Eenheid – Efesiërs 4:1-8

Ek druk julle dit op die hart, ek wat ‘n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. Daar is net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon. Aan elkeen van ons is ‘n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. Daarom sê die skrif: “Toe Hy na die hoogte opgevaar het, het Hy krysgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.” As dit by geduld kom het ek iewers onder ‘n boom ver van die ry af gesit toe geduld uitgedeel is! My ongeduld, veral met mense is besig om ‘n klein bietjie te verbeter maar dit is nie maklik nie. Daar is soveel pyn en onenigheid in ons wêreld dat dit moeilik is om altyd beskeie, vriendelik en geduldig te wees en veral om mekaar te verdra, maar dis wat die Here van ons vra. Dink net as elkeen mekaar in ag neem en eerder luister en verstaan in plaas van kritiseer, veroordeel en skinder of mekaar sleg maak by ander hoe gelukkig die wêreld sou wees. Die duiwel is slinks met sy leuens. Ons moet leer om hom te sien vir wat hy is: leuenaar en weghardloop van dit. Ons moet onsself instel op die waarheid wat Jesus ons leer: geduld, liefde, meegevoel, eerlikheid en daarin streef om iemand se omstandighede te verstaan deur te luister na hul kant van die storie. As ons die moeite doen om verskillende mense en kulture te verstaan en hul te groet en na hul te luister en verstaan hoekom hulle doen wat hulle doen sal ons moontlik ‘n beter samelewing kan bou. Daar is soveel verskille, maar daar is ook ooreenkomste veral as hulle ook Jesus Christus as hul verlosser aanvaar het. Ons moet die gawes wat die Here ons gegee het gebruik om Jesus se Naam uit te leef en sodoende mense nader aan hom trek instede van wegjaag. Bly fokus op die waarhede wat Jesus kom wys het en saai dit. Soms is die kleinste gebaar soos om ‘n vreemdeling te groet, al wat nodig is om vrede te betoon. Daai persoon gaan dalk deur ‘n donker tyd en jou groet en glimlag is dalk al wat hy/sy op daardie oomblik nodig het.

Verhouding met Jesus

Johannes 3:35-36 Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom. Ons is uit genade gered van ons sondes. Ons het die geleentheid om ‘n fantastiese verhouding met Jesus te beleef maar soms maak ons allerhande ander planne instede om ‘n verhouding met Jesus te bou. Die duiwel is verskriklik goed om daarin te slaag om ons aandag af te trek en op iets anders te fokus. Gewoonlik deur ons natuurlike neiging om negatief oor iets te wees of te stres. Ek het onlangs na Andrew Wommack geluister. Hy het gepraat oor die ewige lewe en hoe ons die vreugde deur ‘n verhouding met Jesus te hê dikwels uitmis. Ek het weer opnuut begin dink oor die verlossing en om ’n verhouding met Jesus te kweek in plaas van ‘n verhouding met die wêreld en sy dinge. Dis maklik om negatief te wees; om te stres; om moed op te gee wanneer dinge skeef loop; om negatief te raak oor nuus en media – die lys is verskriklik lank, MAAR wanneer jy in ‘n verhouding met Jesus staan is daar iets anders wat in jou hart gebeur. Jy vind moed in ‘n moedelose wêreld. Jy weet jy kan met Jesus praat oor absoluut enigiets en hy gaan jou nie verwyt of slegsê nie. Hy wil jou liewer help en aanspoor om positief te wees en om jou negatiewe neigings te laat vaar en ook jouself te aanvaar. Jy is kosbaar. Jy beteken baie meer as wat jy dink. Hy het immers vir jou gesterf  – dis ware liefde – iemand wat sy lewe vir jou gee… Begin vandag jou verhouding met Jesus bo alles plaas. Die wêreld is baie deurmekaar en hierdie is alles tekens dat Sy koms baie naby is. Leef ‘n vreugdevolle Jesus lewe en draai jou rug op wêreldse vreugde wat inelkgeval net kort van duur is. Niks vul mens met vreugde soos liefde nie. Dis uiteraard die doel van die lewe. Bou verhoudings deur liefde en nie erkenning of guns nie.

Liefde vir Mekaar

1 Johannes 3:11-17 Dìt is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê. Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en het sy broer vermoor. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s’n reg. Broers, moenie verbaas wees as die wêreld julle haat nie. Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie. Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? Wie is ek? Ek is ‘n Godgeskape mens wat glo in die Vader, die Seun en die Heilige Gees; ‘n volger van Jesus. Ek kla soms dat ek nie dieselfde kos more wil eet nie. “Hallo! Hoe ondankbaar is jy nie! Jy het ten minste genoeg kos vir more! Daar is miljoene kinders wat weke sonder kos gaan!” raas ‘n harde stem in my kop met my. Ek kla soms omdat my maag nie meer gespierd is nie. “Verstaan jy dat jy ten minste ‘n goeie gesonde liggaam het? Dat jy meer as genoeg klere het om aan te trek? Dat jy ‘n huis met genoeg beddens en warm komberse het? Besef jy dat jy kla oor ‘n deel van jou liggaam wat jy kan oefen en wat bytendien perfek vir God is? Verstaan jy dat daar mense is wat nie eers arms of bene het nie?! Verstaan jy hoe ondankbaar jy op hierdie oomblik is?!” raas die stem weer. Soms besef ek nie eers hoe baie ek kla nie. Dis iets waaraan ek moet werk en ‘n gemoed van dankbaarheid moet aanneem want ek is baie geseënd en ten spyte van my ondankbare en dankbare gesindhede bly God steeds my kies. Hy bly steeds lief vir my net soos ek is. Ek dink nie ek weet wat dit is om iemand so onvoorwaardelik lief te hê nie. As ek met myself moes uitgaan het ek myself al lankal gelos oor my geite en verkeerde keuses van die verlede, maar nie God nie. Hy kies my steeds en meer as dit word sy eniggebore Seun gemartel omdat Hulle my liefhet. Hoekom kla ek dan so? Dis tyd dat ek minder deur my eie-ek lens na myself kyk en deur Jesus se oë na myself kyk. ‘n Kamermaat in die koshuis op skool sê eendag vir my: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself en jy moet jouself liefhê soos Jesus jou liefhet.” Dit is ware liefde. Dis ook tyd dat ons moet besef dat ons onsself nie beter as ander ag nie, maar ook nie fout soek met onsself en onsself minderwaardig ag nie, want dis hoe Jesus ons liefhet. Hoe kan ons ook verwag dat iemand anders ons moet liefhê as ons onsself nie liefhet nie? Ons is perfek in ons onperfektheid en moet dankbaar wees vir Sy genade en begin om sy voorbeeld te volg.