Die sorge van die lewe

25“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? 28En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie.     

29Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie.         30As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?

     31“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

34“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

  • Matteus 6:25-34

Wanneer jy eweskielik jouself in die situasie bevind dat albei voertuie saam gebreek staan en jy wonder waar jy die fondse gaan kry om vir die regmaak te betaal besef jy gou hoe bevoorreg jy is om ‘n voertuig te kan besit. Daar is miljoene pendelaars wat afhanklik is van ander mense om van een plek na die ander te kom. Hulle moet maar net die drywer se bestuursvermoë vertrou en hoop dat hulle veilig by hul bestemming sal uitkom. 

Soos die lastige duiwel my begin aanval begin ek al hoe meer raaksien hoe God my dra deur sy engele hier op aarde in die vorm van ander mense. Ek besef dat wanneer jy op God en opslossings in plaas van die chaos en probleme fokus, kalmte my oorval.

Waardeer die mense wat werklik omgee oor jou en aanvaar hulle liefde en hulp. Trots en materialisme gaan jou nog dieper in die chaos indryf.

Wees dankbaar vir alles wat jy het, want dit kan in ‘n oogwink verdwyn.