Riglyne vir die Christelike lewe
Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is.
Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar
en wees mekaar daarin tot voorbeeld. Moenie in julle toewyding verslap nie,
bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking;
volhard in gebed. Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.
Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. Wees eensgesind onder mekaar.
Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie.
Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense.
As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.
Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God.
Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here.
“As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink;
want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.”
Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.
- Romeine 12:9-21
Hoe maklik is die bogenoemde nie? As onsself net kan inspan om liedevol op te tree kan ons maklik die boonste riglyne volg, maar en dis ‘n groot maar dit raak moeilik wanneer emosies ons dryf. Ek bedoel hoe kan jy van my verwag om my vyand kos te gee of iemand te vergewe wat my erge leed aangedoen het? Vir my is dit baie moeilik om dit te doen en tog vra die Here ons moet!
Ek probeer aan my emosies werk om minder kwaad te word en as ek doen om die kwaad in ‘n goeie rigting te stuur soos byvoorbeel: as ek kwaad word vir die mense aan die stuur van ons land neem ek daardie kwaad en kyk waar ek op grondvlak betrokke kan raak om mense om my te help om dit wat ek voel te bekamp al vat dit baie lank en moet jy deel raak van ‘n groep wat saam oplossings vind en sodoende in ‘n volhoubare goeie manier opstaan teen dit wat ons kwaad maak.
Om liefde uit te straal is maklik wanneer dit goed gaan, maar dit word behoorlik getoets wanneer dinge sleg gaan. Ek dink die resep vir sukses lê daarin om eers jou emosies onder beheer te kry en deesdae praat ek met God. Ek sê presies wat ek op daardie oomblik voel en word dan rustiger en kan nugter dink nadat ek eers alles van my hart af gekry het.
Gaan probeer dit die week. Elke keer wanneer jy ‘n baie goeie emosie ervaar sê vir God dan en daar dankie en elke keer wanneer jy ‘n slegte emosie ervaar sê vir God. Dit kan so eenvoudig wees soos jy beleef angs en jy sê vir God: “help!”.
Probeer ‘n gesprek met God voer gedurende jou dag soos dinge gebeur ek kyk hoe dit jou gemoed en verhouding met Hom verander.