Liefde, Geloof en versoeking.
1 Johannes 5:1-5
Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ‘n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is. Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou. Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?
Versoeking is alledaags en in menigte vorme. Versoeking van geld, aansien, beheer, oorwinning en selfs leiding is net ‘n paar. Ons almal word op een of ander manier versoek en ons kan net die versoeking weerstaan wanneer ons sterk genoeg in geloof is om te weet wat reg en verkeerd sou wees.
Dr Arnold Mol skryf in sy boek: “Dink Nuut Leef Nuut” dat ‘n verkeerde gedagte nog nie sonde is nie, maar die eerste stap in ‘n reeks stappe wat uiteindelik tot dit lei. Ons val dikwels in die strik van ons eie sondige natuur veral as iemand iets aan ons gedoen het. Dit is dan maklik om daardie persoon af te kraak, sleg te maak by ander en haatdraend te raak, maar dan maak ons onsself skuldig aan skinderpraatjies en negatiwiteit wat net tot verdere onmin en ontevredenheid lei.
Jesus het met die laaste maaltyd saam met sy dissiples hulle voete gewas omdat hy hulle innig liefgehad het en wou skoonwas van sonde. Hy het reeds geweet dat Judas hom sou verraai maar hom steeds liefgehad en ook sy voete gewas. Dit was so natuurlik vir Jesus om lief te hê al het hy geweet dat baie mense dit nie sal waardeer nie en hom tot dood sou veroordeel.
Kan ons so liefdevol wees? Kan ons iemand steeds vergewe wat ‘n onreg aan ons gedoen het en hom of haar nie slegmaak by ander nie, maar steeds ons hand na hulle uitreik met liefde? As iemand iets aan ons doen moet ons dit nie eers uitklaar met daardie persoon nie? Hoekom is dit makliker om hulle sleg te maak? Om onsself beter te laat voel? Sodat ander mense ons jammer kan kry en ons daardeur aandag kry? En dan is die ergste van alles dat ons ook ander mense seermaak, maar wanneer iemand dieselfde of selfs minder aan ons doen wil ons die slagoffer speel.
Ek dink Jesus was ‘n baie goeie voorbeeld van broederlike liefde vir mekaar, veral onvoorwaardelike liefde. Dis is reeds hoekom ons onsself moet afvra wat Jesus sou doen voor ons in die strik van selfsig, bejammering en afguns val. Dit is menslik baie moeilik en dit is iets waarmee ek self sukkel, maar dan begin ek met God praat en dan gee Hy my ‘n rustige gemoed en die vrede wat ek van Hom ontvang is onbeskryflik.
In ‘n wêreld waarin daar so baie negatiwiteit en wraak is moet ons vashou aan ons geloof in God, want ons kan nie op ons eie hierdie wêreld oorwin nie. Net deur God se genade kan ons gered word.