Vadersdag 2020

Psalm 103:13

Soos ‘n Vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

My Vader bly altyd ons Here. My pappa of dadda is my pa.

Vandag herdenk ons ons Vader en pa’s. My pa sal sê elke dag is vadersdag en as ek mooi daaraan dink is dit die waarheid aangesien ek elke dag vir my Vader in die Hemel dankie sê vir die voorspoed en ook om hulp vra vir die teenspoed. Om ‘n volwaardige pa te wees beteken dat hy alles sal opgee om sy kinders en familie te beskerm.

Ek sal altyd na my pa opkyk en noem hom steeds pappa of dadda soos ek het toe ek drie jaar oud was. Wat ‘n wonderlike mens! Nou my pa, soos ek, is nie perfek nie maar hy is perfek vir my. Wanneer jy self ‘n ouer raak besef jy eers werklik hoe baie jou ouers vir jou gedoen het en wat dit verg om ‘n goeie ouer te wees. Dit is nie altyd maklik nie.

My pa: ‘n man wat die Here ken en my tweede held. Die eerste is natuurlik Jesus.

My pa: ‘n man wat nie skatte op aarde bymekaar nie; ‘n man wat nie omgee oor mense se opinies nie; ‘n man wat na sy familie omsien al verarm dit hom; ‘n man wat armes sal help waar hy kan; ‘n man wat vreemdes langs die pad sal help; ‘n man wat gewerk het vir alles wat hy besit; ‘n man wat opgekyk het na sy pa en sy waardes onthou.

My pa: ‘n man wat in sy voertuig geklim het om oor die 500km elke dag of tweede dag  vir amper twee maande af te lê om sy ma in die hospitaal elke dag te besoek net sodat sy nie alleen is nie – dit het beteken dat sy besigheid agteruit gaan en dat hy ook finansieël gaan sukkel maar dit was nie vir hom belangrik nie. Sy ma was die belangrikste fokus vir daardie tydperk en al moes hy lenings aangaan om haar te besoek sou hy dit steeds doen. Dit is my pa! Iemand wat my nooit sal weggooi nie! Iemand wat opdaag wanneer jy hom nodig het.

My pa: ‘n man waarvoor ek die grootste respek het; ‘n man wat vir my die kompas is vir opregtheid en liefde vir jou familie en medemens; ‘n man wat God dien en nie mense of opinies nie; ‘n man wat getrou is; ‘n man wat hardkoppig is maar steeds omgee; ‘n man wat ‘n inspirasie is – dit is my pa! – ‘n geskenk van ons Vader in die Hemel.