Wees op julle hoede
Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie. “Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.”
- Matteus 24:42-44
Ek lees die afgelope tyd die boek Jesus Freaks wat heelwat verhale bevat oor mense wat nie ingegee het wanneer hulle voor ‘n raad gestaan het om Jesus te verloën nie. Hulle het gekies om vir Jesus ‘n marteldood te sterf.
Dit verstom my dat dit nogsteeds gebeur! Ons is so bevoorreg om in ‘n land te bly waar ons Paasfees en kersfees mag vier; waar ons kerk toe mag gaan en openlik God se naam mag verkondig.
Ek huil soms wanneer ek van die verhale lees. Die een wat my die meeste getref het is waar ‘n gesin Jode weggesteek het tydens Hitler se slagting met die tweede wêreldoorlog. Die vrou en haar gesin het geweier om toe te gee met inligting oor waar hulle die mense weggesteek het. Sy is telkemale deur die gesig geslaan en gemartel maar het nie ingegee nie. Sy was vas oortuig dat dit die regte ding was om te doen omdat die Here van ons verwag dat ons sy mense beskerm teen diè wat iemand anders aanbid en uitbuit of onnodig doodmaak. Sy het uitendelik haar gesin verloor en het in die konsentrasiekamp steeds vrouens bemoedig. Sy is later vrygelaat en die res van die vrouens is doodgemaak. Later besef sy haar vrylating was vanweë ‘n administatiewe fout. Sy het Duitsland verlaat, maar jare later teruggekom om haar storie te vertel en mense te bemoedig om Jesus te volg. Sy het ook een van haar martelaars herken en die man het in trane uitgebars en haar om vergifnis gevra en tot die besef gekom dat Christus die ware geloof is. Sy het hom vergewe en haar roeping verder uitgeleef.
Sal ek dit kan doen? Sal jy dit kan doen?
Dis iets wat ek hoop die Here nooit voor my deur kom sit nie. Soos ek nou hier sit val daar weer ‘n traan en ek besef ek is so geseënd met alles wat die Here al vir my gegee het en ook die wondere wat net Hy kan verrig.
Wees bedag vir die duiwel en sy leuens oor jou en ander. Leef God se naam uit ten spyte van die opinies van ander. God is ons lewende water, nie mense en hul dinge nie.