Reënboog – God se belofte

Genesis 9:12-16 Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, ‘n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. Wanneer Ek wolke oor die aarde laat sampak, en die reënboog verskyn in hulle, sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.” Wanneer ek kyk na die wêreld en al die hartseer en veral die geweld raak ek soms bang en wonder dan waar God is. Ek bid dan dikwels dadelik en vra hom om asseblief by ons te wees en ons te beskerm. Ek was onlangs saam my man na ‘n gaste plaas om vir een aand net weg te breek van al die gemors van die wêreld en pes en tegnologie en nuus en negatiwteit en net ‘n bietjie kwaliteit tyd saam met my man te spandeer. Dit was koud en het begin reën, maar gelukkig was daar ‘n kaggel en hout. Ons besluit toe om ‘n entjie te gaan stap toe die reën vir ‘n rukkie ophou. Die uitsig van berge wat ons omsingel in die Karoo was net wat ons nodig gehad het. Die stilte en die kosbaarheid van die natuurskoon maak my siel rustig en toe antwoord God ons ook met ‘n pragtige reënboog om ons te herinner dat Hy steeds by ons is. Hy hou steeds sy belofte na soveel geslagte en beskerm ons. Soms moet mens net weer in die stilte gaan sit om weer God se stem te hoor. Vergeet van selfoon opvangs en tegnologie en nuus en mense en hul dinge en finansies en en en en… die lys kan nogals lank raak. In hierdie moeilike en dikwels onverstaanbare tye moet ons stil raak en onthou dat God nog altyd daar was en ook daar sal wees. Die Skepper van hemel en aarde is lief vir ons en wil ons beskerm. Ons moet Hom net toelaat om dit te doen.

Waarskuwing teen huigelary

Lukas 12:1-3 Die mense het intussen by die duisende saamgedrom en mekaar vertrap. Toe het Jesus begin praat en Hom in die eerste plek tot sy dissipels gerig: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is hulle huigelary. Daar is niks bedek wat nie onthul sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die daglig gehoor word; en wat julle agter geslote deure vir iemand in die oor gefluister het, sal van die dakke af uitgebasuin word.” DIE BYBEL IN PRAKTYK gee duidelik oor die bogenoemde as volg: Terwyl groot skares mense na Jesus kom luister het, het Hy sy dissipels teen huigelary gewaarsku. Dit beteken dat ‘n mens goed probeer voorkom terwyl jou hart in werklikheid ver van God af is. Die Fariseërs kon nie hulle gesinheid vir altyd wegsteek nie. Hulle selfsug sou soos suurdeeg meer word en hulle sou kort voor lank ontmasker word. Dan sou almal hulle kon sien soos wat hulle regtig was – selfsugtige bedrieërs, en nie toegewyde godsdienstige leiers nie. Ons moet sorg dat ons meer begaan is oor ons verhouding met God as oor hoe om mense met ‘n uiterlike godsdienstigheid te beїndruk. Ons verhouding met God kan selfs beteken dat ons teenkanting en spot sal moet verduur omdat ons vir Christus standpunt inneem. Hoe waar is bostaande nie vandag nog nie. Ons bly mens. Ons bly sondaars. Dis net ‘n goeie verhouding met ons Vader, Jesus en Heilige Gees wat ons van die sondige wêreld kan red. Dink maar terug in jou eie lewe hoe ander mense en hul huigelary jou pyn veroorsaak het òf hoe jy dalk die oorsaak was van iemand anders se pyn en erger nog jou eie pyn deur jou optrede. Dis ‘n seer wat jare later nog by jou sal bly. Dis maklik as iemand jou deur die gesig slaan en die swelling sak en oor ‘n maand is daar nie meer ‘n merk nie – jy vergeet dit maklik maar waaneer iemand emosionele skade aan jou rig dan raak jy selde van die pyn ontslae omdat jy elke nou en dan ‘n letsel van die pyn in jou lewe opmerk. Ons leef nie vandag in ‘n anderste wêreld as wat Jesus gelewe het nie – die tegnologie verskil net. Net soos Jesus en sy dissipels huigelary, politiekelary, uitbuiting, haat, geweld, moord en roof aanskou het, woed dit vandag steeds voort en die ergste van alles is dat Jesus deur een van sy geliefde vriende (Judas) verraai is – iets wat nog daagliks gebeur – en dit is die seerste seer – wanneer iemand wat na aan jou is jou verraai of emosionele leed aandoen hetsy deur ‘n geskinder, jaloesie, afguns of jou sleg maak by jou naastes deur leuens te vertel en net omdat hulle selfsugtig is of minderwaardig voel en die aansien of aandag wil kry. Ek weet ek is glad nie perfek nie en moed liefs nie nuus kyk of lees nie, want dan pleeg ek vinnig in my kop sonde – verwens mense, veroordeel mense en voel dikwels sekere mense sou beter af dood as lewend wees as gevolg van die pyn en lyding wat hul uitdeel maar ek is nie ‘n regter nie. God is uiteindelik die Regter wat sal oordeel. Dit begin by my en my verhouding met God. Ek kies om ‘n pad saam met Hom te loop en dus moet ek in Jesus se voetspore volg. Ek moet getrou bly aan die waarheid en eerlik wees in my doen en late. As jy nie eerlik kan wees nie, is jy ‘n leuenaar. Onthou wat Jesus in Lukas 12 aan sy dissipels sê. Dit geld vandag nog. Al vat dit 2 minute of selfs 400  jaar – die waarheid kom uit. Leef in so ‘n manier dat jy nooit hoef skaam te wees oor wat jy sê of doen nie. As iemand jou blatant vra of jy dit of dat gesê het moet jy sonder skaamte ‘n ja of nee antwoord kan gee. Doen wat Jesus sou doen en nie wat die huigelaar sou nie.

