Moedersdag
1 Johannes 3:18
Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.
Vandag vier ons ons moeders, hetsy jou biologiese, aangetroude, aangenome of iemand wat as ‘n moederfiguur in jou lewe optree. My pa sê altyd elke dag is moedersdag en ek moet met hom saamstem, maar vandag vat ons die tyd en doen die moeite om dit spesiaal vir daardie moeder te wys.
Ek is bevoorreg om nog ‘n goeie verhouding met my ma te hê, en so ook met my skoonma. Daar is baie dae wat ek nie weet wat om te doen nie veral as dit by my kinders kom en dan tel ek my sel op en bel my mamma, want in my oë sal ek altyd haar dogter wees wat haar raad benodig en opsien na haar.
Om die voorreg gegun te word om ‘n ma te wees is soms maklik, maar daar is baie oomblikke wat ek wonder of ek die regte ding doen. Hierop het my ma gesê dat ek altyd my instink moet volg en weet jy dit is so waar. Ek probeer so min as moontlik myself blootstel aan negatiewe dinge in die media en nuus veral as dit kom by kinders. Daar is vreeslik baie negatiewe dinge wat gebeur en wat ek nooit ooit sal verstaan nie, maar daar is ook baie en selfs meer goeie dinge wat gebeur wat misgekyk word deur media.
Ek probeer elke dag met ‘n positiewe uitkyk my lewe vier en kan getuig dat ek baie gelukkiger is nadat ek die besluit geneem het om dit te doen.
Gaan vandag en sommer elke maand en bedank jou moederfiguur vir al die hare wat sy op haar tande moes hê om jou op die regte pad te hou en steeds te koester deur al die verkeerde besluite en stoutighede wat jy al aangevang het.
Tyd is kosbaar en soms hardloop dit vining uit so maak die beste van die tyd wat jy het met jou geliefdes.