Die sorge van die lewe

25“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? 28En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie.      29Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie.         30As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?      31“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. 34“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” Matteus 6:25-34 Wanneer jy eweskielik jouself in die situasie bevind dat albei voertuie saam gebreek staan en jy wonder waar jy die fondse gaan kry om vir die regmaak te betaal besef jy gou hoe bevoorreg jy is om ‘n voertuig te kan besit. Daar is miljoene pendelaars wat afhanklik is van ander mense om van een plek na die ander te kom. Hulle moet maar net die drywer se bestuursvermoë vertrou en hoop dat hulle veilig by hul bestemming sal uitkom.  Soos die lastige duiwel my begin aanval begin ek al hoe meer raaksien hoe God my dra deur sy engele hier op aarde in die vorm van ander mense. Ek besef dat wanneer jy op God en opslossings in plaas van die chaos en probleme fokus, kalmte my oorval. Waardeer die mense wat werklik omgee oor jou en aanvaar hulle liefde en hulp. Trots en materialisme gaan jou nog dieper in die chaos indryf. Wees dankbaar vir alles wat jy het, want dit kan in ‘n oogwink verdwyn.

Vaste Fondament

Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ineengestort nie, want die fondament was vas op rots.  Matteus 7:24-25 Wanneer jy die besluit maak om jou lewe oor te gee aan die Here en weg te draai van die verslawing van wêreldse dinge beteken dit nie dat alles reg gaan loop nie. Inteendeel maak dit die duiwel so kwaad dat hy enige iets oor jou pad gaan gooi om jou weer weg te draai van die goeie verhouding wat jy besig is om met die Here te bou. Wanneer jy jou verhouding met die Here so versterk het dat jy presies weet wat reg en verkeerd is in elke situasie wat oor jou pad kom raak dit makliker om die regte besluite te neem en basies vir die duiwel voetsek te sê. Jy kan baie meer dinge op jou skouers laai en ook meer mense bystaan omdat jou denke vernuwe is om beter te kan funksioneer onder druk en keuses te maak. Na ‘n jaar of selfs 10 kyk jy terug en sien hoe die Here jou hand die hele tyd vasgehou het. In die situasie is dit nie altyd moontlik om dit te voel of sien nie, maar ek het al terggekyk en besef hoe ek onwetend ‘n hand gehad het wat my gehelp het. Gaan reflekteer bietjie oor die laaste 10 of 20 jaar en kyk na situasies wat jy moontlik ‘n hand gehad het wat jou gehelp het.  Die enigste vaste fondament of goeie rots van ‘n fondasie wat mens nodig het is ‘n sterk verhouding met God. 

Wees op julle hoede

Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie. “Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.” Matteus 24:42-44 Ek lees die afgelope tyd die boek Jesus Freaks wat heelwat verhale bevat oor mense wat nie ingegee het wanneer hulle voor ‘n raad gestaan het om Jesus te verloën nie. Hulle het gekies om vir Jesus ‘n marteldood te sterf.  Dit verstom my dat dit nogsteeds gebeur! Ons is so bevoorreg om in ‘n land te bly waar ons Paasfees en kersfees mag vier; waar ons kerk toe mag gaan en openlik God se naam mag verkondig.  Ek huil soms wanneer ek van die verhale lees. Die een wat my die meeste getref het is waar ‘n gesin Jode weggesteek het tydens Hitler se slagting met die tweede wêreldoorlog. Die vrou en haar gesin het geweier om toe te gee met inligting oor waar hulle die mense weggesteek het. Sy is telkemale deur die gesig geslaan en gemartel maar het nie ingegee nie. Sy was vas oortuig dat dit die regte ding was om te doen omdat die Here van ons verwag dat ons sy mense beskerm teen diè wat iemand anders aanbid en uitbuit of onnodig doodmaak. Sy het uitendelik haar gesin verloor en het in die konsentrasiekamp steeds vrouens bemoedig. Sy is later vrygelaat en die res van die vrouens is doodgemaak. Later besef sy haar vrylating was vanweë ‘n administatiewe fout. Sy het Duitsland verlaat, maar jare later teruggekom om haar storie te vertel en mense te bemoedig om Jesus te volg. Sy het ook een van haar martelaars herken en die man het in trane uitgebars en haar om vergifnis gevra en tot die besef gekom dat Christus die ware geloof is. Sy het hom vergewe en haar roeping verder uitgeleef. Sal ek dit kan doen? Sal jy dit kan doen?  Dis iets wat ek hoop die Here nooit voor my deur kom sit nie. Soos ek nou hier sit val daar weer ‘n traan en ek besef ek is so geseënd met alles wat die Here al vir my gegee het en ook die wondere wat net Hy kan verrig.  Wees bedag vir die duiwel en sy leuens oor jou en ander. Leef God se naam uit ten spyte van die opinies van ander. God is ons lewende water, nie mense en hul dinge nie.