Jesus se heengaan is naby

Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Hom fluister, en hulle en die priesterhoofde het wagte gestuur om Hom gevange te neem. Jesus sê toe: “Nog net ‘n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek terug na Hom toe wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie.” Johannes 7:32-34 “My kinders, Ek is nog net ‘n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” Johannes 13:33-35 Jesus maak dit duidelik aan sy dissipels dat Hy net ‘n vir ‘n rukkie by hulle gaan wees voor Hy hemel toe gaan. Sy dissipels weet dus hulle het nie meer baie tyd saam met hom nie en kan dus die beste van die saak maak. Dis hartverskeurend want hulle het hom so innig lief dat hulle dit nie wil aanvaar nie. Ek leef elke dag met die wete dat dit vandag dalk iemand waarvoor ek lief is se laaste dag kan wees. Dis hartseer want die enigste sekerheid in die lewe is die dood, maar ons weet nie wanneer daardie dag aanbreek nie. So as jy lief is vir iemand hetsy familie, vriendskaplik of romanties wys dit vir daardie persoon. Ons almal wil graag weet dat ons waardeer word en dat iemand ons raaksien én ons liefhet. Ek moet bieg: voor ek besef het dat daar mense is wat my onvoorwaardelik liefhet het ek rondgedwaal en baie verkeerde besluite gemaak. Ek het liefde op verkeerde plekke gesoek en myself en mense wat werklik lief was vir my seergemaak. Die een ding wat ek vandag besef is dat Jesus die heeltyd by my was. Hy het in daardie donker verlore tyd vir my ‘n beste vriend gestuur wat my werklik bygestaan het en dit sonder dat ek dit besef het. Hy het my nooit veroordeel nie. Hy is eerlik met sy opinies en was elke dag teenwoordig. Dit het my lank gevat om te besef dat ek eintlik eers ‘n verhouding met myself en Jesus moes bou voor ek enigsins met iemand anders ‘n verhouding kan bou. Ek is nogsteeds baie bevoorreg om my ouers en baie naastes lewend te sien. Ek besef wel dat ek een of ander tyd ‘n oproep met slegte nuus sal ontvang en dit mag my moontlik breek, maar ek besef ook dat ek dankbaar moet wees dat ek nogsteeds goeie herinneringe saam met hulle kan bou. As jy vandag moet jammer sê of iemand moet laat weet dat jy vir hom of haar omgee doen dit! Tyd gaan nie vir jou en my wag nie. Die beste tyd is nou! Dank Jesus ook elke dag vir daardie mense in jou lewe wat jou innig lief het en vra Hom vir leiding wanneer jy moeilike besluite moet maak rakende mense wat jy moontlik op sy moet skuif om ‘n beter verhouding met Jesus te kweek.

Dood vir die sonde, maar lewend vir God

Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in Sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook julle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar weer lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade. Romeine 6:1-14 Voel jy ook gereeld skuldig dat jy sondige neigings het? Dankie tog Jesus is ons enigste Verlosser en nie meer ‘n boek met wette wat gehoorsaam moet word om hemel toe te gaan nie! Ek raak soms negatief en dink “wat sal die mense wat my 15 jaar terug geken het nou van my dink?” Ek meen ek verklaar nou dat ek Jesus se volgeling is en is nie skaam of bang om dit nou op die mou te dra nie, maar so 15 jaar terug se gedrag het ‘n heel ander prentjie geskep. Glad nie ‘n rolmodel nie! Ek sou liewer mense in die afgrond in help as hul net na my leefstyl sou kyk. Dis wat die duiwel kom doen: hy kom om jou leuens te vertel; om jou sleg te laat voel en te herinner aan die letsels wat jy oorhou van daardie verlore dae. Gelukkig kon ek my pad terug vind na God en tot die besef kom dat Hy my onvoorwaardelik lief het. Hy kom en gooi my “ou koeie” in die sloot en herinner my dat dit daar gevrot het en deur die kraaie en hyenas opgevreet is! “N Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” – Joh. 10:10 Ek kyk onlangs ‘n preek van Andries Vermeulen – Onthou die Eend – waar hy vertel van die seun wat die kosbare eend met sy kettie doodskiet. Sy sussie en ouma sien die daad. Die sussie kom en herinner hom aan sy “sonde” en boelie hom daardeur om haar take te verrig. Die ouma bly stil en wag geduldig totdat die seun uiteindelik genoeg gehad het en sy “sonde” aan haar verklaar. Haar reaksie was dat sy verbaas was dat hy so lank toegelaat het dat sy sussie hom boelie.  Andries verduidelik verder as iemand vir jou kom sê: “onthou die eend” moet jy onthou dat die Here sê: dit is afgehandel! Ons moet dalk fokus op die hier en nou en die pad wat ons vorentoe kies. Gooi die onnodige bagasie wat jy moontlik nog ronddra weg en kyk op. Jesus is ons enigste Herder wat genadiglik ons sonde op Hom geneem het. Leef vir Hom en weet dat jy verlos is van dit wat jou terughou om die beste weergawe van jouself te wees!

