Jou hart en denke bepaal jou gedrag

Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorsprong van die lewe. Spreuke 4:23 Hoe maklik is dit nie om onsself te beledig of te vra of ons goed genoeg as mens is nie? Ek dink Jesus voel soms seergemaak met sulke denke wat ons kwyt kan raak, dink jy nie? Ek meen Hy kom aarde toe en beleef allerhande versoekings en mishandeling en dan word hy wreedaardig gekruisig om ons van onsself te red en ons draai om en vra of ons goed genoeg is? Jesus het kom bevestig wat God reeds weet! JY IS GOED GENOEG! Hy het jou lief bo alle verstand. Dis tyd dat ons bietjie aan ons gedagtes en ons hart werk om uit te pluis hoekom ons nie goed genoeg voel nie of wat dit is wat ons laat twyfel en ook struikel. Die duiwel is ‘n leuenaar! Hy kom en plant allerhande sade in jou gedagtes wat groei as jy dit vatkans gee. Kom ek gee ‘n voorbeeld: Jy voel afgeskeep deur jou man/vrou omdat hy/sy jou nie “raaksien” nie. Hy/sy komplimenteer jou nie, hy/sy help nie met huistake nie en is altyd moeg. Hy/sy vertel jou moontlik nie dat hy/sy opgestres is oor finansies en die uitmergelende druk wat hy/sy by die werk beleef nie en dan raak hy/sy depressief/opvlieënd en wanneer hy/sy by die huis kom wil hy/sy moontlik net ‘n klein bietjie rustigheid beleef. Jou kollega gee jou moontlik komplimente en oor ‘n tydperk raak jy geheg aan hom/haar en gaan eet selfs ‘n paar keer uit en verval dan in ‘n lewe van leuens en probeer kop bo water hou omdat jy kinders en ‘n man/vrou het vir wie jy baie lief het, maar jy voel dalk hulle is nie so lief vir jou nie (Die leuen wat die duiwel jou moontlik laat glo). In die eerste plek is dit beter om uit te vind wat dit is wat jou as mens ongelukkig maak en dan wat jou man/vrou aan jou doen of vir jou sê om jou ongelukkig te maak. Oop en eerlike kommunikasie is nie altyd maklik nie, maar dit is die beste medisyne vir enige verhouding en dit verhoed enige leuens wat onthou moet word. Gaan vandag en praat met Jesus en vertel Hom al die dinge wat jou pla en bid dat jy oop kaarte met jouself en jou man/vrou kan speel. Liefde en genade is ‘n geskenk van God. Hy gee dit onvoorwaardelik vir jou. Aanvaar dit net!