Matteus 26:27-29 Toe neem Hy ‘n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. Ek sê vir julle: Van nou af sal ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.” Johannes 2:7-10 Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.” Hulle het dit tot bo toe volgemaak. Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.” Hulle het dit gedoen. Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom en sê vir hom: “’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.” Jesus se eerste wonderwerk wat Hy op aarde gedoen het was om water in wyn te verander. Met sy laaste maaltyd saam met sy dissipels vat Hy wyn en sê dit is sy bloed waardeur die verbond beseël word. Vir die eerste keer word my denke vernuwe met die eerste wonderwerk en die laaste keer wat Jesus ‘n feesmaal hou en die nagmaal instel. Dit sink nou eers in dat sy eerste wonderwerk ‘n groot rol sou speel in Sy en ook ons lewens omdat ons steeds die gebruik van nagmaal volg, maar nou kyk ek met ander oë na ‘n glas wyn. Dit raak nou vir my ‘n herinnering aan Jesus wat die wynmaker en Verlosser is. Dus moet ek altyd onthou dat ek so moet wyn drink dat ek nooit hoef op te hou nie, met ander woorde: moet nie myself vergryp of ‘n alkoholis word wat myself nie kan beheer en dan geforseer word om op te hou wyn drink nie. Ek kan nie die duiwel daardie vatplek gee om die herinnering van Jesus te verander in verslawing aan wyn nie. Jesus het wyn gemaak by die fees maar terselfdertyd het Hy ook ‘n herinnering gebring aan die feit dat Hy sy bloed giet om vir ons sondes te betaal en elke keer as ek daardie glas wyn geniet moet ek dit onthou.
Liefde vir Mekaar
1 Johannes 3:11-17 Dìt is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê. Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en het sy broer vermoor. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s’n reg. Broers, moenie verbaas wees as die wêreld julle haat nie. Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie. Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? Wie is ek? Ek is ‘n Godgeskape mens wat glo in die Vader, die Seun en die Heilige Gees; ‘n volger van Jesus. Ek kla soms dat ek nie dieselfde kos more wil eet nie. “Hallo! Hoe ondankbaar is jy nie! Jy het ten minste genoeg kos vir more! Daar is miljoene kinders wat weke sonder kos gaan!” raas ‘n harde stem in my kop met my. Ek kla soms omdat my maag nie meer gespierd is nie. “Verstaan jy dat jy ten minste ‘n goeie gesonde liggaam het? Dat jy meer as genoeg klere het om aan te trek? Dat jy ‘n huis met genoeg beddens en warm komberse het? Besef jy dat jy kla oor ‘n deel van jou liggaam wat jy kan oefen en wat bytendien perfek vir God is? Verstaan jy dat daar mense is wat nie eers arms of bene het nie?! Verstaan jy hoe ondankbaar jy op hierdie oomblik is?!” raas die stem weer. Soms besef ek nie eers hoe baie ek kla nie. Dis iets waaraan ek moet werk en ‘n gemoed van dankbaarheid moet aanneem want ek is baie geseënd en ten spyte van my ondankbare en dankbare gesindhede bly God steeds my kies. Hy bly steeds lief vir my net soos ek is. Ek dink nie ek weet wat dit is om iemand so onvoorwaardelik lief te hê nie. As ek met myself moes uitgaan het ek myself al lankal gelos oor my geite en verkeerde keuses van die verlede, maar nie God nie. Hy kies my steeds en meer as dit word sy eniggebore Seun gemartel omdat Hulle my liefhet. Hoekom kla ek dan so? Dis tyd dat ek minder deur my eie-ek lens na myself kyk en deur Jesus se oë na myself kyk. ‘n Kamermaat in die koshuis op skool sê eendag vir my: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself en jy moet jouself liefhê soos Jesus jou liefhet.” Dit is ware liefde. Dis ook tyd dat ons moet besef dat ons onsself nie beter as ander ag nie, maar ook nie fout soek met onsself en onsself minderwaardig ag nie, want dis hoe Jesus ons liefhet. Hoe kan ons ook verwag dat iemand anders ons moet liefhê as ons onsself nie liefhet nie? Ons is perfek in ons onperfektheid en moet dankbaar wees vir Sy genade en begin om sy voorbeeld te volg.
Versoening: Nou of dalk nooit
Matteus 5:21-26 “Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. Maar Ek sê vir jullle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur. As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe. As iemand ‘n regsaak teen jou begin, kom betyds tot skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie. Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.” Nou of nooit… Vir my was dit maar altyd net nog ‘n sin wat iemand gesê het om jou te bemoedig om iets liewer nou te doen. Soms werk dit en soms nie. Ek het die week vir die eerste keer oor die belangrikheid van hierdie kort sin begin dink. Nou of nooit! God wag geduldig op ons om na hom toe te kom, maar wat as ons dit nie nou doen nie en dit uitstel en daar ‘n dag aanbreek wat dit te laat is om na God toe te draai? Jesus sê ons moet ons gedagtes dophou want dit weerkaats oral waar jy gaan. Ek sukkel baie om myself te kalmeer as ek slegte nuus lees oor ‘n aanval op mense en kinders en selfs marteling van diere. Dit maak my moordgedagte opvlam en vrae vra soos: hoekom is daar sulke mense in die wêreld; hoekom kom hulle weg daarmee; hoekom moes ‘n onskuldige kind sulke trauma beleef? Hierdie is vrae wat ek deesdae in gesprek met God is want net Hy kan my die waarom wys. Die feit dat Jesus ons vra om ons saak met ons medemens reg te stel moet insink. Hoe kan ek verwag dat Jesus my moet vergewe vir my sondes as ek nie my medemens kan vergewe vir dieselfde ding nie? Jesus het ‘n duidelike boodskap gestuur met sy optrede teenoor mense. Hy het gekies om mense die regte pad en manier van dinge doen te wys. Hy kies om tyd te maak vir mense wat hulp nodig gehad het om ‘n beter lewe te kan leef en sy leefstyl volg. Hy verwag van ons om dieselfde te doen. Hoe kan ‘n mens vrede maak met iemand as jy nie met hom of haar praat en die misverstand of struweling uitpraat nie. Dis onmoontlik. Maak dinge so gou as moontlik reg met jou naaste voor dit te laat is. Laat jou emosies tot bedaring kom en gaan praat met hom/haar en besluit of julle verder ‘n pad gaan stap of liefs paaie skei. Jesus het gekom om die haat en woede uit te roei en vrede te kweek. Ons moet begin om daarna te streef al is dit hoe moeilik want jy weet mos hoe die eie-ek is: ek is reg en jy verkeerd – maar is dit werklik die waarheid as jy eers die situasie as ‘n onafhanklike ondersoekbeampte analiseer?