Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Hom fluister, en hulle en die priesterhoofde het wagte gestuur om Hom gevange te neem. Jesus sê toe: “Nog net ‘n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek terug na Hom toe wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie.” Johannes 7:32-34 “My kinders, Ek is nog net ‘n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” Johannes 13:33-35 Jesus maak dit duidelik aan sy dissipels dat Hy net ‘n vir ‘n rukkie by hulle gaan wees voor Hy hemel toe gaan. Sy dissipels weet dus hulle het nie meer baie tyd saam met hom nie en kan dus die beste van die saak maak. Dis hartverskeurend want hulle het hom so innig lief dat hulle dit nie wil aanvaar nie. Ek leef elke dag met die wete dat dit vandag dalk iemand waarvoor ek lief is se laaste dag kan wees. Dis hartseer want die enigste sekerheid in die lewe is die dood, maar ons weet nie wanneer daardie dag aanbreek nie. So as jy lief is vir iemand hetsy familie, vriendskaplik of romanties wys dit vir daardie persoon. Ons almal wil graag weet dat ons waardeer word en dat iemand ons raaksien én ons liefhet. Ek moet bieg: voor ek besef het dat daar mense is wat my onvoorwaardelik liefhet het ek rondgedwaal en baie verkeerde besluite gemaak. Ek het liefde op verkeerde plekke gesoek en myself en mense wat werklik lief was vir my seergemaak. Die een ding wat ek vandag besef is dat Jesus die heeltyd by my was. Hy het in daardie donker verlore tyd vir my ‘n beste vriend gestuur wat my werklik bygestaan het en dit sonder dat ek dit besef het. Hy het my nooit veroordeel nie. Hy is eerlik met sy opinies en was elke dag teenwoordig. Dit het my lank gevat om te besef dat ek eintlik eers ‘n verhouding met myself en Jesus moes bou voor ek enigsins met iemand anders ‘n verhouding kan bou. Ek is nogsteeds baie bevoorreg om my ouers en baie naastes lewend te sien. Ek besef wel dat ek een of ander tyd ‘n oproep met slegte nuus sal ontvang en dit mag my moontlik breek, maar ek besef ook dat ek dankbaar moet wees dat ek nogsteeds goeie herinneringe saam met hulle kan bou. As jy vandag moet jammer sê of iemand moet laat weet dat jy vir hom of haar omgee doen dit! Tyd gaan nie vir jou en my wag nie. Die beste tyd is nou! Dank Jesus ook elke dag vir daardie mense in jou lewe wat jou innig lief het en vra Hom vir leiding wanneer jy moeilike besluite moet maak rakende mense wat jy moontlik op sy moet skuif om ‘n beter verhouding met Jesus te kweek.
Verhouding met Jesus
Johannes 3:35-36 Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom. Ons is uit genade gered van ons sondes. Ons het die geleentheid om ‘n fantastiese verhouding met Jesus te beleef maar soms maak ons allerhande ander planne instede om ‘n verhouding met Jesus te bou. Die duiwel is verskriklik goed om daarin te slaag om ons aandag af te trek en op iets anders te fokus. Gewoonlik deur ons natuurlike neiging om negatief oor iets te wees of te stres. Ek het onlangs na Andrew Wommack geluister. Hy het gepraat oor die ewige lewe en hoe ons die vreugde deur ‘n verhouding met Jesus te hê dikwels uitmis. Ek het weer opnuut begin dink oor die verlossing en om ’n verhouding met Jesus te kweek in plaas van ‘n verhouding met die wêreld en sy dinge. Dis maklik om negatief te wees; om te stres; om moed op te gee wanneer dinge skeef loop; om negatief te raak oor nuus en media – die lys is verskriklik lank, MAAR wanneer jy in ‘n verhouding met Jesus staan is daar iets anders wat in jou hart gebeur. Jy vind moed in ‘n moedelose wêreld. Jy weet jy kan met Jesus praat oor absoluut enigiets en hy gaan jou nie verwyt of slegsê nie. Hy wil jou liewer help en aanspoor om positief te wees en om jou negatiewe neigings te laat vaar en ook jouself te aanvaar. Jy is kosbaar. Jy beteken baie meer as wat jy dink. Hy het immers vir jou gesterf – dis ware liefde – iemand wat sy lewe vir jou gee… Begin vandag jou verhouding met Jesus bo alles plaas. Die wêreld is baie deurmekaar en hierdie is alles tekens dat Sy koms baie naby is. Leef ‘n vreugdevolle Jesus lewe en draai jou rug op wêreldse vreugde wat inelkgeval net kort van duur is. Niks vul mens met vreugde soos liefde nie. Dis uiteraard die doel van die lewe. Bou verhoudings deur liefde en nie erkenning of guns nie.
Liefde vir Mekaar
1 Johannes 3:11-17 Dìt is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê. Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en het sy broer vermoor. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s’n reg. Broers, moenie verbaas wees as die wêreld julle haat nie. Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie. Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? Wie is ek? Ek is ‘n Godgeskape mens wat glo in die Vader, die Seun en die Heilige Gees; ‘n volger van Jesus. Ek kla soms dat ek nie dieselfde kos more wil eet nie. “Hallo! Hoe ondankbaar is jy nie! Jy het ten minste genoeg kos vir more! Daar is miljoene kinders wat weke sonder kos gaan!” raas ‘n harde stem in my kop met my. Ek kla soms omdat my maag nie meer gespierd is nie. “Verstaan jy dat jy ten minste ‘n goeie gesonde liggaam het? Dat jy meer as genoeg klere het om aan te trek? Dat jy ‘n huis met genoeg beddens en warm komberse het? Besef jy dat jy kla oor ‘n deel van jou liggaam wat jy kan oefen en wat bytendien perfek vir God is? Verstaan jy dat daar mense is wat nie eers arms of bene het nie?! Verstaan jy hoe ondankbaar jy op hierdie oomblik is?!” raas die stem weer. Soms besef ek nie eers hoe baie ek kla nie. Dis iets waaraan ek moet werk en ‘n gemoed van dankbaarheid moet aanneem want ek is baie geseënd en ten spyte van my ondankbare en dankbare gesindhede bly God steeds my kies. Hy bly steeds lief vir my net soos ek is. Ek dink nie ek weet wat dit is om iemand so onvoorwaardelik lief te hê nie. As ek met myself moes uitgaan het ek myself al lankal gelos oor my geite en verkeerde keuses van die verlede, maar nie God nie. Hy kies my steeds en meer as dit word sy eniggebore Seun gemartel omdat Hulle my liefhet. Hoekom kla ek dan so? Dis tyd dat ek minder deur my eie-ek lens na myself kyk en deur Jesus se oë na myself kyk. ‘n Kamermaat in die koshuis op skool sê eendag vir my: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself en jy moet jouself liefhê soos Jesus jou liefhet.” Dit is ware liefde. Dis ook tyd dat ons moet besef dat ons onsself nie beter as ander ag nie, maar ook nie fout soek met onsself en onsself minderwaardig ag nie, want dis hoe Jesus ons liefhet. Hoe kan ons ook verwag dat iemand anders ons moet liefhê as ons onsself nie liefhet nie? Ons is perfek in ons onperfektheid en moet dankbaar wees vir Sy genade en begin om sy voorbeeld te volg.