Jou hart en denke bepaal jou gedrag

Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorsprong van die lewe. Spreuke 4:23 Hoe maklik is dit nie om onsself te beledig of te vra of ons goed genoeg as mens is nie? Ek dink Jesus voel soms seergemaak met sulke denke wat ons kwyt kan raak, dink jy nie? Ek meen Hy kom aarde toe en beleef allerhande versoekings en mishandeling en dan word hy wreedaardig gekruisig om ons van onsself te red en ons draai om en vra of ons goed genoeg is? Jesus het kom bevestig wat God reeds weet! JY IS GOED GENOEG! Hy het jou lief bo alle verstand. Dis tyd dat ons bietjie aan ons gedagtes en ons hart werk om uit te pluis hoekom ons nie goed genoeg voel nie of wat dit is wat ons laat twyfel en ook struikel. Die duiwel is ‘n leuenaar! Hy kom en plant allerhande sade in jou gedagtes wat groei as jy dit vatkans gee. Kom ek gee ‘n voorbeeld: Jy voel afgeskeep deur jou man/vrou omdat hy/sy jou nie “raaksien” nie. Hy/sy komplimenteer jou nie, hy/sy help nie met huistake nie en is altyd moeg. Hy/sy vertel jou moontlik nie dat hy/sy opgestres is oor finansies en die uitmergelende druk wat hy/sy by die werk beleef nie en dan raak hy/sy depressief/opvlieënd en wanneer hy/sy by die huis kom wil hy/sy moontlik net ‘n klein bietjie rustigheid beleef. Jou kollega gee jou moontlik komplimente en oor ‘n tydperk raak jy geheg aan hom/haar en gaan eet selfs ‘n paar keer uit en verval dan in ‘n lewe van leuens en probeer kop bo water hou omdat jy kinders en ‘n man/vrou het vir wie jy baie lief het, maar jy voel dalk hulle is nie so lief vir jou nie (Die leuen wat die duiwel jou moontlik laat glo). In die eerste plek is dit beter om uit te vind wat dit is wat jou as mens ongelukkig maak en dan wat jou man/vrou aan jou doen of vir jou sê om jou ongelukkig te maak. Oop en eerlike kommunikasie is nie altyd maklik nie, maar dit is die beste medisyne vir enige verhouding en dit verhoed enige leuens wat onthou moet word. Gaan vandag en praat met Jesus en vertel Hom al die dinge wat jou pla en bid dat jy oop kaarte met jouself en jou man/vrou kan speel. Liefde en genade is ‘n geskenk van God. Hy gee dit onvoorwaardelik vir jou. Aanvaar dit net!

Jou Denke

Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen. – Spreuke 4:23 Hoe moeilik is dit nie om negatief te reageer nie? As ek dink hoe maklik dit is om negatief te dink of gou ‘n negatiewe opmerking oor iets te maak dan val dit my by hoe ons onsself so sleg kan laat voel. Ons maak onsself sommer slagoffers van dinge of mense, maar dan is die soms glad nie die geval nie. Dit vat ‘n doelbewuste besluit om hierdie negatiewe gedragspatroon in ‘n positiewe een te verander. Ek sukkel dikwels met dit, maar het darem die punt bereik waar ek tot die besef kom dat ek besig is om negatief te word en raas dan vinnig met myself om die positiewe dankbare hart te sien. Wanneer jy ‘n uitkyk op die lewe van dankbaarheid toepas besef jy hoe bevoorreg jy eintlik is en dat daar baie dinge is wat baie erger kon wees as die situasie waarin jy jouself bevind. Dankbare mense het my laat besef hoe gelukkig jy jouself elke dag kan maak. Jy moet op die goeie dinge in jou lewe fokus en dankbaar wees en met die negatiewe afreken sodat jy vrede kan vind. Ons bepaal werklik ons eie geluk en daar gebeur soms dinge wat uit ons beheer is en ons beleef seer en swaar tye, maar soms vergeet ons dat dit net tydelik is. Ons moet ten alle tye ons harte en gedagtes met die Here deel en Hom vra vir hul en ook dank wanneer ons dankbaar is. Gaan leef vandag voluit met ‘n dankbare hart.