Aanhouer wen of sit op ‘n hoop as en vergaan?
Genesis 31:29-31
Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën. Toe noem Jakob die plek Pniël; want het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered.
Moet nie opgee nie!
Dis die boodskap wat ek vanoggend gekyk het van oom Angus waar hy praat van die verhaal van Jakob.
Dit is treffend omdat die verhaal van Jakob een is waaruit ons kan leer. God het hom geseën maar omdat hy teen God, sy pa en ook sy broer gesondig het, het God hom ook gestraf deur mank te laat bly vir die res van sy lewe.
Soos oom Angus noem het die sondes wat mens pleeg baie keer nagevolge en dit moet jy by jou dra vir die res van jou lewe, maar jy is steeds gered wanneer jy na God roep.
Jakob moes 14 jaar vir sy skoonpa werk voordat hy met die vrou wat hy liefgehad het kon trou. Dit vat omtrent uithoevermoë. Ek weet darem nie of ek dit sal kan doen nie. Sou jy? Soos hulle sê: aanhouers wen! Ek dink dis maklik om gou tou op te gooi veral vandag, maar God hou sy woord en sal bly sorg. Ons moet net begin glo en raaksien wat Sy plan vir ons is.
Jakob het besef dat hy verkeerd was teenoor sy broer en God en sy pa en het gevlug van sy skoonpa se huis af om ‘n nuwe lewe te begin met sy familie. Die vrese van vlug soos ‘n dief in die nag kon nie lekker wees nie, maar tog het hy God gesoek en met God geworstel en wou nie God los totdat God hom seën nie.
Ek weet dis vandag nie maklik om altyd positief te bly nie, veral nie in die huidige omstandighede nie. Ons kyk dalk te veel wat in die media aangaan en dit gaan baie sleg maar met die slegte dinge is daar ook besig om goeie dinge te gebeur. Ons sien mense wat hulle hande uitsteek en te werk gaan om ander te help afgesien van agtergrond of voorkoms. In die moeilike tye besef mens hoe barmhartig mense werklik is. Mense wat self nie baie het om te gee nie maar tog gee omdat daar iemand is wat dit meer nodig het as hulle.
Dis in die moeilike tye wat ons onself en ander mense werklik leer ken. Dit kan mens se aanhouer wen persoonlikheid of die gaan sit op ‘n hoop as en vergaan persoonlikheid uitbring.
Ons moet introspeksie gaan doen om te bepaal watter een dit gaan wees, maar wees gerus dat God saam met jou sal wees. Praat met God en vertel hom wat in jou hart aangaan al weet hy dit reeds. Soms moet jy net alles aan God oorgee en opstaan en te werk gaan aan die volgende hoofstuk in jou lewe en dit met God aan jou sy.