Miga 3:1-4 Ek het gesê: Luister, leiers van Jakob, regeerders van Israel! Weet julle nie wat reg is nie? Julle wat die goeie haat en die verkeerde liefhet, julle wat die mense se vel van hulle afskeur, die vleis van hulle bene af, wat my volk opeet asof hulle vleis is, hulle vel afstroop en hulle bene opkap, wat hulle opsny vir die kookpot, soos vleis vir die braaipan. Wanneer hulle tot die Here roep, sal Hy hulle nie antwoord nie, want hulle het baie verkeerd gehandel. Miga was ‘n profeet in die tyd van die Judese konings Jotam, Agas en Hiskia met ander woorde iewers in die tydperk tussen 742 en 696vC. Ons sit vandag in 2020 nadat Jesus Christus gebore is. Ek is verstom oor die lang tydperk! Ek meen. Wanneer gaan ons leiers ooit leer? My kop verlaat my sommer van woede wanneer ek die verse hierbo weer lees! Ek meen dis soveel jaar later en nog niks het verander nie! Daar kom ‘n paar goeie leiers wat reg optree; sy land en nasie opbou en die beste vir hul doen en nie sy selfsigtige begeertes volg nie en dan net om die draai wag daar weer ‘n selfsugtige paar rowers. Dit lyk asof ons heeltyd op ‘n tuimeltrein is met die leiers wat volg. God maak dit duidelik in vers 4 dat Hy nie na sulke leiers sal luister as hulle hom roep nie. Daar wag ellende vir hulle en die land omdat hulle so verkeerd handel. Dis asof geskiedenis homself elke aantal jaar net weer herhaal – dis net die land en regeerdes se name wat verskil. Dit maak my eintllik hartseer. Kan ons nie besef dat ons reg moet handel nie? Dit bring my aan die anderkant ook hoop, want God slaap nie. Hy weet wat elkeen se plan is en Hy straf dié wat onregverdig handel. Ek glo van harte dat daar weer goeie leiers vir ons land sal kom om die korrupsie, selfsug, hebsug, moord en roof uit te roei al lyk dit op die oomblik of net die moontlikheid van so ‘n gedagte verregaande is. Ons moet nie God se krag onderskat nie. Hy sorg vir sy volk. Hy leer ons ook lesse as ons verkeerd handel en daarom moet ons streef om regverdig te leef. In Miga 6:8 lees ons: Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. God bly altyd getrou. Dis ons sondige natuur wat ons ontrou maak en dus ons eie ondergang bewerkstellig. Ons moet tot die besef kom dat geskiedenis homself voordurend sal herhaal, maar die verandering in optrede ten goede van goed of kwaad begin by onsself. Ek moet besluit of ek die goed gaan voed in my lewe. Ek onthou ek het lank terug ‘n storie gelees van ‘n seun wat ‘n wolf sien wat vol haat, woede, selgsug, jaloesie en hebsug is en dan ‘n ander een wat vol liefde, vrede, trou en regverdigheid is. Hy draai toe na sy pa en vra vir hom watter een die ander sal oorleef, waarop sy pa antwoord: die een wat jy kos gee. Dit laat my besef dat ek die goeie emosies moet voed en die slegte sondige moet laat sterf van die honger. Jy moet in beheer wees van jou keuses en moet onthou om God altyd te raadpleeg veral as die duiwel vatplek soek deur klein gedagtes wat hy soos ‘n slinkse verkoopsagent aan jou stel. Ek misluk nog baie! Gedagtes wat weghol so asof hulle kompeteer met Bolt by ‘n atletiekbyeenkoms. Ek moet myself telkemale stop en skree: “hey! Kom reg! Stop dit!” Ons het ‘n keuse om op onsself staat te maak of om op God te vertrou en steeds aan ‘n toekoms te bou in ons land. Ons moet aan hou om liefde te toon in ‘n liefdelose wêreld. Dis die Jesus manier van dinge doen.
