Vaste Fondament
Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ineengestort nie, want die fondament was vas op rots.
- Matteus 7:24-25
Wanneer jy die besluit maak om jou lewe oor te gee aan die Here en weg te draai van die verslawing van wêreldse dinge beteken dit nie dat alles reg gaan loop nie. Inteendeel maak dit die duiwel so kwaad dat hy enige iets oor jou pad gaan gooi om jou weer weg te draai van die goeie verhouding wat jy besig is om met die Here te bou.
Wanneer jy jou verhouding met die Here so versterk het dat jy presies weet wat reg en verkeerd is in elke situasie wat oor jou pad kom raak dit makliker om die regte besluite te neem en basies vir die duiwel voetsek te sê.
Jy kan baie meer dinge op jou skouers laai en ook meer mense bystaan omdat jou denke vernuwe is om beter te kan funksioneer onder druk en keuses te maak.
Na ‘n jaar of selfs 10 kyk jy terug en sien hoe die Here jou hand die hele tyd vasgehou het. In die situasie is dit nie altyd moontlik om dit te voel of sien nie, maar ek het al terggekyk en besef hoe ek onwetend ‘n hand gehad het wat my gehelp het.
Gaan reflekteer bietjie oor die laaste 10 of 20 jaar en kyk na situasies wat jy moontlik ‘n hand gehad het wat jou gehelp het.
Die enigste vaste fondament of goeie rots van ‘n fondasie wat mens nodig het is ‘n sterk verhouding met God.