied van Dawid – Psalm 131 Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy Moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Isreal, nou en vir altyd. Kom ons kyk gou na Dawid se lewe. Hy was geseën deur die Here en het ‘n baie goeie lewe gelei tot dié dag wat sy gehoorsaamheid misluk het en hy aan sy eie drange toegegee het om met sy vriend se vrou te slaap en sy verleentheid hom gedryf het om sy vriend se dood te beplan. Hierdie ongehoorsaamheid verpletter sy hele gesin en die gevolge is hartverskeurend. Sy een seun verkrag sy dogter en die ander seun maak daardie seun dood en boonop probeer dié seun sy eie pa, Dawid, doodmaak! Dawid vlug vir ‘n tyd weg van sy huis en moes heeltyd oor sy skouer kyk. Hy besef wel dat hy gesondig het en vra die Here om vergifnis. Die Here vergewe hom en Dawid leer weer hoe om sy rus in die Here te vind wat die gevolg het dat Dawid weer terugkeer na sy huis en in rus en vrede lewe met die wil om gehoorsaam te bly aan God. As ek so na die wêreld en sy dinge kyk sien ek dieselfde afspeel as wat 2000 en 4000 jaar terug afgespeel het. Mense raak selfgesentreerd en draai weg van God en pleeg soveel sonde dat die wêreld in seer en vrees en rou gedompel word. Die Here sê dit wel oor en oor oor die eeue heen dat ons ons rus in Hom moet vind. Sit af die nuus wat net oor die slegte berig en gaan soek goeie nuus om te lees of kyk. Raak vandag rustig en praat met God oor jou bekommernisse.