Die gelowiges as die gebou van God Julle is ook die gebou van God. Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ‘n goeie bouer die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is. Weet julle dan nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie. – 1 Korintiërs 3:10-16 Paulus skryf in sy brief aan die gemeente in Korinte dat hulle Jesus Christus as hulle fondament moet gebruik om hulle tempel te bou. Hy verwys hier na die figuurlike tempel as ‘n mens se liggaam omdat God se Gees binne elkeen van ons woon. Die fondament vir ons as Christene se leerstellings en leefstyl moet altyd Jesus Christus wees. Ek dink gister oggend hoe lekker ek geslaap het toe my twee seuns die nag saam met my in ons bed geslaap het. Gewoonlik raak die 2 jarige twee of drie keer in die nag wakker en dan staan ek op en sleep my voete so deur die slaap na hul kamer toe om my hand op sy bors te sit en vir hom te sê: “Dis ok. Mamma is hier.” Hy raak dan dadelik rustig en slaap verder. Ek raak of aan die slaap in sy bed en raak later wakker om weer in myne te gaan klim of staan op wanneer hy weer vas slaap net om later weer sy voetstappe te hoor wat by ons kom inklim omdat hy weer wakker geraak het en sy mamma soek omdat hy bang is. Ek dink toe: “Is ons nie maar almal van tyd tot tyd so nie? Bang en deurmekaar totdat ons daardie persoon of persone sien wat ons liefhet en ons omhels en daardie vertroostende woorde – dis ok – spreek nie?” Wat gemaak as ons die dag alleen is en deur so ‘n oomblik gaan? Hier kom Paulus en sê vir ons dat die Gees van God in ons woon met ander woorde ons is eintlik NOOIT alleen nie. God se Gees leef dan in ons. God is altyd by ons want sy Gees is by ons. Hoe kyk ek dit al die jare mis? Hoe voel ek jammer vir myself en gaan sit in “sak en as” as God se Gees binne my woon? Ek het vir baie jare Hom misgekyk. Dis die leuens van die wêreld: Jy is nie goed genoeg nie. Jy verdien nie geluk nie. Twak! Die Here het sy enigste Seun gestuur om vir my sondes te kom sterf – DIS LIEFDE! En dan kom woon Sy Gees ook binne-in my! – DIS GENADE! Nou is dit ek wat my geskenke moet aanvaar deur in Jesus Christus van Naseret te glo en elke dag dankie te sê vir al my seëninge! Ek het so baie! Ek kan nie toelaat dat die wêreld vir my kom lieg nie! As ek bang voel of net voel asof ek “in sak en as” wil gaan sit en myself jammer kry onthou ek om in gesprek te tree met die Gees wat binne my leef. Dis daar wat ek die woorde: “dis ok” hoor en so warm gevoel van liefde beleef. Dis asof Hy dan sy hand op my bors sit.