Dankbaarheid in ondankbare tye

Kolossense 3: 13-17 Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom. Ondankbaarheid kom heeltemal te maklik voor in ons samelewing. Ek self was al telkemale ondankbaar! Wanneer jy ongelukkig is besef jy nie eers hoe ondankbaar jou uitkyk op die lewe is nie. Dis iets wat baie vining iemand se lewe versuur. As ek maar net gou kyk hoe ek in die verlede sou kwaad wees omdat dit nou buite reën en ek moet werk en gaan heel waarskynlik siek word – ‘n ongelukkige werkende (hallo!! Jy het ‘n werk en daar is so baie mense wat nie ‘n werk kan kry nie!), maar nou sien ek die reën buite en is dankbaar omdat die gras besig was om te vrek so nou gaan dit weer mooi groei. Geen water kan ‘n tuin so mooi laat groei soos hemelse water nie! Ja ek sit nou wel met ‘n kleuter in die huis wat graag buite wil speel maar besef dat hy ook binne kan speel met die baie speelgoed wat hy het. Hy het baie meer spasie binnein die huis as wat meeste van sy ouderdomsgroep het. Soms moet mens dankbaarheid aanleer by ‘n kleuter. Die glans in sy oë as jy vir hom roomys inskep of net saam met hom speel. Hy is opgewonde as jy ‘n boks vat en vir hom ‘n dinosaurus daaruit knip en verf maar nog gelukkiger as hy op sy pa se rug kan perdtjie ry. Met dankbare oë begin ek die mooi van die lewe raaksien. Dis die eenvoudige dinge wat vreugde bring. In hierdie tyd waarin ons onsself bevind is dit soms moeilik om dankbaar te voel veral omdat my suster nou swanger is en in ‘n ander land is en ons nie met die bevalling vir haar kan gaan kuier nie. Dis ‘n bitter pil om te sluk veral vir my ouers, maar die dankbaarheid kom weer terug wanneer ek besef dat sy omring is deur haar skoonfamilie wat baie goed vir haar is; die feit dat ons gesin so lief vir mekaar is dat ons graag by haar wil wees; die voorreg om nogsteeds fantastiese ouers hier te hê en dat ons mekaar kan “video call”. Om met ‘n dankbare hart na die lewe te kyk bring nuwe positiewe denke teweeg. Ons moet bewus word van al die klein dinge waarvoor ons dankie moet sê en besef dat dit die lewe plesierig maak. As jy gesond is, ‘n liefdevolle familie het en ‘n warm bed in ‘n twee- of drieslaapkamer huis is jy baie geseënd en moet jy dankie sê! Jy het meer as die meerderheid van mense op aarde!