Grendelgreep 2020

Eksodus 16:11-18

“Die Here sê toe vir Moses: “Ek het die verset van die Israeliete opgemerk. Sê vir hulle: Teen skemeraand sal julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.” Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die kamp vol gesit. Die volgende oggend was daar ‘n wolk rondom die kamp, en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp. Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet. Die Here het beveel: Gaan maak dit bymekaar volgens elke gesin se behoefte, twee liter per kop. Elkeen moet vat volgens die getal mense in sy tent.” Die Israeliete het dit toe gaan optel, die een baie en die ander ‘n bietjie, en toe hulle dit met ‘n maatemmer afmeet, het dié met baie nie te veel nie, en dié met ‘n bietjie nie te min gehad nie. Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak.

Soms is dit moeilik om te verstaan hoekom dinge so skeef loop in die lewe.

Toe ons president aankondig dat ons in ‘n grendelgreep moet ingaan het dit onwerklik gevoel, maar ons moes dit tog verwag het aangesien die tekens daar was dat dit sou plaasvind omdat ander lande dit reeds begin toegepas het.

Dit moes ‘n verskriklike debat gewees het in ons president se gedagtes omdat dit ‘n finansieële ineenstorting vir Suid-Afrika sou beteken. Ek is net dankaar dat hy so braaf was om die besluit te maak. Ek glo dat God hom op die regte pad lei as president in hierdie moeilike tyd.

Ek verstaan nie hoekom hierdie epidemie moes uitbreek nie maar ek glo dat God sy plan daarmee het. Die wêreldse dinge het belangriker geraak as familie, respek, eerlikheid, liefde en kwaliteit tyd saam God. Nou dat ek myself bevind in ‘n gedwonge afsondering saam met my jong gesin besef ek hoe vinning ‘n mens verby mekaar kan leef; hoe vinnig ons belangrike klein oomblikke kan mis en mekaar afskeep.

Hoe lanklaas het jy dalk met jou maat of kind of ouer in jul sitkamer gedans? Ons het gisteraand vir die eerste keer met die kinders gedans terwyl die televisie op die afrikaans musiekkanaal is. Hulle sit natuurlik op ons heupe aangesien hul jonger as vier is. Dit was so lekker gewees dat hul wou aanhou dans toe ek en my man al lankal moeg is. Hierdie oomblik sal ek nog lank onthou.

Ek lees meeste aande vir my oudste kind uit Die Struik-Kinderbybel (die een waaruit my ma vir my gelees het) en besef weer opnuut die belangrikheid van die verhaal van die Israeliete se redding uit Egipte se slawerny en die tyd in die Woestyn waar hul nooit honger gelei het nie – Eksodus 5-24.

Dit laat my weer besef dat ek soveel meer het as wat hul ooit gehad het – ek is niemand se slaaf nie; ek en my man betaal ons eie ruim huis af; ons albei het ‘n goeie werk; ons het twee wonderlike kinders; ons het nog ‘n hegte band met albei ons ouerpare en ons het die voorreg om gesond te wees, maar dan sal ek nogsteeds iets soek om oor te kla… Ai tog. Hier is waar God my herinner dat ek elke dag eerder dankie moet sê in plaas van na die sondige sy van menswees te gaan en kritiek of negatiwiteit uit te straal.

Mag hierdie tyd vir jou ook ‘n seën wees en ‘n tyd van vrede en geluk.