Jesus se heengaan is naby
Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Hom fluister, en hulle en die priesterhoofde het wagte gestuur om Hom gevange te neem. Jesus sê toe: “Nog net ‘n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek terug na Hom toe wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie.”
- Johannes 7:32-34
“My kinders, Ek is nog net ‘n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
- Johannes 13:33-35
Jesus maak dit duidelik aan sy dissipels dat Hy net ‘n vir ‘n rukkie by hulle gaan wees voor Hy hemel toe gaan. Sy dissipels weet dus hulle het nie meer baie tyd saam met hom nie en kan dus die beste van die saak maak. Dis hartverskeurend want hulle het hom so innig lief dat hulle dit nie wil aanvaar nie.
Ek leef elke dag met die wete dat dit vandag dalk iemand waarvoor ek lief is se laaste dag kan wees. Dis hartseer want die enigste sekerheid in die lewe is die dood, maar ons weet nie wanneer daardie dag aanbreek nie. So as jy lief is vir iemand hetsy familie, vriendskaplik of romanties wys dit vir daardie persoon. Ons almal wil graag weet dat ons waardeer word en dat iemand ons raaksien én ons liefhet.
Ek moet bieg: voor ek besef het dat daar mense is wat my onvoorwaardelik liefhet het ek rondgedwaal en baie verkeerde besluite gemaak. Ek het liefde op verkeerde plekke gesoek en myself en mense wat werklik lief was vir my seergemaak.
Die een ding wat ek vandag besef is dat Jesus die heeltyd by my was. Hy het in daardie donker verlore tyd vir my ‘n beste vriend gestuur wat my werklik bygestaan het en dit sonder dat ek dit besef het. Hy het my nooit veroordeel nie. Hy is eerlik met sy opinies en was elke dag teenwoordig. Dit het my lank gevat om te besef dat ek eintlik eers ‘n verhouding met myself en Jesus moes bou voor ek enigsins met iemand anders ‘n verhouding kan bou.
Ek is nogsteeds baie bevoorreg om my ouers en baie naastes lewend te sien. Ek besef wel dat ek een of ander tyd ‘n oproep met slegte nuus sal ontvang en dit mag my moontlik breek, maar ek besef ook dat ek dankbaar moet wees dat ek nogsteeds goeie herinneringe saam met hulle kan bou.
As jy vandag moet jammer sê of iemand moet laat weet dat jy vir hom of haar omgee doen dit!
Tyd gaan nie vir jou en my wag nie. Die beste tyd is nou!
Dank Jesus ook elke dag vir daardie mense in jou lewe wat jou innig lief het en vra Hom vir leiding wanneer jy moeilike besluite moet maak rakende mense wat jy moontlik op sy moet skuif om ‘n beter verhouding met Jesus te kweek.