Voorkoms
Maar Hy sê vir Samual: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”
– 1 Samuel 16:7
Hoeveel keer misluk ons in die wêreld se oë?
Ek onthou toe ek nog op hoërskool was kon ek nie eers my twee beste vriendinne gelyk tevrede stel nie; hul het uit ander oogpunte na iets gekyk en dit het my net weereens laat dink aan my ma se woorde toe ek op laerskool was en mense het my gespot as “bugs bunny” omdat my voortande altyd uitgestaan het as gevolg van my onderste kaak wat 11mm te kort was: “hoekom gee jy om wat mense dink? F! die mense! Ons is die mense!” Ek sal nie sommer gou daardie woorde van my ma vergeet nie en ek het baie keer dit oor en oor vir myself gesê wanneer die wêreld sy druk op my uitgeoefen het.
Dit gaan nie oor jou nie, maar iemand anders se mislukkings en hul tekort aan selfvertroue. In my kort lewe het ek beleef hoe lelik mense kan wees omdat hulle self onseker van hulself of ongelukkig is en dan jou ongelukkig wil maak sodat hul beter oor hulself kan voel.
Net soos die wêreld vir jou wil sê hoe jy moet lyk, eet, voel of wat jy moet ry net so sê Jesus vir jou hoe jy goed genoeg is net soos wat jy is. Jy moet besluit na wie jy gaan luister. Onthou die wêreld skree maar as jy stil raak en afskakel sal jy daardie “jy is goed genoeg vir my” stem hoor.
Net soos Samual gedink het dat die grootste en beste die volgende koning sou word verras God hom en Hy stel hom voor aan die jong, klein, nog nat agter die ore, Dawid. Die een wat uitgekies is om Goliat te verslaan en later die koning sal word van God se mense omdat sy hart reg was. Mense het hom uitgelag toe hy sê hy sal Goliat aanvat. Dieselfde mense wat te bang was om teen Goliat te veg.
Kyk minder in die spieël en as jy doen herinner jouself hoe bevoorreg jy is om uitgekies te wees om een van God se kinders te wees.
Maak God jou middelpunt van bestaan en sien hoe jy ook in jouself groei.