Gawes

1 Petrus 4:7-11

Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid. Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien. As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.

Wat weet ons van Petrus, Jesus se dissipel? Wat dadelik by almal opkom is dat Petrus Jesus verraai het toe die haan kraai en dis wat ek ook onthou het maar toe raak ek kwaad vir myself want Petrus het net een fout gemaak en ons onthou dit maar vergeet dat hy die grootste ondersteuner van Jesus was en ook as martelaar gesterf het omdat hy so tê die eerste kerk gestig het om Jesus se naam te verheerlik!

Dit laat my terugdink aan ‘n prent wat ons in ons badkamer gehad met ‘n kat en ‘n pot spaghetti wat hy uitgegooi het waaronder staan: “when I do right no one remembers but when I do wrong nobody ever forgets”. Hoekom is ons so? Hoekom fokus ons op die foute in plaas van die wonderlike dade en persoonlikhede van mense? Ek klap myself soms – letterlik – om daai negatiewe siening te laat vaar. Ons is almal sondaars maar ons kan baie behulpsaam en gasvry teenoor mekaar wees. Daar was net een Mens op aarde wat perfek was en dit was Jesus ons verlosser. Ek en jy moet ons lot aanvaar as onperfek maar besef dat God ons liefhet ten spyte daarvan. Ons is komplekse wesens met emosies wat baie vinnig vlam kan vat.

Kom ons kyk gou na Petrus: Soos Piet Meiring skryf in sy boek: In die Voetspore van Jesus, was Petrus getrou aan sy aard as Gelileër: vinnig van humeur, impulsief, emosioneel, avontuurlustig – en lojaal tot die bitter einde. Hy was ‘n eerlike en dapper man en het sy hoogtepunte en laagtepunte van sy lewe opgeteken – die wonderlike dinge wat met hom gebeur het; die vernederings en tye wat Christus hom terreggewys het sowel as die skande van sy verloëning. Hy was inderdaad ‘n goeie leier en na Jesus se dood was hy die eerste wat sy naam begin verkondig het. Dit wys die lojale dapper man wat Petrus was waarvoor Jesus innig lief was ten spyte van al sy ander persoonlikheidstrekke wat hom dikwels in die sop laat beland het.

Ons moet onsself afvra watter gawes ons besit om Jesus en sy dienaars te dien. Nie een van ons is dieselfde nie en dit blyk ook duidelik in die twaalf dissipels wat Jesus uitgekies het. Elk verskillend maar vir elkeen was hy innig lief.

Is jy soos ‘n Petrus – ‘n dapper leier, Johannes – apostel van liefde, Jakobus – iemand wat bereid is om tweede viool te speel, Andreas – iemand wat ander na Jesus lei, Filippus – ‘n praktiese man, Tomas – sien en dan glo mens, Matteus – iemand wat sy tweede kans goed benut, Natanael – ‘n man sonder bedrog, Simon – ‘n vryheidsvegter, Jakobus – gewone mens wat ‘n verskil maak, Taddeus – die onbekende man met die belangrike vraag aan die nagmaaltafel, of Judas, die liefhebber van geld wat tot sy ondergang as verraaier lei?

Gebruik jou besonderse gawes om die Here te dien en sodoene jou naastes ook te dien.