God se wil

5“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 6Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. 7“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. 8Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. 9“So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; 10laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. 11Gee ons vandag ons daaglikse brood; 12en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; 13en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. 14“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. 15Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” Matteus 6:5-15 Daar is al soveel keer gevra: “wat is God se wil vir my lewe?”  Hoe meer ek lees hoe meer besef ek die antwoord is eintlik heel eenvoudig: om Hom te dien met hart en siel en verstand en sy Naam uit te leef sodat ander Hom kan leer ken! Ek kom tot die besef dat dit nie oor my alleen gaan nie, maar oor die mensdom as ‘n geheel. God het van die begin af gevra dat ons Hom loof en gehoorsaam.  Daar waar jy is kan jy ‘n finominale verskil in iemand se lewe maak om net te luister na daardie persoon en hom te help om die Here beter te leer ken of selfs daardie persoon te leer hoe om vir hom of haarself kos te kan maak.  Ons neem baie dinge as vanselfsprekend aan en besef nie altyd dat mense ‘n behoefte het aan geselskap of hulleself te probeer verbeter deur meer te leer hoe om eenvoudige dinge te doen nie. Ons neem aan dat hulle weet hoe om kos te maak of ‘n soom in te sit of om ‘n CV op te stel, maar het ons die tyd geneem om uit te vind of hulle al gewys is hoe om dit te doen?  Wanneer ons dan iets vir ander doen, moet ons dit nie doen vir aansien nie, maar uit opregte waardering vir die feit dat God ons vrygekoop het in hierdie sondige aardbol. Hy verwag van ons om steeds Sy naam uit te leef en ons doen dit deur dade van liefde vir ander. Ons harte moet opreg wees wanneer ons iets vir iemand anders doen anders kan jy dit netsowel los. God kyk na jou hart wanneer jy iets doen.  Gaan gee iemand wat jy nie so goed ken nie of selfs ‘n vreemdeling ‘n drukkie vandag. Daardie persoon het dit dalk broodnodig.