Verhouding met Jesus
Johannes 3:35-36
Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.
Ons is uit genade gered van ons sondes. Ons het die geleentheid om ‘n fantastiese verhouding met Jesus te beleef maar soms maak ons allerhande ander planne instede om ‘n verhouding met Jesus te bou. Die duiwel is verskriklik goed om daarin te slaag om ons aandag af te trek en op iets anders te fokus. Gewoonlik deur ons natuurlike neiging om negatief oor iets te wees of te stres.
Ek het onlangs na Andrew Wommack geluister. Hy het gepraat oor die ewige lewe en hoe ons die vreugde deur ‘n verhouding met Jesus te hê dikwels uitmis. Ek het weer opnuut begin dink oor die verlossing en om ’n verhouding met Jesus te kweek in plaas van ‘n verhouding met die wêreld en sy dinge.
Dis maklik om negatief te wees; om te stres; om moed op te gee wanneer dinge skeef loop; om negatief te raak oor nuus en media – die lys is verskriklik lank, MAAR wanneer jy in ‘n verhouding met Jesus staan is daar iets anders wat in jou hart gebeur. Jy vind moed in ‘n moedelose wêreld. Jy weet jy kan met Jesus praat oor absoluut enigiets en hy gaan jou nie verwyt of slegsê nie. Hy wil jou liewer help en aanspoor om positief te wees en om jou negatiewe neigings te laat vaar en ook jouself te aanvaar. Jy is kosbaar. Jy beteken baie meer as wat jy dink. Hy het immers vir jou gesterf – dis ware liefde – iemand wat sy lewe vir jou gee…
Begin vandag jou verhouding met Jesus bo alles plaas. Die wêreld is baie deurmekaar en hierdie is alles tekens dat Sy koms baie naby is. Leef ‘n vreugdevolle Jesus lewe en draai jou rug op wêreldse vreugde wat inelkgeval net kort van duur is. Niks vul mens met vreugde soos liefde nie. Dis uiteraard die doel van die lewe.
Bou verhoudings deur liefde en nie erkenning of guns nie.