Reënboog – God se belofte
Genesis 9:12-16
Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, ‘n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. Wanneer Ek wolke oor die aarde laat sampak, en die reënboog verskyn in hulle, sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”
Wanneer ek kyk na die wêreld en al die hartseer en veral die geweld raak ek soms bang en wonder dan waar God is. Ek bid dan dikwels dadelik en vra hom om asseblief by ons te wees en ons te beskerm.
Ek was onlangs saam my man na ‘n gaste plaas om vir een aand net weg te breek van al die gemors van die wêreld en pes en tegnologie en nuus en negatiwteit en net ‘n bietjie kwaliteit tyd saam met my man te spandeer. Dit was koud en het begin reën, maar gelukkig was daar ‘n kaggel en hout. Ons besluit toe om ‘n entjie te gaan stap toe die reën vir ‘n rukkie ophou.
Die uitsig van berge wat ons omsingel in die Karoo was net wat ons nodig gehad het. Die stilte en die kosbaarheid van die natuurskoon maak my siel rustig en toe antwoord God ons ook met ‘n pragtige reënboog om ons te herinner dat Hy steeds by ons is. Hy hou steeds sy belofte na soveel geslagte en beskerm ons.
Soms moet mens net weer in die stilte gaan sit om weer God se stem te hoor. Vergeet van selfoon opvangs en tegnologie en nuus en mense en hul dinge en finansies en en en en… die lys kan nogals lank raak.
In hierdie moeilike en dikwels onverstaanbare tye moet ons stil raak en onthou dat God nog altyd daar was en ook daar sal wees. Die Skepper van hemel en aarde is lief vir ons en wil ons beskerm. Ons moet Hom net toelaat om dit te doen.