Werklike liefde is dìt: nie die liefde wat God vir ons het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. Johannes 4:10-12 Johannes was een van Jesus se geliefkoosde dissipels ten spyte van die feit dat hy Jesus gevra het dat hy en sy broer Jakobus aan sy linker- en regterhand sit wanneer hulle hemel toe gaan. Dit het Jesus kwaad gemaak omdat hulle onmin tussen die ander dissipels veroorsaak het. Jesus het Johannes gou daarop gelet dat net God kies wie hy waar in Sy koningkryk sit. Johannes was ook ‘n geharde man omdat hy ‘n visserman was. Hy het vinnig sy humeur verloor en dikwels mense veroordeel omdat hy nie met hulle besluite saamgestem het of nie deel van hulle volk was nie. Jesus het hom vinnig tereggewys wanneer hy so opgetree het en hom tot die besef gebring dat elkeen wat Jesus en die Here saam aanbid ‘n volgeling is en dat Hy hulle liefhet. Dit was ‘n bitter pil om te sluk, maar Johannes het uiteindelik tot die besef gekom dat Jesus liefde is en dat sy volgelinge mekaar moet liefhê, maar meer as dit dat ons almal mekaar moet liefhê ten spyte van ons verskille omdat die Here ons almal liefhet. In vandag se lewe is dit so maklik om soos Johannes te voel dat jy beter verdien as die ander in jou kring omdat jy jouself as beter sien, maar in God se oë is ons almal wat Hom dien ewe belangrik. Ons moet dus mekaar ophelp en saamstaan instede daarvan dat ons onmin saai. Help die week iemand liefde sien. Die kleinste gebaar soos ‘n glimlag of hello vir ‘n vreemdeling kan daardie persoon se dag opkikker. God is liefde en daarom moet ons ook liefde uitstraal.
Die dissipel Petrus
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 1 Johannes 1:8-9 Wat is dit wat eerste by jou opkom as iemand jou oor Jesus se geliefkoosde dissipel, Petrus, vra? Baie mense antwoord dat hy Jesus 3 keer verraai het toe die haan kraai. Dit laat my besef dat ons dikwels negatief ingestel is en kies om die negatiewe te onthou in plaas van die positiewe. Na hierdie bevinding het ek doelbewus ‘n keuse gemaak om dinge te identifiseer wat my denke negatief beïnvloed en dit met positiewe reaksies te vul. Ons het ‘n ruk terug deur die boek “In die voetspore van Jesus” deur Piet Meiring in ons bybelstudie gegaan en ek het dadelik ‘n debat in my eie gedagtes gevoer oor die negatiewe en positiewe denke wat jou dryf om dinge te onthou. Meeste mense het gesê hulle onthou Petrus se veloëning terwyl my denke gegaan het na die feit dat hy so getrou was aan Jesus dat hy ‘n magdom mense na Jesus gelei het en dat hy as te ware die eerste kerk gebou het. Hy was so lojaal aan Jesus dat hy gevra het om onderstebo gekruising te word omdat hy nie dieselfde glorie as Jesus verdien om soos Jesus gekruisig te word nie. Die wêreld se uitkyk is negatief. Dis hoekom ons dikwels die goeie nuus iewers anders as nuuskanale moet gaan soek. Ek het doelbewus ‘n besluit gemaak om nie nuus te lees of kyk wat my in ‘n negetiewe put sal laat sink nie. Ek gaan soek liewer die goeie nuus soos ‘n menseregte organisasie wat belangrike sake maak en wen teen ‘n mislukte staat wat onregverdig optree en steel. Die Here het ons gewaarsku om nie soos die wêreld te wees nie, maar Hom te volg. Vertrou Hom en gaan te werk om die goeie te doen. Hoekom dink jy was Jesus so ontsettend lief vir Petrus? In my opinie is dit omdat Jesus geweet het daar is niemand meer lojaal as Petrus om sy koningkryk te bou nie. Jesus het Petrus se hart gesien en geweet dat hy impulsief, vining van humeur, emosioneel, avontuurlustig en lojaal was. Hy het geweet hierdie man sal veg tot die einde al sou hy een keer wankel en ontken dat hy Jesus ken. Ons weet nie hoekom Petrus vir die diensmeisie gesê het dat hy nie vir Jesus ken nie, maar toe daardie haan kraai is dit asof iets in Petrus ontplof en hy tot die besef kom dat Jesus al die tyd geweet het wat hy sou dink en doen. Dit het hom so getref dat hy in selfverwyt geval het en gehuil het. Hy kon homself eers vergewe to Jesus hom vergewe en dït was die vuur wat hom vir die res van sy lewe gelei het na die bou van Jesus se kerk. Ons almal het sonde iewers in ons verlede en iets wat jy dalk saamdra, maar jy sal nooit los en vrygemaak wees as jy dit nie na Jesus toe vat en ook jouself vergewe nie. Ons almal misluk van tyd tot tyd, maar dit beteken nie dat die Here jou minder lief het nie. Hy weet wanneer jy iets goed vir aandag en aansien doen en wanneer jy dit doen om werklik ‘n verskil in iemand anders se lewe te maak. Kies vandag om doelbewus weg te draai van die negatiewe en soek Jesus en die goeie. Kies om oplossings te sien in plaas van probleme. Die Here ken ons harte. Ken jy joune?
Eenheid – Efesiërs 4:1-8
Ek druk julle dit op die hart, ek wat ‘n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. Daar is net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon. Aan elkeen van ons is ‘n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. Daarom sê die skrif: “Toe Hy na die hoogte opgevaar het, het Hy krysgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.” As dit by geduld kom het ek iewers onder ‘n boom ver van die ry af gesit toe geduld uitgedeel is! My ongeduld, veral met mense is besig om ‘n klein bietjie te verbeter maar dit is nie maklik nie. Daar is soveel pyn en onenigheid in ons wêreld dat dit moeilik is om altyd beskeie, vriendelik en geduldig te wees en veral om mekaar te verdra, maar dis wat die Here van ons vra. Dink net as elkeen mekaar in ag neem en eerder luister en verstaan in plaas van kritiseer, veroordeel en skinder of mekaar sleg maak by ander hoe gelukkig die wêreld sou wees. Die duiwel is slinks met sy leuens. Ons moet leer om hom te sien vir wat hy is: leuenaar en weghardloop van dit. Ons moet onsself instel op die waarheid wat Jesus ons leer: geduld, liefde, meegevoel, eerlikheid en daarin streef om iemand se omstandighede te verstaan deur te luister na hul kant van die storie. As ons die moeite doen om verskillende mense en kulture te verstaan en hul te groet en na hul te luister en verstaan hoekom hulle doen wat hulle doen sal ons moontlik ‘n beter samelewing kan bou. Daar is soveel verskille, maar daar is ook ooreenkomste veral as hulle ook Jesus Christus as hul verlosser aanvaar het. Ons moet die gawes wat die Here ons gegee het gebruik om Jesus se Naam uit te leef en sodoende mense nader aan hom trek instede van wegjaag. Bly fokus op die waarhede wat Jesus kom wys het en saai dit. Soms is die kleinste gebaar soos om ‘n vreemdeling te groet, al wat nodig is om vrede te betoon. Daai persoon gaan dalk deur ‘n donker tyd en jou groet en glimlag is dalk al wat hy/sy op daardie oomblik nodig het.