God se Gees woon binne my en jou

Die gelowiges as die gebou van God Julle is ook die gebou van God. Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ‘n goeie bouer die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is. Weet julle dan nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie. – 1 Korintiërs 3:10-16 Paulus skryf in sy brief aan die gemeente in Korinte dat hulle Jesus Christus as hulle fondament moet gebruik om hulle tempel te bou. Hy verwys hier na die figuurlike tempel as ‘n mens se liggaam omdat God se Gees binne elkeen van ons woon. Die fondament vir ons as Christene se leerstellings en leefstyl moet altyd Jesus Christus wees. Ek dink gister oggend hoe lekker ek geslaap het toe my twee seuns die nag saam met my in ons bed geslaap het. Gewoonlik raak die 2 jarige twee of drie keer in die nag wakker en dan staan ek op en sleep my voete so deur die slaap na hul kamer toe om my hand op sy bors te sit en vir hom te sê: “Dis ok. Mamma is hier.” Hy raak dan dadelik rustig en slaap verder. Ek raak of aan die slaap in sy bed en raak later wakker om weer in myne te gaan klim of staan op wanneer hy weer vas slaap net om later weer sy voetstappe te hoor wat by ons kom inklim omdat hy weer wakker geraak het en sy mamma soek omdat hy bang is. Ek dink toe: “Is ons nie maar almal van tyd tot tyd so nie? Bang en deurmekaar totdat ons daardie persoon of persone sien wat ons liefhet en ons omhels en daardie vertroostende woorde – dis ok – spreek nie?” Wat gemaak as ons die dag alleen is en deur so ‘n oomblik gaan? Hier kom Paulus en sê vir ons dat die Gees van God in ons woon met ander woorde ons is eintlik NOOIT alleen nie. God se Gees leef dan in ons. God is altyd by ons want sy Gees is by ons. Hoe kyk ek dit al die jare mis? Hoe voel ek jammer vir myself en gaan sit in “sak en as” as God se Gees binne my woon? Ek het vir baie jare Hom misgekyk. Dis die leuens van die wêreld: Jy is nie goed genoeg nie. Jy verdien nie geluk nie. Twak! Die Here het sy enigste Seun gestuur om vir my sondes te kom sterf – DIS LIEFDE! En dan kom woon Sy Gees ook binne-in my! – DIS GENADE! Nou is dit ek wat my geskenke moet aanvaar deur in Jesus Christus van Naseret te glo en elke dag dankie te sê vir al my seëninge! Ek het so baie! Ek kan nie toelaat dat die wêreld vir my kom lieg nie! As ek bang voel of net voel asof ek “in sak en as” wil gaan sit en myself jammer kry onthou ek om in gesprek te tree met die Gees wat binne my leef. Dis daar wat ek die woorde: “dis ok” hoor en so warm gevoel van liefde beleef. Dis asof Hy dan sy hand op my bors sit.