Leiers

Miga 3:1-4 Ek het gesê: Luister, leiers van Jakob, regeerders van Israel! Weet julle nie wat reg is nie? Julle wat die goeie haat en die verkeerde liefhet, julle wat die mense se vel van hulle afskeur, die vleis van hulle bene af, wat my volk opeet asof hulle vleis is, hulle vel afstroop en hulle bene opkap, wat hulle opsny vir die kookpot, soos vleis vir die braaipan. Wanneer hulle tot die Here roep, sal Hy hulle nie antwoord nie, want hulle het baie verkeerd gehandel. Miga was ‘n profeet in die tyd van die Judese konings Jotam, Agas en Hiskia met ander woorde iewers in die tydperk tussen 742 en 696vC. Ons sit vandag in 2020 nadat  Jesus Christus gebore is. Ek is verstom oor die lang tydperk! Ek meen. Wanneer gaan ons leiers ooit leer? My kop verlaat my sommer van woede wanneer ek die verse hierbo weer lees! Ek meen dis soveel jaar later en nog niks het verander nie! Daar kom ‘n paar goeie leiers wat reg optree; sy land en nasie opbou en die beste vir hul doen en nie sy selfsigtige begeertes volg nie en dan net om die draai wag daar weer ‘n selfsugtige paar rowers. Dit lyk asof ons heeltyd op ‘n tuimeltrein is met die leiers wat volg. God maak dit duidelik in vers 4 dat Hy nie na sulke leiers sal luister as hulle hom roep nie. Daar wag ellende vir hulle en die land omdat hulle so verkeerd handel. Dis asof geskiedenis homself elke aantal jaar net weer herhaal – dis net die land en regeerdes se name wat verskil. Dit maak my eintllik hartseer. Kan ons nie besef dat ons reg moet handel nie? Dit bring my aan die anderkant ook hoop, want God slaap nie. Hy weet wat elkeen se plan is en Hy straf dié wat onregverdig handel. Ek glo van harte dat daar weer goeie leiers vir ons land sal kom om die korrupsie, selfsug, hebsug, moord en roof uit te roei al lyk dit op die oomblik of net die moontlikheid van so ‘n gedagte verregaande is. Ons moet nie God se krag onderskat nie. Hy sorg vir sy volk. Hy leer ons ook lesse as ons verkeerd handel en daarom moet ons streef om regverdig te leef. In Miga 6:8 lees ons: Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. God bly altyd getrou. Dis ons sondige natuur wat ons ontrou maak en dus ons eie ondergang bewerkstellig. Ons moet tot die besef kom dat geskiedenis homself voordurend sal herhaal, maar die verandering in optrede ten goede van goed of kwaad begin by onsself. Ek moet besluit of ek die goed gaan voed in my lewe. Ek onthou ek het lank terug ‘n storie gelees van ‘n seun wat ‘n wolf sien wat vol haat, woede, selgsug, jaloesie en hebsug is en dan ‘n ander een wat vol liefde, vrede, trou en regverdigheid is. Hy draai toe na sy pa en vra vir hom watter een die ander sal oorleef, waarop sy pa antwoord: die een wat jy kos gee. Dit laat my besef dat ek die goeie emosies moet voed en die slegte sondige moet laat sterf van die honger. Jy moet in beheer wees van jou keuses en moet onthou om God altyd te raadpleeg veral as die duiwel vatplek soek deur klein gedagtes wat hy soos ‘n slinkse verkoopsagent aan jou stel. Ek misluk nog baie! Gedagtes wat weghol so asof hulle kompeteer met Bolt by ‘n atletiekbyeenkoms. Ek moet myself telkemale stop en skree: “hey! Kom reg! Stop dit!” Ons het ‘n keuse om op onsself staat te maak of om op God te vertrou en steeds aan ‘n toekoms te bou in ons land. Ons moet aan hou om liefde te toon in ‘n liefdelose wêreld. Dis die Jesus manier van dinge doen.