‘n “Barmhartige Samaritaan”
Lukas 10: 30-35
Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe ‘n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeaval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. Dit gebeur toe dat daar ‘n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. Net so het ‘n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. Maar ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na ‘n herberg toe geneem en hom daar verder versorg. Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’
Ek het Vrydag gereis en langs die pad gestop om my eenjarige se stoeltjie te stel omdat sy arme nek in spasma sou wees indien ek hom vir die res van die 230km trip so sou los. Ek is toe bewus van die feit dat ek ‘n groot kans waag hier langs die pad vrou alleen om “roadkill” te word. Ek stop toe juis so 100m van ‘n padblokade af wat ek sou mis met die afdraai na regs net om seker te maak as ek begin skree kan die polisie darem hoor en hopelik tot die redding haas.
Soos ek uitklim is daar baie voertuie wat die pad gebruik en ek was bewus van die wit voertuig wat toe voor my bakkie kom stop. So stuur die Here vir my ‘n Engel – ‘n man wat uitklim en my vra of ek ok is en of hy my kan help want hy hou nie daarvan dat ek alleen langs die pad is nie. Ek sê asseblief en baie dankie want ek sukkel om die karstoeltjie vorentoe te skuif sodat my seuntjie reg kan lê en slaap. So met ‘n bietjie sukkel kry hy toe die stoeltjie reg en ons kon weer ry. Dit het nou my dag gemaak! Ek het sommer baie dankie gesê en ook vir die Here omdat hy hom gestuur het want ek sou beslis nie die stoeltjie op my eie regkry nie.
Sou jy stop vir iemand anders langs die pad? Ek is deesdae so bewus van sulke pogings van kwaaddoeners om jou op dié manier te kaap dat ek nie sommer sal stop nie.
Ek was verbaas oor die feit dat hy met ‘n luukse motor ry en tog help. Ek is so gewoond dat trokdrywers, ouens in bakkies of minder luukse motors gewoonlik die mense is wat hulp aanbied. Ek het dit baie agtergekom toe ek nog ‘n verkoopsagent was. In daardie tyd het ek veiliger in die dag gevoel in ‘n industriële gebied wat meer gevaarlik was as ‘n luukse woonbuurt omdat ek gewoond daaraan was dat ‘n persoon in ‘n luukse motor dikwels die ander pad sal kyk en nie hul lewe in gevaar stel of betrokke wil raak nie. So word my denke weer vernuwe en moet ek besef dat die persoon die een is wat help en nie die besittings wat hy het nie.
Met ‘n dankbare hart kan ek bevestig dat die Here my steeds bewaar.