Dood vir die sonde, maar lewend vir God

Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in Sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook julle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar weer lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.

  • Romeine 6:1-14

Voel jy ook gereeld skuldig dat jy sondige neigings het? Dankie tog Jesus is ons enigste Verlosser en nie meer ‘n boek met wette wat gehoorsaam moet word om hemel toe te gaan nie!

Ek raak soms negatief en dink “wat sal die mense wat my 15 jaar terug geken het nou van my dink?” Ek meen ek verklaar nou dat ek Jesus se volgeling is en is nie skaam of bang om dit nou op die mou te dra nie, maar so 15 jaar terug se gedrag het ‘n heel ander prentjie geskep. Glad nie ‘n rolmodel nie! Ek sou liewer mense in die afgrond in help as hul net na my leefstyl sou kyk.

Dis wat die duiwel kom doen: hy kom om jou leuens te vertel; om jou sleg te laat voel en te herinner aan die letsels wat jy oorhou van daardie verlore dae. Gelukkig kon ek my pad terug vind na God en tot die besef kom dat Hy my onvoorwaardelik lief het. Hy kom en gooi my “ou koeie” in die sloot en herinner my dat dit daar gevrot het en deur die kraaie en hyenas opgevreet is!

“N Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” – Joh. 10:10

Ek kyk onlangs ‘n preek van Andries Vermeulen – Onthou die Eend – waar hy vertel van die seun wat die kosbare eend met sy kettie doodskiet. Sy sussie en ouma sien die daad. Die sussie kom en herinner hom aan sy “sonde” en boelie hom daardeur om haar take te verrig. Die ouma bly stil en wag geduldig totdat die seun uiteindelik genoeg gehad het en sy “sonde” aan haar verklaar. Haar reaksie was dat sy verbaas was dat hy so lank toegelaat het dat sy sussie hom boelie. 

Andries verduidelik verder as iemand vir jou kom sê: “onthou die eend” moet jy onthou dat die Here sê: dit is afgehandel!

Ons moet dalk fokus op die hier en nou en die pad wat ons vorentoe kies. Gooi die onnodige bagasie wat jy moontlik nog ronddra weg en kyk op.

Jesus is ons enigste Herder wat genadiglik ons sonde op Hom geneem het. Leef vir Hom en weet dat jy verlos is van dit wat jou terughou om die beste weergawe van jouself te wees!