Genesis 31:29-31 Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën. Toe noem Jakob die plek Pniël; want het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered. Moet nie opgee nie! Dis die boodskap wat ek vanoggend gekyk het van oom Angus waar hy praat van die verhaal van Jakob. Dit is treffend omdat die verhaal van Jakob een is waaruit ons kan leer. God het hom geseën maar omdat hy teen God, sy pa en ook sy broer gesondig het, het God hom ook gestraf deur mank te laat bly vir die res van sy lewe. Soos oom Angus noem het die sondes wat mens pleeg baie keer nagevolge en dit moet jy by jou dra vir die res van jou lewe, maar jy is steeds gered wanneer jy na God roep. Jakob moes 14 jaar vir sy skoonpa werk voordat hy met die vrou wat hy liefgehad het kon trou. Dit vat omtrent uithoevermoë. Ek weet darem nie of ek dit sal kan doen nie. Sou jy? Soos hulle sê: aanhouers wen! Ek dink dis maklik om gou tou op te gooi veral vandag, maar God hou sy woord en sal bly sorg. Ons moet net begin glo en raaksien wat Sy plan vir ons is. Jakob het besef dat hy verkeerd was teenoor sy broer en God en sy pa en het gevlug van sy skoonpa se huis af om ‘n nuwe lewe te begin met sy familie. Die vrese van vlug soos ‘n dief in die nag kon nie lekker wees nie, maar tog het hy God gesoek en met God geworstel en wou nie God los totdat God hom seën nie. Ek weet dis vandag nie maklik om altyd positief te bly nie, veral nie in die huidige omstandighede nie. Ons kyk dalk te veel wat in die media aangaan en dit gaan baie sleg maar met die slegte dinge is daar ook besig om goeie dinge te gebeur. Ons sien mense wat hulle hande uitsteek en te werk gaan om ander te help afgesien van agtergrond of voorkoms. In die moeilike tye besef mens hoe barmhartig mense werklik is. Mense wat self nie baie het om te gee nie maar tog gee omdat daar iemand is wat dit meer nodig het as hulle. Dis in die moeilike tye wat ons onself en ander mense werklik leer ken. Dit kan mens se aanhouer wen persoonlikheid of die gaan sit op ‘n hoop as en vergaan persoonlikheid uitbring. Ons moet introspeksie gaan doen om te bepaal watter een dit gaan wees, maar wees gerus dat God saam met jou sal wees. Praat met God en vertel hom wat in jou hart aangaan al weet hy dit reeds. Soms moet jy net alles aan God oorgee en opstaan en te werk gaan aan die volgende hoofstuk in jou lewe en dit met God aan jou sy.
Gawes
1 Petrus 4:7-11 Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid. Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien. As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen. Wat weet ons van Petrus, Jesus se dissipel? Wat dadelik by almal opkom is dat Petrus Jesus verraai het toe die haan kraai en dis wat ek ook onthou het maar toe raak ek kwaad vir myself want Petrus het net een fout gemaak en ons onthou dit maar vergeet dat hy die grootste ondersteuner van Jesus was en ook as martelaar gesterf het omdat hy so tê die eerste kerk gestig het om Jesus se naam te verheerlik! Dit laat my terugdink aan ‘n prent wat ons in ons badkamer gehad met ‘n kat en ‘n pot spaghetti wat hy uitgegooi het waaronder staan: “when I do right no one remembers but when I do wrong nobody ever forgets”. Hoekom is ons so? Hoekom fokus ons op die foute in plaas van die wonderlike dade en persoonlikhede van mense? Ek klap myself soms – letterlik – om daai negatiewe siening te laat vaar. Ons is almal sondaars maar ons kan baie behulpsaam en gasvry teenoor mekaar wees. Daar was net een Mens op aarde wat perfek was en dit was Jesus ons verlosser. Ek en jy moet ons lot aanvaar as onperfek maar besef dat God ons liefhet ten spyte daarvan. Ons is komplekse wesens met emosies wat baie vinnig vlam kan