Reënboog – God se belofte

Genesis 9:12-16 Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, ‘n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. Wanneer Ek wolke oor die aarde laat sampak, en die reënboog verskyn in hulle, sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.” Wanneer ek kyk na die wêreld en al die hartseer en veral die geweld raak ek soms bang en wonder dan waar God is. Ek bid dan dikwels dadelik en vra hom om asseblief by ons te wees en ons te beskerm. Ek was onlangs saam my man na ‘n gaste plaas om vir een aand net weg te breek van al die gemors van die wêreld en pes en tegnologie en nuus en negatiwteit en net ‘n bietjie kwaliteit tyd saam met my man te spandeer. Dit was koud en het begin reën, maar gelukkig was daar ‘n kaggel en hout. Ons besluit toe om ‘n entjie te gaan stap toe die reën vir ‘n rukkie ophou. Die uitsig van berge wat ons omsingel in die Karoo was net wat ons nodig gehad het. Die stilte en die kosbaarheid van die natuurskoon maak my siel rustig en toe antwoord God ons ook met ‘n pragtige reënboog om ons te herinner dat Hy steeds by ons is. Hy hou steeds sy belofte na soveel geslagte en beskerm ons. Soms moet mens net weer in die stilte gaan sit om weer God se stem te hoor. Vergeet van selfoon opvangs en tegnologie en nuus en mense en hul dinge en finansies en en en en… die lys kan nogals lank raak. In hierdie moeilike en dikwels onverstaanbare tye moet ons stil raak en onthou dat God nog altyd daar was en ook daar sal wees. Die Skepper van hemel en aarde is lief vir ons en wil ons beskerm. Ons moet Hom net toelaat om dit te doen.

Aanhouer wen of sit op ‘n hoop as en vergaan?

Genesis 31:29-31 Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën. Toe noem Jakob die plek Pniël; want het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered. Moet nie opgee nie! Dis die boodskap wat ek vanoggend gekyk het van oom Angus waar hy praat van die verhaal van Jakob. Dit is treffend omdat die verhaal van Jakob een is waaruit ons kan leer. God het hom geseën maar omdat hy teen God, sy pa en ook sy broer gesondig het, het God hom ook gestraf deur mank te laat bly vir die res van sy lewe. Soos oom Angus noem het die sondes wat mens pleeg baie keer nagevolge en dit moet jy by jou dra vir die res van jou lewe, maar jy is steeds gered wanneer jy na God roep. Jakob moes 14 jaar vir sy skoonpa werk voordat hy met die vrou wat hy liefgehad het kon trou. Dit vat omtrent uithoevermoë. Ek weet darem nie of ek dit sal kan doen nie. Sou jy? Soos hulle sê: aanhouers wen! Ek dink dis maklik om gou tou op te gooi veral vandag, maar God hou sy woord en sal bly sorg. Ons moet net begin glo en raaksien wat Sy plan vir ons is. Jakob het besef dat hy verkeerd was teenoor sy broer en God en sy pa en het gevlug van sy skoonpa se huis af om ‘n nuwe lewe te begin met sy familie. Die vrese van vlug soos ‘n dief in die nag kon nie lekker wees nie, maar tog het hy God gesoek en met God geworstel en wou nie God los totdat God hom seën nie. Ek weet dis vandag nie maklik om altyd positief te bly nie, veral nie in die huidige omstandighede nie. Ons kyk dalk te veel wat in die media aangaan en dit gaan baie sleg maar met die slegte dinge is daar ook besig om goeie dinge te gebeur. Ons sien mense wat hulle hande uitsteek en te werk gaan om ander te help afgesien van agtergrond of voorkoms. In die moeilike tye besef mens hoe barmhartig mense werklik is. Mense wat self nie baie het om te gee nie maar tog gee omdat daar iemand is wat dit meer nodig het as hulle. Dis in die moeilike tye wat ons onself en ander mense werklik leer ken. Dit kan mens se aanhouer wen persoonlikheid of die gaan sit op ‘n hoop as en vergaan persoonlikheid uitbring. Ons moet introspeksie gaan doen om te bepaal watter een dit gaan wees, maar wees gerus dat God saam met jou sal wees. Praat met God en vertel hom wat in jou hart aangaan al weet hy dit reeds. Soms moet jy net alles aan God oorgee en opstaan en te werk gaan aan die volgende hoofstuk in jou lewe en dit met God aan jou sy.