As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 1 Johannes 1:8-9 Wat is dit wat eerste by jou opkom as iemand jou oor Jesus se geliefkoosde dissipel, Petrus, vra? Baie mense antwoord dat hy Jesus 3 keer verraai het toe die haan kraai. Dit laat my besef dat ons dikwels negatief ingestel is en kies om die negatiewe te onthou in plaas van die positiewe. Na hierdie bevinding het ek doelbewus ‘n keuse gemaak om dinge te identifiseer wat my denke negatief beïnvloed en dit met positiewe reaksies te vul. Ons het ‘n ruk terug deur die boek “In die voetspore van Jesus” deur Piet Meiring in ons bybelstudie gegaan en ek het dadelik ‘n debat in my eie gedagtes gevoer oor die negatiewe en positiewe denke wat jou dryf om dinge te onthou. Meeste mense het gesê hulle onthou Petrus se veloëning terwyl my denke gegaan het na die feit dat hy so getrou was aan Jesus dat hy ‘n magdom mense na Jesus gelei het en dat hy as te ware die eerste kerk gebou het. Hy was so lojaal aan Jesus dat hy gevra het om onderstebo gekruising te word omdat hy nie dieselfde glorie as Jesus verdien om soos Jesus gekruisig te word nie. Die wêreld se uitkyk is negatief. Dis hoekom ons dikwels die goeie nuus iewers anders as nuuskanale moet gaan soek. Ek het doelbewus ‘n besluit gemaak om nie nuus te lees of kyk wat my in ‘n negetiewe put sal laat sink nie. Ek gaan soek liewer die goeie nuus soos ‘n menseregte organisasie wat belangrike sake maak en wen teen ‘n mislukte staat wat onregverdig optree en steel. Die Here het ons gewaarsku om nie soos die wêreld te wees nie, maar Hom te volg. Vertrou Hom en gaan te werk om die goeie te doen. Hoekom dink jy was Jesus so ontsettend lief vir Petrus? In my opinie is dit omdat Jesus geweet het daar is niemand meer lojaal as Petrus om sy koningkryk te bou nie. Jesus het Petrus se hart gesien en geweet dat hy impulsief, vining van humeur, emosioneel, avontuurlustig en lojaal was. Hy het geweet hierdie man sal veg tot die einde al sou hy een keer wankel en ontken dat hy Jesus ken. Ons weet nie hoekom Petrus vir die diensmeisie gesê het dat hy nie vir Jesus ken nie, maar toe daardie haan kraai is dit asof iets in Petrus ontplof en hy tot die besef kom dat Jesus al die tyd geweet het wat hy sou dink en doen. Dit het hom so getref dat hy in selfverwyt geval het en gehuil het. Hy kon homself eers vergewe to Jesus hom vergewe en dït was die vuur wat hom vir die res van sy lewe gelei het na die bou van Jesus se kerk. Ons almal het sonde iewers in ons verlede en iets wat jy dalk saamdra, maar jy sal nooit los en vrygemaak wees as jy dit nie na Jesus toe vat en ook jouself vergewe nie. Ons almal misluk van tyd tot tyd, maar dit beteken nie dat die Here jou minder lief het nie. Hy weet wanneer jy iets goed vir aandag en aansien doen en wanneer jy dit doen om werklik ‘n verskil in iemand anders se lewe te maak. Kies vandag om doelbewus weg te draai van die negatiewe en soek Jesus en die goeie. Kies om oplossings te sien in plaas van probleme. Die Here ken ons harte. Ken jy joune?