Maar Hy sê vir Samual: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” – 1 Samuel 16:7 Hoeveel keer misluk ons in die wêreld se oë? Ek onthou toe ek nog op hoërskool was kon ek nie eers my twee beste vriendinne gelyk tevrede stel nie; hul het uit ander oogpunte na iets gekyk en dit het my net weereens laat dink aan my ma se woorde toe ek op laerskool was en mense het my gespot as “bugs bunny” omdat my voortande altyd uitgestaan het as gevolg van my onderste kaak wat 11mm te kort was: “hoekom gee jy om wat mense dink? F! die mense! Ons is die mense!” Ek sal nie sommer gou daardie woorde van my ma vergeet nie en ek het baie keer dit oor en oor vir myself gesê wanneer die wêreld sy druk op my uitgeoefen het. Dit gaan nie oor jou nie, maar iemand anders se mislukkings en hul tekort aan selfvertroue. In my kort lewe het ek beleef hoe lelik mense kan wees omdat hulle self onseker van hulself of ongelukkig is en dan jou ongelukkig wil maak sodat hul beter oor hulself kan voel. Net soos die wêreld vir jou wil sê hoe jy moet lyk, eet, voel of wat jy moet ry net so sê Jesus vir jou hoe jy goed genoeg is net soos wat jy is. Jy moet besluit na wie jy gaan luister. Onthou die wêreld skree maar as jy stil raak en afskakel sal jy daardie “jy is goed genoeg vir my” stem hoor. Net soos Samual gedink het dat die grootste en beste die volgende koning sou word verras God hom en Hy stel hom voor aan die jong, klein, nog nat agter die ore, Dawid. Die een wat uitgekies is om Goliat te verslaan en later die koning sal word van God se mense omdat sy hart reg was. Mense het hom uitgelag toe hy sê hy sal Goliat aanvat. Dieselfde mense wat te bang was om teen Goliat te veg. Kyk minder in die spieël en as jy doen herinner jouself hoe bevoorreg jy is om uitgekies te wees om een van God se kinders te wees. Maak God jou middelpunt van bestaan en sien hoe jy ook in jouself groei.
Woorde het mag
So is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. ‘n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. Jakobus 3:5-6 Deesdae volg ek Andrew Wommack (www.awmi.net). Hy het ‘n manier om dinge in perspektief te sit. Ek raak soms baie verward omdat ek nie die Bybelverse heeltemal verstaan nie, maar dan volg ek ‘n tema van Andrew en hy verduidelik dit in eenvoud. Ek volg op die oomblik sy “Effortless Change” reeks en hy vertel hoe ons versigtig moet wees oor wat ons oor onsself spreek. As jy negatiewe dinge oor jou lewe gaan spreek of toelaat dat ander mense dit spreek en jy dit aanvaar sal jy dit beleef. Dieselfde is waar wanneer jy begin om positiewe dinge oor jou lewe te spreek. Dit laat my dink aan Henry Ford se woorde: “Whether you think you can, or you think you can’t – you’re right.” Dit is so maklik om negatief te raak en dink omdat die wêreld se mense daarvan hou om te kla en negatief op te tree, maar die mag van God lê binne ons om dit teen te staan, om op te staan en nee te sê vir die ongeloof wat heers. Ons moet ons fokus skuif en op God en sy doel vir ons fokus in plaas van die leuens van die duiwel. Dit begin met ‘n doelgerigte besluit en net jy kan daardie besluit maak. Kies die lewe. Kies God.
Chaos
Psalm 18:1-37 Vir die koorleier. ‘n Lied van Dawid, die dienaar van die Here. Hy het dié woorde tot die Here gerig op die dag toe die Here hom gered het uit sy mag van al sy vyande en uit die mag van Saul. Hy het gesê: “Ek het U baie lief, Here, my Sterkte. Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting. Onder bespotting roep ek na die Here, dan word ek van my vyande verlos. Bande van die dood het my omsluit, strome van onheil het my verskrik. Bande van die doderyk het my vasgetrek, strikke van die dood het my bedreig. In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep. Ek roep na Hom om hulp, en Hy luister na my. Die aarde het geskud en gebewe, die fondamente van die berge het getril en geskud, want Hy was vertoorn. Rook het uit sy neus getrek, vuur uit sy mond het alles verteer, gloeiende kole uit sy binneste. Hy het die hemel afgebuig en afgekom, onder sy voete was duisternis. Hy het op ‘n gerub geklim en gevlieg; op die vleuels van die wind het Hy nadergesweef. Hy het Hom in donkerte gehul, donker waters en wolkemassas was sy bedekking. Uit die gloed voor Hom het wolke getrek, hael en weerligstrale. Die Here het dit uit die hemel laat dreun, die Allerhoogste het sy stem laat hoor in hael en weerligstrale. Hy het sy pyle afgeskiet en die vyand uitmekaar gejaag, hulle met ‘n menigte weerlikgstrale op loop gejaag. Die seebodem het sigbaar geword, die fondamente van die aarde is blootgelê deurdat U, Here, op hulle gebulder het met die orkaan van u toorn. Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. Hy het my gered van my vyand wat sterk was, van my haters toe hulle vir my te magtig was. Die dag toe hulle my aangeval het, was my ondergang naby, maar die Here het my daarvan bewaar. Hy het my in vryheid laat uitgaan. My gered omdat Hy my liefhet. Die Here het aan my reg laat geskied, Hy het my onskuld aanvaar, want ek het die wil van die Here gehoorsaam en my nie teenoor my God skuldig gemaak nie; ek het my deur al sy bepalings laat lei en nie van sy voorskrifte afgewyk nie. Ek was opreg voor Hom, ek was op my hoede teen enige ongeregtigheid. Die Here het aan my reg laat geskied, want ek was onskuldig in sy oë. U betoon U getrou teenoor die opregte, rein teenoor die reine, maar U verwerp die huigelaar. U red die verdrukte volk, U verneder die trotses. U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my. Met u hulp loop ek ‘n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie. Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy. Waarlik, wie anders as die Here is God? Ja, wie anders as ons God is ‘n rots? God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan. Hy leer my hande om oorlog te maak, my arms om selfs die stramste boog te span. Die redding wat U gebring het, was vir my ‘n beskerming, U regterhand het my ondersteun, deur U hulp het ek sterk geword. U het my ruim vastrapplek gegee, my enkels het nie geswik nie. Vers 14: …die Allerhoogste het sy stem laat hoor in hael en weerligstrale… Ek het nog altyd gewonder hoekom ek so rustig is wanneer daar weerligstrale is – nou weet ek dis omdat die Here dan baie naby is om my te kom beskerm teen my vyande. Wat ‘n voorreg! Dawid se psalm se baie meer as wat ek ooit kan sê oor God se getrouheid en magtigheid. Ons leef op die oomblik in chaos en moet bid en God om hulp vra net soos Dawid dit toentertyd gedoen het.