Matteus 26:27-29 Toe neem Hy ‘n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. Ek sê vir julle: Van nou af sal ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.” Johannes 2:7-10 Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.” Hulle het dit tot bo toe volgemaak. Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.” Hulle het dit gedoen. Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom en sê vir hom: “’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.” Jesus se eerste wonderwerk wat Hy op aarde gedoen het was om water in wyn te verander. Met sy laaste maaltyd saam met sy dissipels vat Hy wyn en sê dit is sy bloed waardeur die verbond beseël word. Vir die eerste keer word my denke vernuwe met die eerste wonderwerk en die laaste keer wat Jesus ‘n feesmaal hou en die nagmaal instel. Dit sink nou eers in dat sy eerste wonderwerk ‘n groot rol sou speel in Sy en ook ons lewens omdat ons steeds die gebruik van nagmaal volg, maar nou kyk ek met ander oë na ‘n glas wyn. Dit raak nou vir my ‘n herinnering aan Jesus wat die wynmaker en Verlosser is. Dus moet ek altyd onthou dat ek so moet wyn drink dat ek nooit hoef op te hou nie, met ander woorde: moet nie myself vergryp of ‘n alkoholis word wat myself nie kan beheer en dan geforseer word om op te hou wyn drink nie. Ek kan nie die duiwel daardie vatplek gee om die herinnering van Jesus te verander in verslawing aan wyn nie. Jesus het wyn gemaak by die fees maar terselfdertyd het Hy ook ‘n herinnering gebring aan die feit dat Hy sy bloed giet om vir ons sondes te betaal en elke keer as ek daardie glas wyn geniet moet ek dit onthou.
Waarskuwing teen huigelary
Lukas 12:1-3 Die mense het intussen by die duisende saamgedrom en mekaar vertrap. Toe het Jesus begin praat en Hom in die eerste plek tot sy dissipels gerig: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is hulle huigelary. Daar is niks bedek wat nie onthul sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die daglig gehoor word; en wat julle agter geslote deure vir iemand in die oor gefluister het, sal van die dakke af uitgebasuin word.” DIE BYBEL IN PRAKTYK gee duidelik oor die bogenoemde as volg: Terwyl groot skares mense na Jesus kom luister het, het Hy sy dissipels teen huigelary gewaarsku. Dit beteken dat ‘n mens goed probeer voorkom terwyl jou hart in werklikheid ver van God af is. Die Fariseërs kon nie hulle gesinheid vir altyd wegsteek nie. Hulle selfsug sou soos suurdeeg meer word en hulle sou kort voor lank ontmasker word. Dan sou almal hulle kon sien soos wat hulle regtig was – selfsugtige bedrieërs, en nie toegewyde godsdienstige leiers nie. Ons moet sorg dat ons meer begaan is oor ons verhouding met God as oor hoe om mense met ‘n uiterlike godsdienstigheid te beїndruk. Ons verhouding met God kan selfs beteken dat ons teenkanting en spot sal moet verduur omdat ons vir Christus standpunt inneem. Hoe waar is bostaande nie vandag nog nie. Ons bly mens. Ons bly sondaars. Dis net ‘n goeie verhouding met ons Vader, Jesus en Heilige Gees wat ons van die sondige wêreld kan red. Dink maar terug in jou eie lewe hoe ander mense en hul huigelary jou pyn veroorsaak het òf hoe jy dalk die oorsaak was van iemand anders se pyn en erger nog jou eie pyn deur jou optrede. Dis ‘n seer wat jare later nog by jou sal bly. Dis maklik as iemand jou deur die gesig slaan en die swelling sak en oor ‘n maand is daar nie meer ‘n merk nie – jy vergeet dit maklik maar waaneer iemand emosionele skade aan jou rig dan raak jy selde van die pyn ontslae omdat jy elke nou en dan ‘n letsel van die pyn in jou lewe opmerk. Ons leef nie vandag in ‘n anderste wêreld as wat Jesus gelewe het nie – die tegnologie verskil net. Net soos Jesus en sy dissipels huigelary, politiekelary, uitbuiting, haat, geweld, moord en roof aanskou het, woed dit vandag steeds voort en die ergste van alles is dat Jesus deur een van sy geliefde vriende (Judas) verraai is – iets wat nog daagliks gebeur – en dit is die seerste seer – wanneer iemand wat na aan jou is jou verraai of emosionele leed aandoen hetsy deur ‘n geskinder, jaloesie, afguns of jou sleg maak by jou naastes deur leuens te vertel en net omdat hulle selfsugtig is of minderwaardig voel en die aansien of aandag wil kry. Ek weet ek is glad nie perfek nie en moed liefs nie nuus kyk of lees nie, want dan pleeg ek vinnig in my kop sonde – verwens mense, veroordeel mense en voel dikwels sekere mense sou beter af dood as lewend wees as gevolg van die pyn en lyding wat hul uitdeel maar ek is nie ‘n regter nie. God is uiteindelik die Regter wat sal oordeel. Dit begin by my en my verhouding met God. Ek kies om ‘n pad saam met Hom te loop en dus moet ek in Jesus se voetspore volg. Ek moet getrou bly aan die waarheid en eerlik wees in my doen en late. As jy nie eerlik kan wees nie, is jy ‘n leuenaar. Onthou wat Jesus in Lukas 12 aan sy dissipels sê. Dit geld vandag nog. Al vat dit 2 minute of selfs 400 jaar – die waarheid kom uit. Leef in so ‘n manier dat jy nooit hoef skaam te wees oor wat jy sê of doen nie. As iemand jou blatant vra of jy dit of dat gesê het moet jy sonder skaamte ‘n ja of nee antwoord kan gee. Doen wat Jesus sou doen en nie wat die huigelaar sou nie.