Liefde, Geloof en versoeking.

1 Johannes 5:1-5 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ‘n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is. Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou. Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? Versoeking is alledaags en in menigte vorme. Versoeking van geld, aansien, beheer, oorwinning en selfs leiding is net ‘n paar. Ons almal word op een of ander manier versoek en ons kan net die versoeking weerstaan wanneer ons sterk genoeg in geloof is om te weet wat reg en verkeerd sou wees. Dr Arnold Mol skryf in sy boek: “Dink Nuut Leef Nuut” dat ‘n verkeerde gedagte nog nie sonde is nie, maar die eerste stap in ‘n reeks stappe wat uiteindelik tot dit lei. Ons val dikwels in die strik van ons eie sondige natuur veral as iemand iets aan ons gedoen het. Dit is dan maklik om daardie persoon af te kraak, sleg te maak by ander en haatdraend te raak, maar dan maak ons onsself skuldig aan skinderpraatjies en negatiwiteit wat net tot verdere onmin en ontevredenheid lei. Jesus het met die laaste maaltyd saam met sy dissiples hulle voete gewas omdat hy hulle innig liefgehad het en wou skoonwas van sonde. Hy het reeds geweet dat Judas hom sou verraai maar hom steeds liefgehad en ook sy voete gewas. Dit was so natuurlik vir Jesus om lief te hê al het hy geweet dat baie mense dit nie sal waardeer nie en hom tot dood sou veroordeel. Kan ons so liefdevol wees? Kan ons iemand steeds vergewe wat ‘n onreg aan ons gedoen het en hom of haar nie slegmaak by ander nie, maar steeds ons hand na hulle uitreik met liefde? As iemand iets aan ons doen moet ons dit nie eers uitklaar met daardie persoon nie? Hoekom is dit makliker om hulle sleg te maak? Om onsself beter te laat voel? Sodat ander mense ons jammer kan kry en ons daardeur aandag kry? En dan is die ergste van alles dat ons ook ander mense seermaak, maar wanneer iemand dieselfde of selfs minder aan ons doen wil ons die slagoffer speel. Ek dink Jesus was ‘n baie goeie voorbeeld van broederlike liefde vir mekaar, veral onvoorwaardelike liefde. Dis is reeds hoekom ons onsself moet afvra wat Jesus sou doen voor ons in die strik van selfsig, bejammering en afguns val. Dit is menslik baie moeilik en dit is iets waarmee ek self sukkel, maar dan begin ek met God praat en dan gee Hy my ‘n rustige gemoed en die vrede wat ek van Hom ontvang is onbeskryflik. In ‘n wêreld waarin daar so baie negatiwiteit en wraak is moet ons vashou aan ons geloof in God, want ons kan nie op ons eie hierdie wêreld oorwin nie. Net deur God se genade kan ons gered word.

Grendelgreep 2020

Eksodus 16:11-18 “Die Here sê toe vir Moses: “Ek het die verset van die Israeliete opgemerk. Sê vir hulle: Teen skemeraand sal julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.” Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die kamp vol gesit. Die volgende oggend was daar ‘n wolk rondom die kamp, en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp. Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet. Die Here het beveel: Gaan maak dit bymekaar volgens elke gesin se behoefte, twee liter per kop. Elkeen moet vat volgens die getal mense in sy tent.” Die Israeliete het dit toe gaan optel, die een baie en die ander ‘n bietjie, en toe hulle dit met ‘n maatemmer afmeet, het dié met baie nie te veel nie, en dié met ‘n bietjie nie te min gehad nie. Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak. Soms is dit moeilik om te verstaan hoekom dinge so skeef loop in die lewe. Toe ons president aankondig dat ons in ‘n grendelgreep moet ingaan het dit onwerklik gevoel, maar ons moes dit tog verwag het aangesien die tekens daar was dat dit sou plaasvind omdat ander lande dit reeds begin toegepas het. Dit moes ‘n verskriklike debat gewees het in ons president se gedagtes omdat dit ‘n finansieële ineenstorting vir Suid-Afrika sou beteken. Ek is net dankaar dat hy so braaf was om die besluit te maak. Ek glo dat God hom op die regte pad lei as president in hierdie moeilike tyd. Ek verstaan nie hoekom hierdie epidemie moes uitbreek nie maar ek glo dat God sy plan daarmee het. Die wêreldse dinge het belangriker geraak as familie, respek, eerlikheid, liefde en kwaliteit tyd saam God. Nou dat ek myself bevind in ‘n gedwonge afsondering saam met my jong gesin besef ek hoe vinning ‘n mens verby mekaar kan leef; hoe vinnig ons belangrike klein oomblikke kan mis en mekaar afskeep. Hoe lanklaas het jy dalk met jou maat of kind of ouer in jul sitkamer gedans? Ons het gisteraand vir die eerste keer met die kinders gedans terwyl die televisie op die afrikaans musiekkanaal is. Hulle sit natuurlik op ons heupe aangesien hul jonger as vier is. Dit was so lekker gewees dat hul wou aanhou dans toe ek en my man al lankal moeg is. Hierdie oomblik sal ek nog lank onthou. Ek lees meeste aande vir my oudste kind uit Die Struik-Kinderbybel (die een waaruit my ma vir my gelees het) en besef weer opnuut die belangrikheid van die verhaal van die Israeliete se redding uit Egipte se slawerny en die tyd in die Woestyn waar hul nooit honger gelei het nie – Eksodus 5-24. Dit laat my weer besef dat ek soveel meer het as wat hul ooit gehad het – ek is niemand se slaaf nie; ek en my man betaal ons eie ruim huis af; ons albei het ‘n goeie werk; ons het twee wonderlike kinders; ons het nog ‘n hegte band met albei ons ouerpare en ons het die voorreg om gesond te wees, maar dan sal ek nogsteeds iets soek om oor te kla… Ai tog. Hier is waar God my herinner dat ek elke dag eerder dankie moet sê in plaas van na die sondige sy van menswees te gaan en kritiek of negatiwiteit uit te straal. Mag hierdie tyd vir jou ook ‘n seën wees en ‘n tyd van vrede en geluk.