Dankbaarheid in ondankbare tye
Kolossense 3: 13-17 Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom. Ondankbaarheid kom heeltemal te maklik voor in ons samelewing. Ek self was al telkemale ondankbaar! Wanneer jy ongelukkig is besef jy nie eers hoe ondankbaar jou uitkyk op die lewe is nie. Dis iets wat baie vining iemand se lewe versuur. As ek maar net gou kyk hoe ek in die verlede sou kwaad wees omdat dit nou buite reën en ek moet werk en gaan heel waarskynlik siek word – ‘n ongelukkige werkende (hallo!! Jy het ‘n werk en daar is so baie mense wat nie ‘n werk kan kry nie!), maar nou sien ek die reën buite en is dankbaar omdat die gras besig was om te vrek so nou gaan dit weer mooi groei. Geen water kan ‘n tuin so mooi laat groei soos hemelse water nie! Ja ek sit nou wel met ‘n kleuter in die huis wat graag buite wil speel maar besef dat hy ook binne kan speel met die baie speelgoed wat hy het. Hy het baie meer spasie binnein die huis as wat meeste van sy ouderdomsgroep het. Soms moet mens dankbaarheid aanleer by ‘n kleuter. Die glans in sy oë as jy vir hom roomys inskep of net saam met hom speel. Hy is opgewonde as jy ‘n boks vat en vir hom ‘n dinosaurus daaruit knip en verf maar nog gelukkiger as hy op sy pa se rug kan perdtjie ry. Met dankbare oë begin ek die mooi van die lewe raaksien. Dis die eenvoudige dinge wat vreugde bring. In hierdie tyd waarin ons onsself bevind is dit soms moeilik om dankbaar te voel veral omdat my suster nou swanger is en in ‘n ander land is en ons nie met die bevalling vir haar kan gaan kuier nie. Dis ‘n bitter pil om te sluk veral vir my ouers, maar die dankbaarheid kom weer terug wanneer ek besef dat sy omring is deur haar skoonfamilie wat baie goed vir haar is; die feit dat ons gesin so lief vir mekaar is dat ons graag by haar wil wees; die voorreg om nogsteeds fantastiese ouers hier te hê en dat ons mekaar kan “video call”. Om met ‘n dankbare hart na die lewe te kyk bring nuwe positiewe denke teweeg. Ons moet bewus word van al die klein dinge waarvoor ons dankie moet sê en besef dat dit die lewe plesierig maak. As jy gesond is, ‘n liefdevolle familie het en ‘n warm bed in ‘n twee- of drieslaapkamer huis is jy baie geseënd en moet jy dankie sê! Jy het meer as die meerderheid van mense op aarde!
‘n “Barmhartige Samaritaan”
Lukas 10: 30-35 Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe ‘n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeaval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. Dit gebeur toe dat daar ‘n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. Net so het ‘n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. Maar ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na ‘n herberg toe geneem en hom daar verder versorg. Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’ Ek het Vrydag gereis en langs die pad gestop om my eenjarige se stoeltjie te stel omdat sy arme nek in spasma sou wees indien ek hom vir die res van die 230km trip so sou los. Ek is toe bewus van die feit dat ek ‘n groot kans waag hier langs die pad vrou alleen om “roadkill” te word. Ek stop toe juis so 100m van ‘n padblokade af wat ek sou mis met die afdraai na regs net om seker te maak as ek begin skree kan die polisie darem hoor en hopelik tot die redding haas. Soos ek uitklim is daar baie voertuie wat die pad gebruik en ek was bewus van die wit voertuig wat toe voor my bakkie kom stop. So stuur die Here vir my ‘n Engel – ‘n man wat uitklim en my vra of ek ok is en of hy my kan help want hy hou nie daarvan dat ek alleen langs die pad is nie. Ek sê asseblief en baie dankie want ek sukkel om die karstoeltjie vorentoe te skuif sodat my seuntjie reg kan lê en slaap. So met ‘n bietjie sukkel kry hy toe die stoeltjie reg en ons kon weer ry. Dit het nou my dag gemaak! Ek het sommer baie dankie gesê en ook vir die Here omdat hy hom gestuur het want ek sou beslis nie die stoeltjie op my eie regkry nie. Sou jy stop vir iemand anders langs die pad? Ek is deesdae so bewus van sulke pogings van kwaaddoeners om jou op dié manier te kaap dat ek nie sommer sal stop nie. Ek was verbaas oor die feit dat hy met ‘n luukse motor ry en tog help. Ek is so gewoond dat trokdrywers, ouens in bakkies of minder luukse motors gewoonlik die mense is wat hulp aanbied. Ek het dit baie agtergekom toe ek nog ‘n verkoopsagent was. In daardie tyd het ek veiliger in die dag gevoel in ‘n industriële gebied wat meer gevaarlik was as ‘n luukse woonbuurt omdat ek gewoond daaraan was dat ‘n persoon in ‘n luukse motor dikwels die ander pad sal kyk en nie hul lewe in gevaar stel of betrokke wil raak nie. So word my denke weer vernuwe en moet ek besef dat die persoon die een is wat help en nie die besittings wat hy het nie. Met ‘n dankbare hart kan ek bevestig dat die Here my steeds bewaar.