vat. Kom ons kyk gou na Petrus: Soos Piet Meiring skryf in sy boek: In die Voetspore van Jesus, was Petrus getrou aan sy aard as Gelileër: vinnig van humeur, impulsief, emosioneel, avontuurlustig – en lojaal tot die bitter einde. Hy was ‘n eerlike en dapper man en het sy hoogtepunte en laagtepunte van sy lewe opgeteken – die wonderlike dinge wat met hom gebeur het; die vernederings en tye wat Christus hom terreggewys het sowel as die skande van sy verloëning. Hy was inderdaad ‘n goeie leier en na Jesus se dood was hy die eerste wat sy naam begin verkondig het. Dit wys die lojale dapper man wat Petrus was waarvoor Jesus innig lief was ten spyte van al sy ander persoonlikheidstrekke wat hom dikwels in die sop laat beland het. Ons moet onsself afvra watter gawes ons besit om Jesus en sy dienaars te dien. Nie een van ons is dieselfde nie en dit blyk ook duidelik in die twaalf dissipels wat Jesus uitgekies het. Elk verskillend maar vir elkeen was hy innig lief. Is jy soos ‘n Petrus – ‘n dapper leier, Johannes – apostel van liefde, Jakobus – iemand wat bereid is om tweede viool te speel, Andreas – iemand wat ander na Jesus lei, Filippus – ‘n praktiese man, Tomas – sien en dan glo mens, Matteus – iemand wat sy tweede kans goed benut, Natanael – ‘n man sonder bedrog, Simon – ‘n vryheidsvegter, Jakobus – gewone mens wat ‘n verskil maak, Taddeus – die onbekende man met die belangrike vraag aan die nagmaaltafel, of Judas, die liefhebber van geld wat tot sy ondergang as verraaier lei? Gebruik jou besonderse gawes om die Here te dien en sodoene jou naastes ook te dien.
Vadersdag 2020
Psalm 103:13 Soos ‘n Vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. My Vader bly altyd ons Here. My pappa of dadda is my pa. Vandag herdenk ons ons Vader en pa’s. My pa sal sê elke dag is vadersdag en as ek mooi daaraan dink is dit die waarheid aangesien ek elke dag vir my Vader in die Hemel dankie sê vir die voorspoed en ook om hulp vra vir die teenspoed. Om ‘n volwaardige pa te wees beteken dat hy alles sal opgee om sy kinders en familie te beskerm. Ek sal altyd na my pa opkyk en noem hom steeds pappa of dadda soos ek het toe ek drie jaar oud was. Wat ‘n wonderlike mens! Nou my pa, soos ek, is nie perfek nie maar hy is perfek vir my. Wanneer jy self ‘n ouer raak besef jy eers werklik hoe baie jou ouers vir jou gedoen het en wat dit verg om ‘n goeie ouer te wees. Dit is nie altyd maklik nie. My pa: ‘n man wat die Here ken en my tweede held. Die eerste is natuurlik Jesus. My pa: ‘n man wat nie skatte op aarde bymekaar nie; ‘n man wat nie omgee oor mense se opinies nie; ‘n man wat na sy familie omsien al verarm dit hom; ‘n man wat armes sal help waar hy kan; ‘n man wat vreemdes langs die pad sal help; ‘n man wat gewerk het vir alles wat hy besit; ‘n man wat opgekyk het na sy pa en sy waardes onthou. My pa: ‘n man wat in sy voertuig geklim het om oor die 500km elke dag of tweede dag vir amper twee maande af te lê om sy ma in die hospitaal elke dag te besoek net sodat sy nie alleen is nie – dit het beteken dat sy besigheid agteruit gaan en dat hy ook finansieël gaan sukkel maar dit was nie vir hom belangrik nie. Sy ma was die belangrikste fokus vir daardie tydperk en al moes hy lenings aangaan om haar te besoek sou hy dit steeds doen. Dit is my pa! Iemand wat my nooit sal weggooi nie! Iemand wat opdaag wanneer jy hom nodig het. My pa: ‘n man waarvoor ek die grootste respek het; ‘n man wat vir my die kompas is vir opregtheid en liefde vir jou familie en medemens; ‘n man wat God dien en nie mense of opinies nie; ‘n man wat getrou is; ‘n man wat hardkoppig is maar steeds omgee; ‘n man wat ‘n inspirasie is – dit is my pa! – ‘n geskenk van ons Vader in die Hemel.