Onsekerheid

Hebreërs 13: 1-6 As broers moet julle mekaar altyd liefhê. Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word. Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom. Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?” Ons bevind onsself steeds in grendeltyd en weet nie wanneer dit heeltemal opgehef gaan word nie. Dit voel steeds of ek in ‘n droom vasgevang is en iemand my nog met ‘n vrot vis gaan wakker klap! Die Hebreërs skryfer noem dat ons aan die gevangenes moet dink asof ons ook gevangenes is… en siedaar! Ons is darem in ons eie huis vasgevang maar steeds – hier sit meeste van ons nou – geen strand op ‘n lekker somersdag nie – geen ontbyt en koffie by ons gunsteling “breaki”-plek nie. Ons moet onsself vry van geldgierigheid hou en tevrede wees met wat ons het. Soms sit ons die pot helemal mis! Waar trek mens die lyn tussen geldgierigheid en genoeg geld om gemaklik te lewe? Met die grendeltyd sien ons reeds hoe ons salaris wegkwyn en werksverliese toeneem – een tree vorentoe en 3 treë terug, maar hierdie treë is nie ‘n sokkie langarm nie. Wanneer God sê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” moet ons dit begin glo. Wanneer dinge deurmekaar getuimel word en jy voel soos ‘n skaap wat deur ‘n jakkals gejaag is en so paar keer oor klippe geval het; weer opgevlieg het; tussen ander skape ingeduik en jou voortande uitgeskop is, moet ons begin bid dat ons Herder ons sal optel en weer ons angstige hartklop rustig sal maak. Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan. Soms voel dit asof jy alleen is in ‘n wêreld wat so selfsigtig is, maar is ons werklik so onselfsigtig soos ons onsself voordoen? Is daar nie oomblikke wat selfsig jou ook oorweldig en jy tog ander ook te na kom nie? Ons wys maklik vinger na ander maar vergeet dat daar 3 vingers terug wys. Dis in hierdie oomblikke wat ons met die Here moet praat. Wanneer ek lees: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?” raak ek skaam omdat ek gedurig twyfel. Ek raak baie keer bang en dan bid ek en vra ek vir die Here om ons te beskerm en Hy doen dit. My suster se woonstelmaat het eenkeer gesê: “FEAR: False Evidence Appearing Real” en ek probeer dit onthou in hierdie tyd waarin ons onself bevind waar daar baie onderdrukking is; fopnuus die dag open om ons bloeddruk verby die osoonlaag te stoot; are te vernou; angstigheid aan te vuur en uiteindelik ons hart tot stillstand te ruk en vir wat? Omdat ek dit toegelaat het om myself so te onstel! Jaag ons dalk nie te gou spoke op nie? Ons gedagtes hol verward in alle windrigtings en dan het dit waaroor ons so bekommerd is nog nie eers ‘n voet in ons rigting gesit nie. Ons raak bang en vergeet dat ons eintlik net geloof moet hê. God belowe jou nie dat jou lewe perfek en sonder moeilike besluite en paaie sal wees nie maar Hy belowe dat Hy saam met jou op die reis sal wees en jou sal bewaar. Ek wens ek kon glo soos my pa. Hy is volwaar ‘n hardnekkige Afrikaner, maar terselfdertyd ‘n dienaar van God. Hy maak my baie kwaad as hy in die nag opstaan en sonder ‘n wapen net so in sy slaapklere die land inloop om te gaan kyk vir wat die honde blaf, maar terselfdertyd bewonder ek hom omdat hy geen mens vrees nie. Hy glo die Here behoed en bewaar hom en sê dikwels: “jou tyd is jou tyd.” Wanneer angstigheid jou in ‘n doodskis wil druk, bid en vertrou en sien hoe rustigheid jou omvou.