Die gelowiges as die gebou van God Julle is ook die gebou van God. Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ‘n goeie bouer die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is. Weet julle dan nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie. – 1 Korintiërs 3:10-16 Paulus skryf in sy brief aan die gemeente in Korinte dat hulle Jesus Christus as hulle fondament moet gebruik om hulle tempel te bou. Hy verwys hier na die figuurlike tempel as ‘n mens se liggaam omdat God se Gees binne elkeen van ons woon. Die fondament vir ons as Christene se leerstellings en leefstyl moet altyd Jesus Christus wees. Ek dink gister oggend hoe lekker ek geslaap het toe my twee seuns die nag saam met my in ons bed geslaap het. Gewoonlik raak die 2 jarige twee of drie keer in die nag wakker en dan staan ek op en sleep my voete so deur die slaap na hul kamer toe om my hand op sy bors te sit en vir hom te sê: “Dis ok. Mamma is hier.” Hy raak dan dadelik rustig en slaap verder. Ek raak of aan die slaap in sy bed en raak later wakker om weer in myne te gaan klim of staan op wanneer hy weer vas slaap net om later weer sy voetstappe te hoor wat by ons kom inklim omdat hy weer wakker geraak het en sy mamma soek omdat hy bang is. Ek dink toe: “Is ons nie maar almal van tyd tot tyd so nie? Bang en deurmekaar totdat ons daardie persoon of persone sien wat ons liefhet en ons omhels en daardie vertroostende woorde – dis ok – spreek nie?” Wat gemaak as ons die dag alleen is en deur so ‘n oomblik gaan? Hier kom Paulus en sê vir ons dat die Gees van God in ons woon met ander woorde ons is eintlik NOOIT alleen nie. God se Gees leef dan in ons. God is altyd by ons want sy Gees is by ons. Hoe kyk ek dit al die jare mis? Hoe voel ek jammer vir myself en gaan sit in “sak en as” as God se Gees binne my woon? Ek het vir baie jare Hom misgekyk. Dis die leuens van die wêreld: Jy is nie goed genoeg nie. Jy verdien nie geluk nie. Twak! Die Here het sy enigste Seun gestuur om vir my sondes te kom sterf – DIS LIEFDE! En dan kom woon Sy Gees ook binne-in my! – DIS GENADE! Nou is dit ek wat my geskenke moet aanvaar deur in Jesus Christus van Naseret te glo en elke dag dankie te sê vir al my seëninge! Ek het so baie! Ek kan nie toelaat dat die wêreld vir my kom lieg nie! As ek bang voel of net voel asof ek “in sak en as” wil gaan sit en myself jammer kry onthou ek om in gesprek te tree met die Gees wat binne my leef. Dis daar wat ek die woorde: “dis ok” hoor en so warm gevoel van liefde beleef. Dis asof Hy dan sy hand op my bors sit.
Voorkoms
Maar Hy sê vir Samual: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” – 1 Samuel 16:7 Hoeveel keer misluk ons in die wêreld se oë? Ek onthou toe ek nog op hoërskool was kon ek nie eers my twee beste vriendinne gelyk tevrede stel nie; hul het uit ander oogpunte na iets gekyk en dit het my net weereens laat dink aan my ma se woorde toe ek op laerskool was en mense het my gespot as “bugs bunny” omdat my voortande altyd uitgestaan het as gevolg van my onderste kaak wat 11mm te kort was: “hoekom gee jy om wat mense dink? F! die mense! Ons is die mense!” Ek sal nie sommer gou daardie woorde van my ma vergeet nie en ek het baie keer dit oor en oor vir myself gesê wanneer die wêreld sy druk op my uitgeoefen het. Dit gaan nie oor jou nie, maar iemand anders se mislukkings en hul tekort aan selfvertroue. In my kort lewe het ek beleef hoe lelik mense kan wees omdat hulle self onseker van hulself of ongelukkig is en dan jou ongelukkig wil maak sodat hul beter oor hulself kan voel. Net soos die wêreld vir jou wil sê hoe jy moet lyk, eet, voel of wat jy moet ry net so sê Jesus vir jou hoe jy goed genoeg is net soos wat jy is. Jy moet besluit na wie jy gaan luister. Onthou die wêreld skree maar as jy stil raak en afskakel sal jy daardie “jy is goed genoeg vir my” stem hoor. Net soos Samual gedink het dat die grootste en beste die volgende koning sou word verras God hom en Hy stel hom voor aan die jong, klein, nog nat agter die ore, Dawid. Die een wat uitgekies is om Goliat te verslaan en later die koning sal word van God se mense omdat sy hart reg was. Mense het hom uitgelag toe hy sê hy sal Goliat aanvat. Dieselfde mense wat te bang was om teen Goliat te veg. Kyk minder in die spieël en as jy doen herinner jouself hoe bevoorreg jy is om uitgekies te wees om een van God se kinders te wees. Maak God jou middelpunt van bestaan en sien hoe jy ook in jouself groei.
Woorde het mag
So is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. ‘n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. Jakobus 3:5-6 Deesdae volg ek Andrew Wommack (www.awmi.net). Hy het ‘n manier om dinge in perspektief te sit. Ek raak soms baie verward omdat ek nie die Bybelverse heeltemal verstaan nie, maar dan volg ek ‘n tema van Andrew en hy verduidelik dit in eenvoud. Ek volg op die oomblik sy “Effortless Change” reeks en hy vertel hoe ons versigtig moet wees oor wat ons oor onsself spreek. As jy negatiewe dinge oor jou lewe gaan spreek of toelaat dat ander mense dit spreek en jy dit aanvaar sal jy dit beleef. Dieselfde is waar wanneer jy begin om positiewe dinge oor jou lewe te spreek. Dit laat my dink aan Henry Ford se woorde: “Whether you think you can, or you think you can’t – you’re right.” Dit is so maklik om negatief te raak en dink omdat die wêreld se mense daarvan hou om te kla en negatief op te tree, maar die mag van God lê binne ons om dit teen te staan, om op te staan en nee te sê vir die ongeloof wat heers. Ons moet ons fokus skuif en op God en sy doel vir ons fokus in plaas van die leuens van die duiwel. Dit begin met ‘n doelgerigte besluit en net jy kan daardie besluit maak. Kies die lewe. Kies God.