Chaos

Psalm 18:1-37 Vir die koorleier. ‘n Lied van Dawid, die dienaar van die Here. Hy het dié woorde tot die Here gerig op die dag toe die Here hom gered het uit sy mag van al sy vyande en uit die mag van Saul. Hy het gesê: “Ek het U baie lief, Here, my Sterkte. Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting. Onder bespotting roep ek na die Here, dan word ek van my vyande verlos. Bande van die dood het my omsluit, strome van onheil het my verskrik. Bande van die doderyk het my vasgetrek, strikke van die dood het my bedreig. In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep. Ek roep na Hom om hulp, en Hy luister na my. Die aarde het geskud en gebewe, die fondamente van die berge het getril en geskud, want Hy was vertoorn. Rook het uit sy neus getrek, vuur uit sy mond het alles verteer, gloeiende kole uit sy binneste. Hy het die hemel afgebuig en afgekom, onder sy voete was duisternis. Hy het op ‘n gerub geklim en gevlieg; op die vleuels van die wind het Hy nadergesweef. Hy het Hom in donkerte gehul, donker waters en wolkemassas was sy bedekking. Uit die gloed voor Hom het wolke getrek, hael en weerligstrale. Die Here het dit uit die hemel laat dreun, die Allerhoogste het sy stem laat hoor in hael en weerligstrale. Hy het sy pyle afgeskiet en die vyand uitmekaar gejaag, hulle met ‘n menigte weerlikgstrale op loop gejaag. Die seebodem het sigbaar geword, die fondamente van die aarde is blootgelê deurdat U, Here, op hulle gebulder het met die orkaan van u toorn. Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. Hy het my gered van my vyand wat sterk was, van my haters toe hulle vir my te magtig was. Die dag toe hulle my aangeval het, was my ondergang naby, maar die Here het my daarvan bewaar. Hy het my in vryheid laat uitgaan. My gered omdat Hy my liefhet. Die Here het aan my reg laat geskied, Hy het my onskuld aanvaar, want ek het die wil van die Here gehoorsaam en my nie teenoor my God skuldig gemaak nie; ek het my deur al sy bepalings laat lei en nie van sy voorskrifte afgewyk nie. Ek was opreg voor Hom, ek was op my hoede teen enige ongeregtigheid. Die Here het aan my reg laat geskied, want ek was onskuldig in sy oë. U betoon U getrou teenoor die opregte, rein teenoor die reine, maar U verwerp die huigelaar. U red die verdrukte volk, U verneder die trotses. U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my. Met u hulp loop ek ‘n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie. Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy. Waarlik, wie anders as die Here is God? Ja, wie anders as ons God is ‘n rots? God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan. Hy leer my hande om oorlog te maak, my arms om selfs die stramste boog te span. Die redding wat U gebring het, was vir my ‘n beskerming, U regterhand het my ondersteun, deur U hulp het ek sterk geword. U het my ruim vastrapplek gegee, my enkels het nie geswik nie.  Vers 14: …die Allerhoogste het sy stem laat hoor in hael en weerligstrale… Ek het nog altyd gewonder hoekom ek so rustig is wanneer daar weerligstrale is – nou weet ek dis omdat die Here dan baie naby is om my te kom beskerm teen my vyande. Wat ‘n voorreg! Dawid se psalm se baie meer as wat ek ooit kan sê oor God se getrouheid en magtigheid. Ons leef op die oomblik in chaos en moet bid en God om hulp vra net soos Dawid dit toentertyd gedoen het.