Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here. “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. Romeine 12:9-21 Hoe maklik is die bogenoemde nie? As onsself net kan inspan om liedevol op te tree kan ons maklik die boonste riglyne volg, maar en dis ‘n groot maar dit raak moeilik wanneer emosies ons dryf. Ek bedoel hoe kan jy van my verwag om my vyand kos te gee of iemand te vergewe wat my erge leed aangedoen het? Vir my is dit baie moeilik om dit te doen en tog vra die Here ons moet! Ek probeer aan my emosies werk om minder kwaad te word en as ek doen om die kwaad in ‘n goeie rigting te stuur soos byvoorbeel: as ek kwaad word vir die mense aan die stuur van ons land neem ek daardie kwaad en kyk waar ek op grondvlak betrokke kan raak om mense om my te help om dit wat ek voel te bekamp al vat dit baie lank en moet jy deel raak van ‘n groep wat saam oplossings vind en sodoende in ‘n volhoubare goeie manier opstaan teen dit wat ons kwaad maak. Om liefde uit te straal is maklik wanneer dit goed gaan, maar dit word behoorlik getoets wanneer dinge sleg gaan. Ek dink die resep vir sukses lê daarin om eers jou emosies onder beheer te kry en deesdae praat ek met God. Ek sê presies wat ek op daardie oomblik voel en word dan rustiger en kan nugter dink nadat ek eers alles van my hart af gekry het. Gaan probeer dit die week. Elke keer wanneer jy ‘n baie goeie emosie ervaar sê vir God dan en daar dankie en elke keer wanneer jy ‘n slegte emosie ervaar sê vir God. Dit kan so eenvoudig wees soos jy beleef angs en jy sê vir God: “help!”. Probeer ‘n gesprek met God voer gedurende jou dag soos dinge gebeur ek kyk hoe dit jou gemoed en verhouding met Hom verander.
Jesus en die Samaritaanse vrou
Johannes 4:1-26 1Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes. – 2Eintlik was dit nie Jesus wat gedoop het nie, maar sy dissipels. – 3Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan. 4Hy moes deur Samaria gaan. 5Hy kom toe by ‘n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. 7Daar kom toe ‘n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My ‘n bietjie water om te drink.” 8Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop. 9Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie. 10Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My ‘n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” 11Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? 12Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?” 13Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” 15Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.” 16Hy sê toe vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.” 17Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie ‘n man nie.” En Jesus sê vir haar: “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ‘n man nie.’ 18Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.” 19Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, ek sien dat u ‘n profeet is. 20Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ‘n mens God moet aanbid, is in Jerusalem.” 21Jesus sê toe vir haar: “Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. 22Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode. 23Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. 24God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.” 25Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.” 26Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” Groet jy of praat jy graag met vreemdelinge? Ek weet ek is soms te haastig en ander kere weer heeltemal te vriendelik en groet almal links en regs. Soms is daar mense wat ‘n groot impak op jou lewe kan maak as jy net gewillig is om hulle te groet en te leer ken. Soms is dit die laaste persoon of persoonlikheid wat jy verwag wat juis die goeie uit jou bring, jou bemoedig en selfs ‘n inspirasie kan wees. Soms raak daardie persoon jou beste adviseur of vriend/vriendin. Ons moet bereid wees om Jesus in almal en alles te soek. Hy maak vir ons deure oop wat ons verstand te bowe gaan, maar ons moet onsself oopstel om hierdie deure oop te maak. Gaan sit vandag in die tuin of by die see of staar na ‘n vuur of die wye vlaktes en dink terug aan iemand wat jy nooit sou groet of eens ‘n vriend sou noem nie omdat hy/sy net nie in kop by jou sou inpas nie. Is daardie persoon vandag ‘n vriend/vriendin wat jou steeds inspireer? Indien wel wees dankbaar dat jy die kans gevat het om ‘n vreemdeling in te nooi en gaan uit en wees die steunpilaar van ‘n vreemdeling wat dit moontlik vandag broodnodig het.
Johannes – Die apostel van Liefde
Werklike liefde is dìt: nie die liefde wat God vir ons het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. Johannes 4:10-12 Johannes was een van Jesus se geliefkoosde dissipels ten spyte van die feit dat hy Jesus gevra het dat hy en sy broer Jakobus aan sy linker- en regterhand sit wanneer hulle hemel toe gaan. Dit het Jesus kwaad gemaak omdat hulle onmin tussen die ander dissipels veroorsaak het. Jesus het Johannes gou daarop gelet dat net God kies wie hy waar in Sy koningkryk sit. Johannes was ook ‘n geharde man omdat hy ‘n visserman was. Hy het vinnig sy humeur verloor en dikwels mense veroordeel omdat hy nie met hulle besluite saamgestem het of nie deel van hulle volk was nie. Jesus het hom vinnig tereggewys wanneer hy so opgetree het en hom tot die besef gebring dat elkeen wat Jesus en die Here saam aanbid ‘n volgeling is en dat Hy hulle liefhet. Dit was ‘n bitter pil om te sluk, maar Johannes het uiteindelik tot die besef gekom dat Jesus liefde is en dat sy volgelinge mekaar moet liefhê, maar meer as dit dat ons almal mekaar moet liefhê ten spyte van ons verskille omdat die Here ons almal liefhet. In vandag se lewe is dit so maklik om soos Johannes te voel dat jy beter verdien as die ander in jou kring omdat jy jouself as beter sien, maar in God se oë is ons almal wat Hom dien ewe belangrik. Ons moet dus mekaar ophelp en saamstaan instede daarvan dat ons onmin saai. Help die week iemand liefde sien. Die kleinste gebaar soos ‘n glimlag of hello vir ‘n vreemdeling kan daardie persoon se dag opkikker. God is liefde en daarom moet ons ook liefde uitstraal.