Voorkoms

Maar Hy sê vir Samual: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” – 1 Samuel 16:7 Hoeveel keer misluk ons in die wêreld se oë? Ek onthou toe ek nog op hoërskool was kon ek nie eers my twee beste vriendinne gelyk tevrede stel nie; hul het uit ander oogpunte na iets gekyk en dit het my net weereens laat dink aan my ma se woorde toe ek op laerskool was en mense het my gespot as “bugs bunny” omdat my voortande altyd uitgestaan het as gevolg van my onderste kaak wat 11mm te kort was: “hoekom gee jy om wat mense dink? F! die mense! Ons is die mense!” Ek sal nie sommer gou daardie woorde van my ma  vergeet nie en ek het baie keer dit oor en oor vir myself gesê wanneer die wêreld sy druk op my uitgeoefen het. Dit gaan nie oor jou nie, maar iemand anders se mislukkings en hul tekort aan selfvertroue. In my kort lewe het ek beleef hoe lelik mense kan wees omdat hulle self onseker van hulself of ongelukkig is en dan jou ongelukkig wil maak sodat hul beter oor hulself kan voel. Net soos die wêreld vir jou wil sê hoe jy moet lyk, eet, voel of wat jy moet ry net so sê Jesus vir jou hoe jy goed genoeg is net soos wat jy is. Jy moet besluit na wie jy gaan luister. Onthou die wêreld skree maar as jy stil raak en afskakel sal jy daardie “jy is goed genoeg vir my” stem hoor. Net soos Samual gedink het dat die grootste en beste die volgende koning sou word verras God hom en Hy stel hom voor aan die jong, klein, nog nat agter die ore, Dawid. Die een wat uitgekies is om Goliat te verslaan en later die koning sal word van God se mense omdat sy hart reg was. Mense het hom uitgelag toe hy sê hy sal Goliat aanvat. Dieselfde mense wat te bang was om teen Goliat te veg. Kyk minder in die spieël en as jy doen herinner jouself hoe bevoorreg jy is om uitgekies te wees om een van God se kinders te wees. Maak God jou middelpunt van bestaan en sien hoe jy ook in jouself groei.

Woorde het mag

So is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. ‘n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. Jakobus 3:5-6 Deesdae volg ek Andrew Wommack (www.awmi.net). Hy het ‘n manier om dinge in perspektief te sit. Ek raak soms baie verward omdat ek nie die Bybelverse heeltemal verstaan nie, maar dan volg ek ‘n tema van Andrew en hy verduidelik dit in eenvoud. Ek volg op die oomblik sy “Effortless Change” reeks en hy vertel hoe ons versigtig moet wees oor wat ons oor onsself spreek. As jy negatiewe dinge oor jou lewe gaan spreek of toelaat dat ander mense dit spreek en jy dit aanvaar sal jy dit beleef. Dieselfde is waar wanneer jy begin om positiewe dinge oor jou lewe te spreek. Dit laat my dink aan Henry Ford se woorde: “Whether you think you can, or you think you can’t – you’re right.” Dit is so maklik om negatief te raak en dink omdat die wêreld se mense daarvan hou om te kla en negatief op te tree, maar die mag van God lê binne ons om dit teen te staan, om op te staan en nee te sê vir die ongeloof wat heers.   Ons moet ons fokus skuif en op God en sy doel vir ons fokus in plaas van die leuens van die duiwel. Dit begin met ‘n doelgerigte besluit en net jy kan daardie besluit maak. Kies die lewe. Kies God.

Verhouding met Jesus

Johannes 3:35-36 Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom. Ons is uit genade gered van ons sondes. Ons het die geleentheid om ‘n fantastiese verhouding met Jesus te beleef maar soms maak ons allerhande ander planne instede om ‘n verhouding met Jesus te bou. Die duiwel is verskriklik goed om daarin te slaag om ons aandag af te trek en op iets anders te fokus. Gewoonlik deur ons natuurlike neiging om negatief oor iets te wees of te stres. Ek het onlangs na Andrew Wommack geluister. Hy het gepraat oor die ewige lewe en hoe ons die vreugde deur ‘n verhouding met Jesus te hê dikwels uitmis. Ek het weer opnuut begin dink oor die verlossing en om ’n verhouding met Jesus te kweek in plaas van ‘n verhouding met die wêreld en sy dinge. Dis maklik om negatief te wees; om te stres; om moed op te gee wanneer dinge skeef loop; om negatief te raak oor nuus en media – die lys is verskriklik lank, MAAR wanneer jy in ‘n verhouding met Jesus staan is daar iets anders wat in jou hart gebeur. Jy vind moed in ‘n moedelose wêreld. Jy weet jy kan met Jesus praat oor absoluut enigiets en hy gaan jou nie verwyt of slegsê nie. Hy wil jou liewer help en aanspoor om positief te wees en om jou negatiewe neigings te laat vaar en ook jouself te aanvaar. Jy is kosbaar. Jy beteken baie meer as wat jy dink. Hy het immers vir jou gesterf  – dis ware liefde – iemand wat sy lewe vir jou gee… Begin vandag jou verhouding met Jesus bo alles plaas. Die wêreld is baie deurmekaar en hierdie is alles tekens dat Sy koms baie naby is. Leef ‘n vreugdevolle Jesus lewe en draai jou rug op wêreldse vreugde wat inelkgeval net kort van duur is. Niks vul mens met vreugde soos liefde nie. Dis uiteraard die doel van die lewe. Bou verhoudings deur liefde en nie erkenning of guns nie.