Wees op julle hoede

Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie. “Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.” Matteus 24:42-44 Ek lees die afgelope tyd die boek Jesus Freaks wat heelwat verhale bevat oor mense wat nie ingegee het wanneer hulle voor ‘n raad gestaan het om Jesus te verloën nie. Hulle het gekies om vir Jesus ‘n marteldood te sterf.  Dit verstom my dat dit nogsteeds gebeur! Ons is so bevoorreg om in ‘n land te bly waar ons Paasfees en kersfees mag vier; waar ons kerk toe mag gaan en openlik God se naam mag verkondig.  Ek huil soms wanneer ek van die verhale lees. Die een wat my die meeste getref het is waar ‘n gesin Jode weggesteek het tydens Hitler se slagting met die tweede wêreldoorlog. Die vrou en haar gesin het geweier om toe te gee met inligting oor waar hulle die mense weggesteek het. Sy is telkemale deur die gesig geslaan en gemartel maar het nie ingegee nie. Sy was vas oortuig dat dit die regte ding was om te doen omdat die Here van ons verwag dat ons sy mense beskerm teen diè wat iemand anders aanbid en uitbuit of onnodig doodmaak. Sy het uitendelik haar gesin verloor en het in die konsentrasiekamp steeds vrouens bemoedig. Sy is later vrygelaat en die res van die vrouens is doodgemaak. Later besef sy haar vrylating was vanweë ‘n administatiewe fout. Sy het Duitsland verlaat, maar jare later teruggekom om haar storie te vertel en mense te bemoedig om Jesus te volg. Sy het ook een van haar martelaars herken en die man het in trane uitgebars en haar om vergifnis gevra en tot die besef gekom dat Christus die ware geloof is. Sy het hom vergewe en haar roeping verder uitgeleef. Sal ek dit kan doen? Sal jy dit kan doen?  Dis iets wat ek hoop die Here nooit voor my deur kom sit nie. Soos ek nou hier sit val daar weer ‘n traan en ek besef ek is so geseënd met alles wat die Here al vir my gegee het en ook die wondere wat net Hy kan verrig.  Wees bedag vir die duiwel en sy leuens oor jou en ander. Leef God se naam uit ten spyte van die opinies van ander. God is ons lewende water, nie mense en hul dinge nie.

Jou hart en denke bepaal jou gedrag

Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorsprong van die lewe. Spreuke 4:23 Hoe maklik is dit nie om onsself te beledig of te vra of ons goed genoeg as mens is nie? Ek dink Jesus voel soms seergemaak met sulke denke wat ons kwyt kan raak, dink jy nie? Ek meen Hy kom aarde toe en beleef allerhande versoekings en mishandeling en dan word hy wreedaardig gekruisig om ons van onsself te red en ons draai om en vra of ons goed genoeg is? Jesus het kom bevestig wat God reeds weet! JY IS GOED GENOEG! Hy het jou lief bo alle verstand. Dis tyd dat ons bietjie aan ons gedagtes en ons hart werk om uit te pluis hoekom ons nie goed genoeg voel nie of wat dit is wat ons laat twyfel en ook struikel. Die duiwel is ‘n leuenaar! Hy kom en plant allerhande sade in jou gedagtes wat groei as jy dit vatkans gee. Kom ek gee ‘n voorbeeld: Jy voel afgeskeep deur jou man/vrou omdat hy/sy jou nie “raaksien” nie. Hy/sy komplimenteer jou nie, hy/sy help nie met huistake nie en is altyd moeg. Hy/sy vertel jou moontlik nie dat hy/sy opgestres is oor finansies en die uitmergelende druk wat hy/sy by die werk beleef nie en dan raak hy/sy depressief/opvlieënd en wanneer hy/sy by die huis kom wil hy/sy moontlik net ‘n klein bietjie rustigheid beleef. Jou kollega gee jou moontlik komplimente en oor ‘n tydperk raak jy geheg aan hom/haar en gaan eet selfs ‘n paar keer uit en verval dan in ‘n lewe van leuens en probeer kop bo water hou omdat jy kinders en ‘n man/vrou het vir wie jy baie lief het, maar jy voel dalk hulle is nie so lief vir jou nie (Die leuen wat die duiwel jou moontlik laat glo). In die eerste plek is dit beter om uit te vind wat dit is wat jou as mens ongelukkig maak en dan wat jou man/vrou aan jou doen of vir jou sê om jou ongelukkig te maak. Oop en eerlike kommunikasie is nie altyd maklik nie, maar dit is die beste medisyne vir enige verhouding en dit verhoed enige leuens wat onthou moet word. Gaan vandag en praat met Jesus en vertel Hom al die dinge wat jou pla en bid dat jy oop kaarte met jouself en jou man/vrou kan speel. Liefde en genade is ‘n geskenk van God. Hy gee dit onvoorwaardelik vir jou. Aanvaar dit net!

Riglyne vir die Christelike lewe

Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here. “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. Romeine 12:9-21 Hoe maklik is die bogenoemde nie? As onsself net kan inspan om liedevol op te tree kan ons maklik die boonste riglyne volg, maar en dis ‘n groot maar dit raak moeilik wanneer emosies ons dryf. Ek bedoel hoe kan jy van my verwag om my vyand kos te gee of iemand te vergewe wat my erge leed aangedoen het? Vir my is dit baie moeilik om dit te doen en tog vra die Here ons moet! Ek probeer aan my emosies werk om minder kwaad te word en as ek doen om die kwaad in ‘n goeie rigting te stuur soos byvoorbeel: as ek kwaad word vir die mense aan die stuur van ons land neem ek daardie kwaad en kyk waar ek op grondvlak betrokke kan raak om mense om my te help om dit wat ek voel te bekamp al vat dit baie lank en moet jy deel raak van ‘n groep wat saam oplossings vind en sodoende in ‘n volhoubare goeie manier opstaan teen dit wat ons kwaad maak. Om liefde uit te straal is maklik wanneer dit goed gaan, maar dit word behoorlik getoets wanneer dinge sleg gaan. Ek dink die resep vir sukses lê daarin om eers jou emosies onder beheer te kry en deesdae praat ek met God. Ek sê presies wat ek op daardie oomblik voel en word dan rustiger en kan nugter dink nadat ek eers alles van my hart af gekry het. Gaan probeer dit die week. Elke keer wanneer jy ‘n baie goeie emosie ervaar sê vir God dan en daar dankie en elke keer wanneer jy ‘n slegte emosie ervaar sê vir God. Dit kan so eenvoudig wees soos jy beleef angs en jy sê vir God: “help!”. Probeer ‘n gesprek met God voer gedurende jou dag soos dinge gebeur ek kyk hoe dit jou gemoed en verhouding met Hom verander.