Johannes – Die apostel van Liefde
Werklike liefde is dìt: nie die liefde wat God vir ons het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.
- Johannes 4:10-12
Johannes was een van Jesus se geliefkoosde dissipels ten spyte van die feit dat hy Jesus gevra het dat hy en sy broer Jakobus aan sy linker- en regterhand sit wanneer hulle hemel toe gaan. Dit het Jesus kwaad gemaak omdat hulle onmin tussen die ander dissipels veroorsaak het. Jesus het Johannes gou daarop gelet dat net God kies wie hy waar in Sy koningkryk sit.
Johannes was ook ‘n geharde man omdat hy ‘n visserman was. Hy het vinnig sy humeur verloor en dikwels mense veroordeel omdat hy nie met hulle besluite saamgestem het of nie deel van hulle volk was nie. Jesus het hom vinnig tereggewys wanneer hy so opgetree het en hom tot die besef gebring dat elkeen wat Jesus en die Here saam aanbid ‘n volgeling is en dat Hy hulle liefhet.
Dit was ‘n bitter pil om te sluk, maar Johannes het uiteindelik tot die besef gekom dat Jesus liefde is en dat sy volgelinge mekaar moet liefhê, maar meer as dit dat ons almal mekaar moet liefhê ten spyte van ons verskille omdat die Here ons almal liefhet.
In vandag se lewe is dit so maklik om soos Johannes te voel dat jy beter verdien as die ander in jou kring omdat jy jouself as beter sien, maar in God se oë is ons almal wat Hom dien ewe belangrik. Ons moet dus mekaar ophelp en saamstaan instede daarvan dat ons onmin saai.
Help die week iemand liefde sien. Die kleinste gebaar soos ‘n glimlag of hello vir ‘n vreemdeling kan daardie persoon se dag opkikker.
God is liefde en daarom moet ons ook liefde uitstraal.